Teen die stroom van wanpersepsies: Afrikaners, grond en Bybelse geregtigheid
Geskryf deur prof. GDS Smit

Foto geneem vanaf: https://www.denisonforum.org/daily-article/trumps-contentious-meeting-with-south-africas-president/
’n Onlangse artikel deur Denison Forum in die VSA oor president Donald Trump se ontmoeting met mnr. Ramaphosa, roer die debat oor grondhervorming in Suid-Afrika aan. Dr. Ryan Denison beweer dat die rede vir die misdaad in Suid-Afrika toegeskryf kan word aan die feit dat die helfte van die grond in die land aan wit mense behoort, wat hulle na sy mening op onregmatige wyse in die verlede bekom het. Hoewel hy nie die geweld in Suid-Afrika goedpraat nie, meen hy dat Afrikaners tereg rede het om bekommerd te wees. Verder beweer hy dat die videomateriaal wat president Trump gewys het waarin geweld teen Afrikaners aangemoedig word, aan die een kant verouderd is en aan die ander kant nie rekening hou daarmee dat die slagspreuke vanaf groepe kom wat deur die Suid-Afrikaanse regering verwerp word nie.
In die lig van hierdie soort wanpersepsies wat in die buiteland geskets word, is dit belangrik om nie emosioneel met die debat om te gaan nie, maar feite reg te stel, veral die wydverspreide aanname dat Afrikaners hul grond “verniet” gekry het of deur sistemiese bevoordeling uitgebuit het. Dit is ook nodig dat ons in hierdie debat moet vra wat die Bybel oor grondbesit leer.
In die insiggewende werk: Disputed Land. The historical development of the South African Land Issue, 1652-2011 (uitgegee deur Protea Boekhuis, 2012) wys Louis Changuion en Bertus Steenkamp dat die geskiedenis van grondbesit in Suid-Afrika veel ingewikkelder is as die eenvoudige verhaal van onderdrukking of plundering wat vandag onder Afrikaners se neuse gevryf word. Hy beklemtoon dat daar geen historiese bewyse is dat die vroeë Afrikaners as koloniale uitbuiters opgetree het nie. Hulle het inteendeel meestal uit noodsaak die binneland ingetrek, wég van die koloniale oorheersing en het gevlug vir die politieke onstabiliteit en kolonisasie aan die Kaap, éérder as wat hulle ’n behoefte gehad het om hulle grondgebied of mag uit te brei. Dit was dus ’n kwessie van ekonomiese oorlewing.
Verder toon Changuion en Steenkamp dat talle skriftelike ooreenkomste en verdrae gesluit is tussen die Afrikaners en die verskillende stamme in die binneland om grond en regte op wettige wyse te bekom. Dit bewys dat die trekboere grond gekoop, geruil of in uiterste gevalle deur oorlog bekom het, maar nie in ’n konteks van georganiseerde koloniale anneksasie van eiendom nie. Changuion wys uitdruklik daarop dat die indruk dat Afrikaners grootskaalse grond verniet ontvang het, ’n historiese vervalsing is. Hulle het meestal in afsondering en moeilike omstandighede grond gevestig oor geslagte heen en opgebou in uiterste beproewinge, nié deur plundering nie. Hy wys verder daarop dat die sukses van hierdie boerderygemeenskappe eerder as getuienis dien van selfstandige arbeid as van enige vorm van sistemiese bevoorregting. Anders as wat dr. Denison beweer, het Afrikaners onder uiters moeilike omstandighede hul eie infrastruktuur gebou en in afgeleë gebiede sonder staatsteun oorleef. Die grond was dikwels onontwikkeld, sonder watervoorsiening, paaie of toegang tot markte.
Changuion waarsku teen eensydige vertellings van die geskiedenis, waar een groep as onderdrukker en ’n ander as slagoffer geskets word. Hy wys daarop dat baie Afrikaners sélf slagoffers van ekonomiese verarming, oorlog (veral die Anglo-Boereoorloë), kolonisering en politieke uitsluiting was. Hy beskryf hoe die karikatuur van die ryk, bevoorregte wit Boer selde ooreenstem met die werklikheid op grondvlak. Afrikaners het, net soos ander, geswoeg, gebou, gestry en dikwels verliese gely. Hierdie geskiedenis moet nie verdraai word om ’n politieke agenda te dien nie.
Die vestiging van republieke soos die ZAR (Zuid-Afrikaansche Republiek) was van meet af gebaseer op Bybelse beginsels van privaat eiendomsreg, onder die invloed van reformatoriese denke oor arbeid en die Bybelse beskouing oor die besit van eiendom. Die Bybel bevestig dat privaat grondbesit vir die vryheid en oorlewing van mense noodsaaklik is met tekste soos Deuteronomium 30:9: “…die HERE jou God sal die goeie aan jou oorvloedig gee … in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land…”.
Die Bybel ken nie ’n klassestryd- of herverdelingsideologie nie, maar plaas eerder klem op rentmeesterskap, eerlike arbeid en sosiale regverdigheid. Soos reeds genoem, bevestig die Bybel privaat eiendomsreg (Eksodus 20:15, 17) en verder dat grond ‘n gawe van God is en nie ‘n reg waarop mense mag aanspraak maak nie. In Israel het elke stam grond ontvang, tesame met verantwoordelikhede daaraan verbonde. God herinner hulle voortdurend dat hulle die grond as ‘n geskenk ontvang het en dat hulle dit kan verloor indien hulle ongehoorsaam sou wees (vgl. Levitikus 26). Die beginsel van erfgrond is dus belangrik in die Bybel. Om eiendom te beskou as onregmatig bekom en dat dit sonder vergoeding teruggeneem kan word, ignoreer die Bybelse beginsel dat mense moet werk om te eet (2 Tess. 3:10) en dat besit van eiendom áltyd met arbeid en verantwoordelikheid verband hou.
God is regverdig. Om dié rede mag óns nie onregverdig wees nie. Aan die ander kant van dié debat, geld die Bybelse beginsel ook: om grond af te neem sonder vergoeding van mense wat dit wettig bekom het en daaruit ‘n ekonomie opgebou het, is self onregverdig. Die Skrif waarsku teen onregmatige gewin, sowel as teen afgunstigheid: “Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie…” (Eksodus 20:17).
Afrikaners moet nie skaam wees vir hul geskiedenis nie, maar ook nie blind wees indien onreg wel plaasvind nie. ’n Bybelse pad vorentoe vra nie vir verplasing van skuld en straf nie, maar vir Bybelse geregtigheid én genade, op alle vlakke van die samelewing. So kan daar ’n nalatenskap gebou word, nie van konflik nie, maar van gemeenskaplike toewyding aan die waarheid, gesonde arbeid en ware vrede.