Die Israelvisie

Die Israelvisie

prof. Gerrit Smit

Mense misbruik maklik die Bybel om te sorg dat hulle persoonlike vooroordele en standpunte ‘n Bybelse kleur kry. Die Israelhipotese interpreteer die Bybel vanuit ’n eie perspektief

So kom die sogenaamde swart teologie met die gedagte na vore dat God altyd aan die kant van onderdrukte swart mense is. Omdat Hy aan die onderdruktes se kant is, is Hy dan ook teen die wit onderdrukkers. Hierdie teologie word “swart teologie” genoem. Die redding van Israel uit Farao se onderdrukking vorm die basis van die aanspraak dat God aan die swart onderdrukte se kant is. Hierdie gedagtes vind neerslag in die sg. Belhar belydenis. Ons verwerp die “swart teologie” as ‘n valse teologie in stryd met die Skrif. 

 

Hierteenoor oorbeklemtoon die Israelhipotese weer die teologie van die uitverkiesing van die wit mense. Hierdie mense glo dat God wit mense bokant swart mense verkies op grond van hulle kleur. Witmense, en veral wit Afrikaners, so glo hulle, is die uitverkore volk van God. Hierdie mense maak daarop aanspraak dat God altyd aan hulle kant is in hulle stryd teen swart mense. Wit gelowiges is God se uitverkore volk. Hier het ons weer met die sogenaamde “wit teologie” te doen.

In beide gevalle het ons met die sogenaamde kontekstualistiese teologie te doen. Die konteks waarin jy jou bevind, gee aan jou die bril waarmee jy die Bybel lees en vir jou omstandighede interpreteer. As jy jou dan vasloop teen dinge wat in die Bybel staan, maak jy sommer jou eie Bybel.

In die lig van die Heilige Skrif en die Belydenisskrifte kan dit nie anders as dat die kerk skerp afwysend moet staan teenoor die wit teologie van die Israelhipotese met sy kontekstualistiese Skrifbenadering, sy skewe uitverkiesingsteologie, sy verwronge siening van die verbond en sy krasse oordeel oor die Kerk van Jesus Christus nie. 

Die verhouding tussen die Ou- en Nuwe Testament

Die sentrale boodskap van die Bybel word so saamgevat: Jesus Christus wat die inhoud en bekragtiger is van die verbond wat God met die mensdom en Homself aangegaan het, om daardeur die koninkryk van God in hierdie wêreld te verwesenlik. Jesus Christus en die verbond is vir ons ’n onskeibare eenheid. Jesus Christus word openbaar in die verbondsrelasie (Joh. 3:16) en die verbond self word in Jesus Christus bekragtig. Gal. 3:17. 

Omdat hierdie verbond spreek van die liefde en genade van God teenoor ’n verlore mensdom, verwys ons daarna as die genadeverbond. Dit is die sleutel tot die verstaan van die heilige Skrif. Dit beteken dat die Bybel in die lig van Christus en die genadeverbond gelees en vertolk moet word. 

Dit beteken verder ook dat die openbaring in die heilige Skrif vanaf Genesis tot die Nuwe Testament, nie gesien moet word as iets wat later by Christus uitkom nie, asof Hy net langs die weg ingeskakel word, of net die eindpunt of toppunt van die heilsopenbaring is nie. Reg van die begin af gaan dit reeds om Christus en die genadeverbond. Vanuit Hom kom alle openbaring en na Hom toe lei ook alle openbaring. Alle teologiese besinning moet by Hom, dié lig en die waarheid begin. In hierdie lig moet ’n mens ’n studie maak van die dele in die Skrif waar die sentrale gedagte minder helder deurkom. Enige teologie wat met iets anders as Christus begin, bewandel die weg van afwyking en dwaling. Deur te sê dat Christus die sleutel is vir die verstaan en vertolking van die heilige Skrif, word nie bedoel dat daar in elke Bybelse boek ’n direk Messiaanse element voorkom nie. Wat ons wel bedoel, is dat die skakeling wat elke boek met die Bybel as geheel het, in die heilsopenbaring geleë is wat deur die ganse Skrif loop. Soms is hierdie skakeling baie indirek, soos byvoorbeeld, in die boek Ester. En tog gaan dit in hierdie boek om die behoud van Israel in ’n tyd toe uitwissing hul in die gesig gestaar het. Israel se behoud vorm ’n skakel in die linie wat op Christus uitloop.

Dit is duidelik dat die predikers van die eerste kerk die Ou Testament in die lig van Christus vertolk het. In Hand. 8:30–35 sien ons hoe die evangelis Filippus die skrifgedeelte uit Jes. 53 aan die hofdienaar verduidelik, en dit in verband bring met Jesus Christus. In Joh. 5:39 sê die Here Jesus Christus aan die Jode: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die lewe het; en dit is dié wat van My getuig”. Ons sien ook hoe die waarheid dat Christus die sentrale boodskap van die Bybel is en ook die sleutel tot die verstaan daarvan, duidelik deur die Here Jesus self in die gesprek met die Emmaüsgangers uitkom. “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het”. Luk. 24:27. In Openbaring 19:10 verklaar die engel aan Johannes op die eiland Patmos dat die getuienis van Jesus “die gees van die profesie” is. Dit is oor Hom wat al die profesieë gaan (vgl. ook Hand. 10.43).

Hoewel die Bybelse getuienis “polifonies” is, dit is, dat ons daarin die stemme van veelvuldige getuies uit verskillende tye verneem, spreek almal tog basies oor dieselfde saak, nl. God se heil en genadeverbond in Jesus Christus.

Selfs die geloof van die Ou-Testamentiese heiliges gaan om Christus, hoewel hulle van Hom net geweet het as die beloofde Een wat sou kom. Ons kan dit ook anders stel: hoewel hulle net in God se beloftes geglo het, het hulle daarmee ook die verlossing wat God vir hulle in Christus berei het aanvaar (Hebr. 11; 1 Kor. 15). Daarom is dit ook nie verbasend dat die Hebreërskrywer van Moses sê dat hy “die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning”. Hebr. 11:26