‘n Eeue oue vraag: waarom doop ons kinders?
Geskryf deur prof. Gerrit Smit
Ons leef in ’n tyd waarin Bybelse gebruike en kerklike tradisies dikwels bevraagteken word. Een van hierdie vraagtekens handel oor die doop van kinders. Dit is ‘n vraag wat sedert die beginjare van die Christelike kerk gevra word en wat dikwels in ons tyd herhaal word wanneer mense vra: Moet ‘n persoon nie eers tot geloof kom voordat hulle gedoop word nie?
In die gesprek oor die kinderdoop kom twee fundamenteel verskillende beskouings oor die Bybel en die kerk se rol in die lewe van gelowiges na vore: die gereformeerde verbondsteologie en daarteenoor meeste pinksterkerke se benadering tot die doop. Die gereformeerde tradisie verstaan die doop as ’n verbondsteken, soortgelyk aan wat die besnydenis in die Ou Testament beteken het, en glo dat kinders van gelowiges reeds binne God se verbond gebore word en daarom die teken daarvan behoort te ontvang. Daarteenoor sien baie pinkstergroepe die doop uitsluitlik as ’n handeling wat volg na bekering en openbare geloofsbelydenis.
In hierdie artikel word aangetoon dat die praktyk van die kinderdoop diep gewortel is in die geskiedenis van die kerk, wat op grond van die Skrif, die leer oor die verbond en die aard van God se genade, die doop van kinders veronderstel.
Die verbond as vertrekpunt
Die hoofrede waarom ons kinders doop, is dat hulle deel het aan die verbond wat God met sy volk gesluit het. In Genesis 17:7 sê God aan Abraham: “…Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou”. Hierdie verbond wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het, het nie net volwasse gelowiges ingesluit nie, maar ook hul kinders.
Nêrens in die Nuwe Testament word God se verbond opsy geskuif nie, maar die Nuwe Testament bevestig dit eerder. Petrus verkondig op Pinksterdag: “Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Hand. 2:39). Die kinderdoop is dus nie ’n nuwe idee nie, maar ’n voortsetting van God se verbond wat Hy reeds in die Ou Testament met sy gelowige volk en hulle nageslag gesluit het.
In die Ou Testament was die besnydenis die sigbare teken van die verbond. Kinders van gelowiges is op die agtste dag besny om te wys dat hulle aan God behoort. In Kolossense 2:11–12 word die besnydenis met die doop verbind, en dit wys dat die doop die nuwe verbond se verbondsteken is. Ons doop ons kinders nie omdat hulle al hul geloof bely het nie, maar omdat hulle reeds binne God se verbond staan en Hy self hulle by die kerk voeg. So verstaan, word die doop ‘n teken dat kinders reeds lidmate van die kerk van Christus is en dit nie eers later in hulle lewe word nie.
Die kinderdoop is verder ’n getuienis dat God die inisiatief neem in ons verlossing. Dit herinner ons daaraan dat genade nie geskenk word op grond van ons besluit of ons geloof nie, maar deur God geskenk word aan dié wat Hy geroep het. Jesus het self nie die kinders as buitestaanders beskou nie, maar hulle omarm en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom… aan sulkes behoort die koninkryk van God” (Mark. 10:14). Die kinderdoop bevestig dat God se koninkryk ook aan die kleintjies behoort.
Jesus is groot gedoop
Een van die mees algemene argumente teen die kinderdoop is dat Jesus eers as volwassene gedoop is en dat gelowiges Hom hierin moet navolg. Hierdie argument maak egter ’n fundamentele teologiese fout deur die doop van Johannes gelyk te stel aan die Christelike doop wat as sakrament in die kerk gekom het. Die doop wat Jesus ontvang het, was die doop van Johannes. Johannes se doop was ‘n gebruik wat onder Jode voorgekom het waardeur mense ‘n bekering beleef het en hulself gereinig het en as teken van die reiniging en die vergifnis van sonde hulle simbolies laat afwas (of doop) het (Mark. 1:4). Die doop van Johannes was egter nie ’n verbondsteken soos wat die doop later in die kerk verstaan is nie. Jesus is nie deur Johannes gedoop omdat Hy sonde gehad het nie, maar om Hom met sondaars te vereenselwig en sy roeping as Middelaar te bevestig (Matt. 3:15).
Johannes se doop het ’n spesifieke funksie in die heilsgeskiedenis gehad. Dit was deel van die oorgang van die Ou Verbond na die Nuwe Verbond en het nie voortgeduur as ’n sakrament in die kerk nie. Johannes se doop het trouens kort na die dood van Johannes geëindig. Daarteenoor was die doop wat Christus ingestel het ’n verbondsteken en dit was gegrond op die opstanding van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees. Handelinge 19:1–6 wys juis daarop dat dié twee dope verskil het. Ons lees in verse 4-5: “Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus”.
