Verskille tussen die Hebreeuse en Griekse tekste van die boek Ester
`Verskille tussen die Hebreeuse en Griekse weergawes van die boek Ester
Prof. GDS Smit
Dwarsdeur die kerkgeskiedenis was daar twee bekende weergawes van die boek Ester in gebruik. Die een is die weergawe waarmee óns baie bekend is, naamlik die Hebreeuse weergawe (Masoretiese teks), wat in Bybelvertalings in Protestantse kringe voorkom en wat die oorspronklike weergawe van Ester verteenwoordig. Die ander een is die Griekse weergawe (Septuagint-teks) wat vroeg reeds as teks onder die Jode ná die ballingskap voorgekom het en wat ook deur baie gelowiges deur die eeue heen gelees is.
Verskil in inhoud
Die Griekse teks van die boek Ester verskil in ‘n aantal opsigte van die Hebreeuse weergawe van dieselfde verhaal. Die opvallendste verskil is die Griekse weergawe se byvoeging van ses dele wat nie in die Hebreeuse teks voorkom nie. Dit sluit in: die verhaal van ‘n droom wat Mórdegai gehad het (1:1a-r) en die uitleg daarvan (10:3a-l); twee koninklike briewe in die vorm van edikte/koninklike bevele (3:13a-g; 8:12a-x); gebede van Mórdegai en Ester (4:17a-i en 4:17k-z) en die verhaal van Ester se onaangekondigde besoek aan Artaxerxes (die Griekse naam vir Ahasvéros; 5:1a-f).
Verskil in die gebruik van God se Naam
‘n Tweede groot verskil met die Hebreeuse teks lê in die toevoeging van ‘n teologiese element in die verhaal. In die Hebreeuse weergawe van Ester verskyn God se Naam glad nie, ten minste nie eksplisiet nie, terwyl sy Naam in die Griekse teks oral voorkom. Hierdie “teologiese element”, met die tema: “God gee om vir sy volk”, is baie opvallend in die toevoegings wat in die Septuagint-teks gevind word.
Dit is nogal ’n goeie vraag waarom ’n Bybelboek soos Ester, wat ongetwyfeld handel oor die voorsienigheid van God in tye van beproewing en hoe Hy vir sy volk sorg, in die Hebreeuse weergawe nie sy Naam bevat nie? Daar is diegene wat meen dat Ester as een van die wysheidsgeskrifte van die Ou Testament saam met Spreuke, Hooglied, Prediker en Job gelees moet word. Ester bevat dus nie die Naam van God nie omdat hierdie Joodse wysheidsgeskrifte oor die algemeen nie baie verwysings na sy Naam het nie. Ons staan net vir ’n oomblik hierby stil, want in die Hebreeuse teks van Hooglied kom God se Naam ook nie voor nie. Daar is wel een verwysing na sy Naam in Hooglied 8:6 (1953-vertaling) waar staan: Dra my soos ‘n seëlring op u hart, soos ‘n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is ‘n gloed van vuur, ‘n vlam van die HERE. Hierteenoor vertaal die King James-vertaling die Hebreeus wel direk en soos volg: Set me as a seal upon thine heart, as a seal upon thine arm: for love is strong as death; jealousy is cruel as the grave: the coals thereof are coals of fire, which hath a most vehement flame.
By die tekskritiese opmerkings van die Hebreeuse Bybel (die Biblia Hebraica Stuttgartensia) is ‘n opmerking dat die teks gelees moet word as: šhalhebot-Jach, wat vertaal kan word met “‘n vlam van Jahwe” (die HERE). Die Nederlandse Statevertaling se teks asook die tekskritiese opmerking in die Hebreeuse Bybel is dus in die 1953-vertaling gevolg sodat God se Naam wel een maal in die Afrikaanse vertaling van Hooglied voorkom, ten spyte daarvan dat sy Naam nie in die Hebreeuse teks staan nie. Tog sou geen gelowige twyfel dat God die een is wat die liefde tussen ’n man en vrou aanwakker nie. In dieselfde sin kan Ester ook nie anders gelees word as ’n verhaal van God se betrokkenheid in die geskiedenis van sy volk in die Ou Testament nie, al kom sy Naam nie in die Hebreeuse teks voor nie.
