Heavenly Participation – Hans Boersma
Oorsig deur prof. Gerrit Smit
Waaroor handel die boek?
In die spoor van John Nevin, gee Boersma praktiese gestalte aan wat Nevin as die sakramentele lewensbeskouing vir die gelowige beskryf het. Ons kan dikwels so bekommerd wees oor ons aardse verantwoordelikhede, dat ons nie genoeg tyd spandeer om te dink aan die werklikheid van ons hemelse burgerskap alreeds hier op aarde nie.
Die kerkvaders was egter diep bewus van God se teenwoordigheid in hierdie lewe, ten spyte van sy gebrokenheid en tekortkominge, en hulle het God se Almag oor die ganse skepping bely, wat prakties beteken het dat daar nie ‘n atoom in die skepping is wat nie onder die heerskappy van God staan nie, of mense dit erken of nie. Boersma wil die gelowige opnuut bewus maak van die werklikheid van God se voorsienigheid in ‘n wêreld wat behep geraak het met sigbare bewyse en empiriese navorsing. Boersma is van mening dat die Noevelle Théologie tog belangrike aspekte van die werklike teenwoordigheid van God kom beklemtoon het, wat ons geneig is om in die gejaag van die samelewing en die stryd om oorlewing in die kerk mis te kyk of verloor het.
Boersma neem die Christologiese anker van die vroeg-Christelike kerkvaders, spesifiek dié van Augustinus en Chrysostomos, as die tapesterie van hemelse deelname vir die gelowige, en wys hoe die Middeleeuse opstand teen God die tapesterie so begin lostorring het, dat dit die weg kon baan vir die skêr van modernisme onder Ockham en Scotus om lustig te kon weglê aan die Christologie van die Bybel, om dit uiteindelik onder Descartes en ander aan flarde geknip te sien. Boersma meen dat Luther en Calvyn die tapesterie wou heelmaak, en dat die reformasie wat in die sestiende eeu begin is, in die 21ste eeu voortgesit moet word.
Ek het heelwat kritiek op Boersma se beskouing van die ontologie (waarom ons bestaan) en sy beskouing oor Henri de Lubac, maar vir die gelowige wat erns maak met die Woord van God en die reformasie wil sien deursuur vandag en gelykertyd op soek is na iets vars en wakker om te lees, is hierdie die ideale werk. As jy dié boek gelees het, gaan jy weke hierna nog loop en dink.
Vir wie is dit bedoel?
Nie vir almal nie. Die boek word spesifiek gemik op gelowiges met ‘n stewige teologiese agtergrond, en kan selfs vir nagraadse doeleindes aangewend word. Die skryfstyl is gemaklik en die boek lees lekker (die boek is slegs so 220 bladsye), maar die onderwerp veronderstel ‘n basiese kennis van Augustinus en Calvyn. So dominee, lees bietjie hierdie een!