Dus, om die doop van Jesus aan te voer teen die kinderdoop is om twee heeltemal verskillende handelinge in die Skrif met mekaar te verwar. Die Christelike doop, wat ná Christus se opstanding ingestel is as teken van die verbond en inlywing by die kerk, het ’n ander oorsprong en betekenis as Johannes se doop.
Die vroeg-Christelike kerk
Die kinderdoop is nie ’n latere kerklike kompromie soos sommige beweer nie, maar het ’n duidelike lyn in die vroeë kerk. Verskeie vroeg-Christelike kerkvaders verwys na die gebruik in die kerk om kinders te doop, soos onder andere:
Origenes (±185–254 n.C.)
Origenes skryf in sy kommentaar op Romeine 5:9 die volgende:
“Die Kerk het van die apostels ontvang om ook suigelinge te doop.”
Hy verbind in sy preek op Levitikus 8:3 hierdie gebruik om kinders te doop met die werklikheid van sonde wat ook die kinders raak en dus die noodsaaklikheid van reiniging en die teken van genade vanaf geboorte.
Augustinus (354–430 n.C.)
Augustinus is een van die belangrike bronne vir die bevestiging van die gebruik van die kinderdoop in die vroeë kerk. In sy stryd teen die Pelagiaanse leer, wat erfsonde ontken het (oftewel dat kinders met sonde gebore word), beroep hy hom telkens op die algemene gebruik van die kerk om kinders te doop. In sy De Genesi ad litteram (10.23.39) sê hy:
“Die gebruik van die kerk as moeder om kinders te doop, moet beslis nie gering geag word nie, en dit moet geensins as oorbodig beskou word nie, en dit moet ook nie geglo word dat hierdie tradisie iets anders is as van die apostels ontvang nie.”
Vir Augustinus bevestig die gebruik van kinderdoop die kerk se erkenning van erfsonde en die noodsaaklikheid van God se genade van kleins af.
Cyprianus van Kartago (±200–258 n.C.)
In ’n brief aan Fidus (Brief 64) verduidelik Cyprianus dat die doop van babas nie tot die agtste dag uitgestel hoef te word, soos met die besnydenis nie, maar so gou moontlik bedien mag word:
“Inteendeel, ons almal oordeel dat die barmhartigheid en genade van God aan geen mens wat gebore is, weerhou moet word nie”.
Hieruit blyk dat die kerk in Cyprianus se tyd kinderdoop nie net aanvaar het nie, maar dit as algemene gebruik gehad het.
Die bogenoemde voorbeelde wys dat die gebruik van kinderdoop algemeen voorgekom het in die vroeë kerk en dat die kerk die doop verstaan het as teken van die verbond en die werklikheid van die erfsonde. Dit bevestig dat die kinderdoop nie ’n latere toevoeging was nie. Kinderdoop was vir hulle ’n bevestiging van die waarheid dat God eerste werk en dat Hy sy beloftes ook aan die kinders van gelowiges gee. Die Reformasie het hierdie gebruik dus by die vroeë kerk en die getuienis in die Skrif gekry.
Die rol van die ouers
Dit is die ouers se taak om die betekenis van die doop aan hulle kinders te leer. Wanneer ouers hul kinders laat doop, bely hulle hul afhanklikheid van God se genade en verbind hulle hul om hul kinders in die vrees van die Here op te voed. Die doop plaas nie ’n waarborg op ’n kind se verlossing nie, maar dit bevestig dat hy of sy in die genade van God se verbond leef. Later, wanneer die kind verstaan, moet die kind hierdie geloof self bely (vgl. Romeine 10:9). Kinderdoop herinner die gemeente aan hul roeping om mekaar in die geloof te ondersteun. Die doop is daarom ’n kerklike gebeurtenis en nie ‘n familie aangeleentheid nie. Elke kind wat gedoop word, is ’n herinnering dat Christus sy kerk bou, dat Hy geslag na geslag genadig is, en dat Hy die Here van ons en ons kinders is.
Samevatting
Ons doop ons kinders omdat ons glo wat God gesê het, dat Hy ’n ewige verbond met sy volk sluit, ook met hul nageslag. Ons mag nie ons kinders doop uit gewoonte of bygeloof nie. Die doop is ’n daad van gehoorsaamheid en vertroue in God se beloftes. In ’n wêreld wat glo elke mens moet individueel benader word, herinner die kinderdoop ons daaraan dat God se genade na gesinne kom en dat Hy sy kerk deur verbondsgesinne bou. Dit herinner ook dat God ons kinders ken en roep, nog voordat hulle Hom ken.