Verskil in datering
Daar is nie vandag eenstemmigheid oor presies wanneer die boek Ester geskryf is nie. Sommige reken dat die Septuagint-weergawe ’n duideliker idee gee van die tydperk waarin die gebeure afgespeel het. Die boek word gewoonlik geplaas rondom die tydperk van die einde van die Persiese Ryk en die begin van die Griekse Ryk (4de tot 3de eeu v.C.). ’n Interessante toevoeging tot die Septuagint-teks is die slot van die boek wat meer direkte inligting gee oor die tydperk waarin Ester afspeel, te wete aan die begin van die regeringstyd van Ptolemeus en Cleopatra. In Ester 10:3l van die Septuagint-weergawe lees ons die volgende: Tydens die vierde regeringsjaar van Ptolemeus en Cleopatra het Dositeus, wat gesê het dat hy ‘n priester en Leviet was, en sy seun Ptolemeus die voorafgaande brief oor die Purim onder die aandag gebring. Hulle het gesê dat dit eg was en dat Lisimagus, die seun van Ptolemeus, ‘n inwoner van Jerusalem, dit vertaal het (2020-vertaling met deuterokanonieke boeke). Hierdie Ptolemeus is waarskynlik Ptolemeus VIII wat oor die Griekssprekende wêreld regeer het rondom die tydperk 114 voor Christus. Die Griekse weergawe van Ester sinspeel dus dat die gebeure later plaasgevind het as wat in die Hebreeuse teks bedoel word.
Dit sou nie die inhoud van die boek veel beïnvloed as ons nie die presiese datum kon vasstel nie. Dit blyk egter dat die vroeër datum (4de tot 3de eeu v.C.) volgens die Hebreeuse weergawe van Ester meer pas in die omstandighede waarin die Joodse volk hulle onder die regeringstyd van die Persiese Ryk bevind het en nie in die tyd van die Griekse bewind nie.
Verskil in hoof- en bykarakters
Volgens die Hebreeuse weergawe van die boek is Ester die hoofkarakter en ander karakters, soos Mórdegai, Haman, Vasti en Ahasvéros word net terloops genoem, of hulle vertolk die rol van by- of newekarakters. In die Septuagint-weergawe is God egter die Hoofkarakter en al die ander persone in die verhaal, insluitend Ester, vertolk die rol van bykarakters.
Die twee belangrike persone in die boek, naamlik Ester en Mórdegai, word geskets aan die hand van God se regstreekse handelinge in hul omstandighede. Ons kan byvoorbeeld let op die byvoeging in die Septuagint-teks van die droom wat Mórdegai gehad het: Twee groot drake is gereed om te veg en by die aanhoor van hul gebrul, maak al die nasies gereed om die volk van God te vernietig. Toe roep God se volk Hom aan en God beskik ‘n klein waterstroompie wat ‘n magtige rivier word wat die drake en die nasies verslind en God se volk verlos. Die droom word voorgehou as God se waarskuwing aan Mórdegai en Ester om op hul hoede te wees vir die bose planne van dié wat God en sy volk haat.
Beide Mórdegai en Ester betrek God die hele tyd by hul optrede en besluite, soos blyk uit die gebede van Mórdegai (4:17a-i) en Ester (4:17k-z). Kyk byvoorbeeld na die gebed van Mórdegai in Ester 4:17b: Here, Here, Koning wat oor alles heers! Die ganse skepping is in u mag en daar is niemand wat U kan teenstaan wanneer U Israel wil red nie, en ook na dié van Ester in 4:17l : My Here, ons Koning, U is die enigste Een. Help my waar ek alleen is en geen hulp behalwe U het nie, want ek onderneem ’n waagstuk (2020-vertaling met deuterokanonieke boeke).
Samevatting
Die boek Ester laat ons sien dat verlossing nie deur mense bewerk word nie, maar dat dit inderwaarheid alleen die ontplooiing van God se raadsplan is. Dit is Hy wat nasies plant en uitroei soos Hy wil, wat konings aanstel en van die troon afstoot volgens sy wil en wat sy kinders bewaar, ten spyte van die helse woede. Die Griekse Septuagint-weergawe van Ester gee vir ons ‘n baie duidelike indruk Wie die handelende Persoon in die geskiedenis van die mensdom is, terwyl hierdie heilsfeit in die Hebreeuse weergawe bedoel word, maar nie letterlik uitgespel is nie.