Die Apostoliese Belydenis
Die Apostoliese Belydenis se plek in die Patrologie
deur prof. Gerrit Smit
Dit lyk moontlik vreemd dat die Apostoliese Belydenis hier onder die kerkvaders se werke ingesluit word? Maar, na regte is die Apotoliese Belydenis een van die vroeë kerk se belydenisse oor die leer van die Bybel wat reeds ten minste teen die einde van die derde eeu na Christus redelik bekend was in die vroeë kerk.
Die Apostoliese Belydenis (Symbolum Apostolicum) is ‘n kort opsomming van die basiese leerstellinge van die vroeg-Christelike kerke. Dit kan selfs beskou word as een van die vroegste beknopte teologieë van die kerk. Teen die sesde eeu was die Apostoliese Belydenis reeds in sy huidige vorm in gebruik in Spanje, Gallië, Ierland en Duitsland, hoewel die belydenis self al baie vroeër in die kerk voorgekom het.
Rufinus het alreeds teen die einde van die vierde eeu ‘n kommentaar op die “Apostels se simbole” (wat verwys na die Apostoliese Belydenis) geskryf, wat bewys dat dié belydenis toe reeds so bekend moes wees. Dit was Rufinus wat die bekende tradisie gevestig het dat die 12 apostels na uitstorting van die Heilige Gees, ooreengekom het om elkeen een belangrike aspek van die Christelike geloof aan hulle leerlinge te leer en dit as basis van hulle prediking te behou. Teen die sesde eeu was die opvatting dat elkeen van die 12 apostels een van die bekende artikels oorgelewer het aan die kerk, algemeen aanvaar. Hierdie opvatting oor die herkoms van die Apostoliese Belydenis het deur die Middeleeue heen stand gehou. Om dié rede was daar redelike groot ontevredenheid onder kerke toe Markus Eugenicus in 1438 verklaar het dat die Oosterse (Griekse) kerke niks weet van die Apostoliese Belydenis en sy herkoms nie.
Die Apostoliese herkoms van die 12 artikels was ‘n onderwerp van verskeie ondersoeke deur die loop van die jare, maar daar bestaan by gelowiges vandag geen twyfel dat die Apostoliese Belydenis dateer uit die era van die apostels nie en daarom as algemene belydenis deur die Christelike kerke aanvaar word.
Deur die loop van die eeue was die Apostoliese Belydenis nou verwant aan die belydenis wat bekeerde dopelinge afgelê het voordat hulle gedoop is deur die kerk. Van hulle is gewoonlik verwag om die basiese Christologiese belydenis: “Jesus Christus is die Seun van God, die Verlosser”, oftewel ΙΧΘΥΣ in die openbaar te bely voor hulle gedoop kon word. Volgens oorlewering in die vroeg-Christelike kerk het hierdie Christologiese belydenis die basis gevorm vir wat ons later sou leer ken as die Apostoliese Belydenis.
Teen 150 n.C. skryf Justinus die martelaar, dat die dopelinge tesame met die Christologiese belydenis ook belydenis oor God as die Vader van die skepping en die godheid van die Heilige Gees as trinitariese belydenis moes bely. Hieruit word die basiese leer van die Apostoliese Belydenis aangaande God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees vasgestel as reeds gevestig teen die tweede eeu.
In sy oorspronklike vorm het dié belydenis in Grieks soos volg gelui:
Oor God die Vader
Πιστεύω εις Θεον Πατερα, παντοκράτορα, ποιητην ουρανου και γης.
Ek glo in God, Vader, Almagtige, Skepper van hemel en aarde.
Oor God die Seun
Και (εις) Ιησουν Χριστον, υίον αυτου τον μονογενη, τον κύριον ήμων, τον συλληφθέντα εκ πνεύματος άγίου, γεννηθέντα εκ Μαρίας της παρθένου, παθόντα επι Ποντίου Πιλάτου, σταυρωθέντα, θανόντα, και ταφέντα, κατελθόντα εις τα κατώτατα, τη τρίτη ημέρα αναστάντα απο των νεκρων, ανελθόντα εις τους ουρανούς, καθεζόμενον εν δεξια θεου πατρος παντο δυνάμου, εκειθεν ερχόμενον κρϊναι ζωντας και νεκρούς.
En (in) Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here; wat ontvang is (van)uit die Heilige Gees; gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus; gekruisig is, gesterf het, en begrawe is; en neergedaal het na benede (die hel); wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel, en gaan sit het aan die regterhand van God, die Vader wat mag het oor alles; vandaar sal Hy kom om te oordeel oor die lewendes en die dooies.
Oor God die Heilige Gees
Πιστεύω εις το Πνευμα το Αγιον, αγίαν καθολικην εκκλησίαν, αγίων κοινωνίαν, άφεσιν αμαρτιων, σαρκος ανάστασιν, ξωήν αιώνιον. Αμήν.
Ek glo in die Heilige Gees; die heilige katolieke kerk; gemeenskap van die heiliges; vergewing van sonde(s), ‘n liggaamlike opstanding; (en) ‘n ewige lewe. Amen.