Wat is die Skrifbeskouing van die AP Kerk?

Wat glo en bely die AP Kerkverband betreffende die heilige Skrif?

prof. Gerrit Smit

Art. 7 van die NGB: “Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkomelik bevat en dat alles wat die mens moet glo tot saligheid, daarin genoegsaam geleer word.”

Algemene en besondere openbaring

Volgens die Gereformeerde Skrifbeskouing openbaar God Homself op twee maniere aan ons, nl. in die natuur (algemene openbaring) en in die Skriftuur (besondere openbaring).  Die mens leer God dus in die natuur ken, maar hierdie openbaring is nie genoeg om hom tot geloof in God te bring nie, daarvoor is die Woord van God nodig.  Art. 2 van die NGB stel dit duidelik: “Ten tweede maak Hy Homself aan ons nog duideliker en meer volkome bekend deur sy heilige en Goddelike Woord, soveel naamlik as wat ons nodig het in hierdie lewe, tot sy eer en die saligheid van wie aan Hom behoort.”

Gesag en onfeilbaarheid van die Skrif

Op grond waarvan aanvaar die AP Kerkverband die heilige Skrif as die Woord van God?
Volgens art. 3 van die NGB: “Ons bely dat hierdie Woord van God nie gestuur of voortgebring is deur die wil van ’n mens nie, maar die heilige mense van God, deur die Gees gedrywe, het dit gespreek, soos die heilige Petrus sê. Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid, sy knegte, die profete en apostels beveel om sy geopenbaarde woord op skrif te stel; en Hy het self met sy vinger die twee tafels van die Wet geskrywe. Om dié rede noem ons sulke geskrifte: Heilige en Goddelike geskrifte.” (Vgl. 2 Tim. 3:16 en 2 Petr. 1: 21.)

Hoe het die Heilige Skrif  dan tot stand gekom?
Deur die ‘inspirasie’ van die Skrif, waaronder verstaan word: onder Goddelike beskikking, deur die inwerking van die Heilige Gees. God self het gespreek, en mense gebruik om sy Woord te laat opteken.

Watter gesag word aan die Heilige Skrif toegeken?
Goddelike gesag, aangesien dit die Woord van God is. Daarmee word bedoel dat geen groter gesag nie as dié van die Skrif aanvaar word, om te weet wát en in Wié geglo moet word, en hoe die kerk ingerig moet word na die eis van gehoorsaamheid.

Wat word onder die onfeilbaarheid van die Heilige Skrif verstaan?
In sy geheel en in al sy dele is die Skrif betroubaar en gesagvol, waar en geldend vir alle tye en omstandighede. Daarom word ’n kontekstuele inleg tot die Woord, as sou dit slegs binne sy kultuur-historiese konteks van krag wees, verwerp.

Wat word derhalwe deur die AP Kerkverband as die Woord van God aanvaar?
Volgens art. 4 van die NGB bely ons: “Ons vat die heilige Skrif saam in twee boeke, dié van die Ou en dié van die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waar niks teen gesê kan word nie. Hul getal in die kerk van God is as volg …” Hierop volg die name van die 39 boeke van die Ou Testament en die 27 boeke van die Nuwe Testament van die Bybel, wat oor al die eeue heen deur die kerke van Gereformeerde belydenis gehandhaaf word.

Eienskappe van die heilige Skrif 

Gesagvol
Die heilige Skrif bevat God se volkome openbaring, waaruit ons sy volmaakte wil vir ons lewens leer ken. Die Skrif beskik dus oor Goddelike gesag, terwyl die belydenisskrifte oor slegs kerklike gesag beskik.

Noodsaaklik
Die heilige Skrif maak o.m. aan ons die weg tot saligheid in en deur Jesus Christus bekend, waarsonder geen mens gered kan word, en die ewige lewe ontvang nie, en is daarom noodsaaklik vir ons redding.

Duidelik
Omdat dit God se Woord is, is dit duidelik, al verstaan ons nie alles daarin nie. Vir ’n beter verstaan daarvan moet die Heilige Gees ons verstand verlig, en biddende Skrifstudie en -vergelyking deur ons gedoen en toegepas word.

Genoegsaam
Alles wat nodig is om die saligmakende geloof te kan ontvang, word in die heilige Skrif geleer, daarom is dit ook genoegsaam, en mag niks daarvan weggeneem of daaraan toegevoeg word, en geen menslike geskrifte aan die Bybel gelykgestel word nie.