Hoop op die hemel
Die hoop op die hemelse werklikheid
prof. Gerrit Smit
Lees: Tit. 2:11-3:11
As die Evangelie die mens se hart verlig het, leer God ons om die wêreldse dinge te verloën omdat ons ‘n groter troos het. Dit gee ons hoop op die redding terwyl ons die heerlikheid verwag.
|
Die hemel is ‘n werklikheid
Lees: Tit. 2:13-14
Wanneer ons deur die geloof oorgegaan het van die dood na die lewe, is ons nie meer vreemdelinge en bywoners nie maar medeburgers van die koninkryk van God en huisgenote van die hemelse huis. God sal ons saam met sy eniggebore Seun in die hemel laat sit sodat niks ons kan ontbreek nie. Dis die perspektief waartoe Titus se geloofsoog gerig word. Om die wêreld af te lê, beteken dus nie dat die mens alles wat belangrik is, verloor nie. Inteendeel dit beteken in werklikheid dat die mens bietjie verloor om alles te wen. Ons hoop is op die dinge wat nie gesien word nie. Die hemelse werklikheid is die eindbestemming vir almal wat die geloofswedloop enduit gehardloop het en deur God se genade tuiskom by sy/haar broers en susters in die Here. Terwyl ons matig, opreg en vroom in hierdie wêreld lewe, weet ons dis nie ons woning nie. Ons sien saam met die uitverkore kerk van Christus uit na die verwagte gelukkige dag. Al smaak ons nie nou al hierdie geluk nie, moet ons nie moedeloos word nie. Ons moet geduldig wees en soos wagte op die mure van ‘n bewaakte stad, ons pos beman tot die dag wanneer Hy ons roep vir hoër diens. Om te hoop beteken mos om dinge te verwag wat mens nie nou kan sien nie, maar wat tog in die geloof in die vooruitsig gestel word. O, mag die kerk gereed wees as daardie dag aanbreek.
Om oor na te dink: Ons het saam met Christus gesterwe en deur sy opstanding leef ons saam met Hom (Kol. 3:3). Wat beteken dit vir u prakties? |