House of David op Amazon Prime
‘n Kort evaluering van die House of David-reeks op Amazon Prime
prof. Gerrit Smit
Ek het verlede week die laaste episode in die Amazon-reeks The House of David klaar gekyk en het besluit om iets daaroor te skryf.
Die reeks het my aandag getrek omdat dit die geskiedenis van die laaste dae van die verbrokkelende koningskap van Saul en die salwing van koning Dawid, totdat hy die reus Goliat verslaan, vertel.
Die reeks poog om die geskiedenis van Israel se mees bekende koningshuis aan ‘n moderne gehoor oor te dra, met ’n redelike getroue storielyn en ‘n spanningsvolle politieke agtergrond. Vanuit ‘n teologiese perspektief bied die reeks ‘n ryk geleentheid vir nadenke, maar dit roep ook vrae op oor getrouheid aan die Bybelse teks, die hantering van Bybelse openbaring, en die wyse waarop die messiaanse verwagtinge in die geskiedenis van Dawid verwag sou word.
Waarom Dawid belangrik is?
Die geskiedenis van Dawid en sy nageslag in die Bybel is nie bloot ’n vertelling van die koninklike huis ter wille van die voltooiing van sy geslagsregister nie – dit is ’n sentrale teologiese konsep in die Bybel. In 2 Samuel 7:16 sluit God deur Natan met Dawid ’n ewige verbond: “…jou huis en jou koningskap sal bestendig wees voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.” Hierdie belofte is een van die belangrike verse in die Ou Testament, wat reeds in Genesis begin het as die Messiaanse hoop wat deur die Ou Testament loop en in die Nuwe Testament in Jesus Christus vervul word (Matt. 1:1; Luk. 1:32-33).
Amazon se reeks raak dus aan belangrike teologiese grond, en enige dramatisering van Dawid se lewe het die potensiaal om óf diepte te gee aan ons verstaan van die Skrif, óf om af te wyk van die kernboodskap van God se openbaring.
Karakteruitbeelding
In die reeks word Dawid nie slegs as held uitgebeeld nie, maar as ‘n komplekse, gebroke figuur – ’n buite-egtelike kind, buitestaander en teruggetrokke seun wat eerder tussen die skape in die veld met sy harp wil wees as in die huis van Isai saam met sy broers.
Hier is die vraag: word Dawid primêr uitgebeeld as ’n man na God se hart (1 Sam. 13:14), of as ’n tragiese figuur wie se identiteit eerder ’n verleentheid vir sy huis inhou?
Messiaanse heenwysing ontbreek
Een van die mees diepgaande teologiese aspekte van die geskiedenis van Dawid is sy verband met die Messias. Die profete het dikwels verwys na ’n toekomstige “spruit uit die stomp van Isai” (Jes. 11:1), ’n duidelike verwysing na die komende Christus. Die reeks ignoreer ongelukkig hierdie belangrike teologiese hoogtepunt en verarm die betekenis van die verhaal tot ‘n blote epiese drama wat net so goed in ’n sinagoge as in die kerk tuis is.
Ek weet nie wat die toekomsplan met die reeks is nie en vermoed daar sal ’n opvolgreeks wees want die reeks handel eintlik meer oor Saul se val as Dawid se koningkap. Indien die volgende reeks die profetiese beloftes subtiel integreer, kan dit ’n ryk teologie van God se heilshandeling deur die geskiedenis na vore bring. Want die ware betekenis van die huis van Dawid lê vir Christene nie in Dawid self nie, maar in die Een wat ná hom sou kom – Jesus, die Seun van Dawid.
Kultuur en mag
House of David is ’n indrukwekkende uitbeelding van die wyse waarop mag, kultuur en godsdiens mekaar beïnvloed. Die Israelitiese koningskap het altyd in spanning gestaan tussen die teokrasie van God en die politieke realiteite van Israel. Hierin speel Samuel as profeet ’n belangrike rol wat goed in die reeks uitgebeeld word.
Punte vir oordenking
’n Goeie teologiese lees van die reeks sal moet vra: is die Bybelse geskiedenis korrek weergegee en word die kyker aangemoedig om meer van die Bybel te leer?
Enkele belangrike historiese vrae behoort beantwoord te word:
- Was Dawid ’n buite-egtelike kind?
In die reeks word Dawid uitgebeeld as die jongste van Isai se seuns wat uit ’n buite-egtelike verhouding gebore is – een van die redes waarom Isai hom eerder in die veld tussen die skape wegsteek en nie graag in die openbaar wil hê nie. Die Bybel sê nie uitdruklik dat koning Dawid ’n buite-egtelike kind was nie, maar sommige Joodse tradisies hou vol dat hy om geheimsinnige redes as ‘n buitestander in sy familie behandel is, moontlik omdat hy ’n buite-egtelike kind was.
Hier is wat ons uit die Skrif weet:
Dawid se Vader: Dawid was die jongste seun van Isai (Hebreeus: Jishai) van Bethlehem (1 Samuel 16:10-13). Sy ma se identiteit: Die Bybel noem nie Dawid se ma se naam nie, wat lei tot bespiegeling in latere Joodse bronne. Sommige Joodse verklaarders meen Psalm 69:8: “Vreemd het ek vir my broers geword en ’n onbekende vir die seuns van my moeder” kan verstaan word deur so ‘n aanname.
Daar is egter GEEN Bybelse gegewens wat hierdie afleiding steun nie, en die tradisie waarop die reeks steun, is maar bloot bespiegeling. Dit sou onwaarskynlik wees dat Dawid so groot rol in Israel se geskiedenis sou speel indien hy ’n buite-egtelike kind was.
- Was die Amalekiete kannibale?
Vroeg in die reeks word Saul se oorwinning oor die Amalekiete weergegee. In die reeks word die Amalekiete as kannibale voorgehou. Daar is geen historiese of Bybelse bewyse dat die Amalekiete kannibalisme beoefen het nie. Die Amalekiete was ‘ n nomadiese volk wat in die Bybel genoem word en dikwels as Israel se vyande uitgebeeld word. Hulle was bekend vir hul oorlogsugtige aard en strooptogte teen die Israeliete, maar geen Bybelse of buite-Bybelse bronne dui daarop dat hulle aan kannibalisme deelgeneem het nie.
Gevolgtrekking
Die reeks het aan die begin van elke episode ’n kennisgewing dat dele van die geskiedenis aangepas is ter wille van die uitdrukking van die verhaal in kunsvorm. Amazon se The House of David is ‘n kykerswaardige poging om een van die mees invloedryke verhale in die geskiedenis van God se openbaring visueel tot lewe te bring. Die verhaal kan dien as hulp om die geskiedenis van Dawid aan ’n wyer gehoor bekend te stel.
Indien die reeks gekyk word ter wille van die visuele voorstelling van die Bybelgeskiedenis, is House of David ’n goeie reeks wat jy met graagte kan kyk. Moet egter nie teologiese diepte in die reeks verwag nie.