Moet ‘n leraar ‘n toga dra?

Moet ‘n leraar ‘n toga dra?

prof. Gerrit Smit

Die AP Kerk het nie ‘n amptelike standpunt oor die dra van die toga deur leraars nie. Dit word as opsioneel beskou en aan elke plaaslike kerkraad oorgelaat om daaroor te besluit (Sinode 1988, p. 57, punt 65.12). Die Sinode het in 1990 besluit dat kerkraadslede ook toga’s kan dra indien die kerkraad so besluit om die gelykwaardigheid van die ampte uit te druk (Sinode 1990, p. 676, punt 12.2).

Die oorsprong van die toga lê in die Ou Testament, waar die HERE aan Moses opdrag gee dat die priesters toga’s moet dra (bv. Ex. 28). Toga’s herinner die volk dat die byeenkoms anders is en dat iets heilig besig is om plaas te vind. Toga’s dien ook die doel om die persoon weg te steek, en die gemeente te laat fokus op die boodskap en nie die boodskapper nie. Soos ‘n polisieman in ‘n uniform, simboliseer die toga nie die persoon nie, maar die amp. Dit gaan dus nie oor die leraar nie, maar die heiligheid en andersheid van God. Die toga simboliseer dat die leraar “verdwyn” en die gemeente op God moet fokus. Sommige kerkrade, bv. in warm streke, verkies om nie die toga te gebruik nie. Dit is ‘n saak waaroor elke ouderlingeraad individueel besluit.