Die Teologie van die Koninkryk van God in Openbaring
Die Teologie van die Koninkryk van God in Openbaring
Prof. Gerrit Smit
In hierdie boek word die los drade bymekaar gevat en in die regte perspektief geplaas. Daar is veral drie fasette aan die koms van die koninkryk. Eerstens is daar die feit dat die koninkryk reeds gekom het. Dit word reeds in die eerste hoofstuk van die boek gekonstateer dat die Koning en sy koninkryk reeds gekom het. God is op sy troon en Jesus Christus is Koning op aarde as Heerser oor die konings van die aarde. Johannes noem homself iemand wat saam met sy medegelowiges ‘n deelgenoot is van die koninkryk. Hy sien ook die Koning in sy heerlikheid en majesteit. Die Koning is ook die Bewaarder en Beskermer van sy koninkryk.
In ‘n volgende gedeelte (vanaf die 4de hoofstuk) word beskryf hoedat God op sy troon die heerskappy oorhandig aan die Lam. Sy heerskappy word erken en geëer in die hemel en op die aarde. Die Lam beheer ook die geskiedenis deur die kragte tot sy beskikking (7 seëls). Johannes kry ook ‘n blik op die voltooide koninkryk van uitverkorenes met wit klere beklee voor die troon en voor die Lam. Jesus Christus is dus die Koning oor die aarde en sy koninkryk is ‘n werklikheid in die hemel en op die aarde. Hy heers as Verlosser en as Regter oor die aarde.
Tweedens word die hele laaste helfte van die boek gewy aan die wyse waarop die voltooiing en voleinding van alle dinge sal plaasvind. Daar kom ‘n dag waarop die laaste van die uitverkorenes sal ingebring word, maar terselfdertyd sal met Christus se vyande afgereken word. Die ongelowiges en vyande, dit wil sê die volgelinge van die draak, word in die poel van vuur gegooi. Daarteenoor word heerlike dinge gesê van die uitverkorenes, die bruid van die Lam, wat die nuwe Jerusalem is. Hulle grootste vreugde is om in die teenwoordigheid van God te leef. Die laaste oordele is nie ‘n lang uitgerekte oorlog nie. Met sy magswoord soos vuur uit die hemel, word sy vyande verslaan. So sal die koninkryk kom.
Derdens word aangekondig dat die koninkryk besig is om te kom in die tussentyd. Die Koning is besig om te kom. Hy wat die begin is, en ook die einde, Hy is Here ook van die tussentyd. Sy teenwoordigheid in sy gemeentes (hoofstuk 2-3) beteken dat Hy vertroos, bemoedig en vermaan. Hy het beheer oor wat met sy gemeentes gebeur. Ook reël Hy die verloop van die geskiedenis met die kragte tot sy beskikking. In die stryd van die kerk op aarde is Christus se beskerming daar, want Hy het die mag van Satan beperk en so verseker Hy die oorlewing van sy kerk. Daarom kan die gelowiges ook Satan teëstaan en oorwin met sy wapens van verlossing en deur sy woord te verkondig. Selfs wanneer Satan (die ou draak) sy kragte inspan tot die uiterste (=2 diere), en hy behaal skynbaar die oorwinning, is daar nog die getroue gelowiges wat hom weerstaan. Hulle (laasgenoemdes) word intussen versamel soos die gerwe koring wat in die skuur geberg word. Christus se vyande word ook versamel soos druiwe wat afgeoes word en in die parskuip getrap word.
Terwyl die gelowiges op pad is na hul hemelse woning, word die aanslae van versoeking en verleiding en beproewing aan bande gelê. Aan die honger en dorstige pelgrim word water en vrugte gegee wat lewe gee. So is die Koning besig om te kom: Hy kom as Verlosser en as Regter. Maar die gelowige se gebed moet wees: Kom, Here Jesus, kom ook na my toe.
So kom die koninkryk: die Koning is hier en Hy is besig om op aarde sy koninkryk te vestig en sy Koningskap te ontplooi. Aan die einde van die tyd sal die koninkryk in die hemel voltooi wees wanneer die uitverkore gelowiges in die heerlikheid van die teenwoordigheid van God vir ewig lewe.
Volgens Ladd moet ons die koms van die Koninkryk tuisgebring onder twee belangrike ontwikkelings, nl. die verwoesting van die kwaad, en die seën van ewige lewe.
DIE VERNIETIGING VAN DIE BOSE VOLGENS OPENBARING
Dit verloop in verskillende stadia. Christus se wederkoms word in 19:11-16 beskryf en het as doel primêr die vernietiging van die Bose. Hy kom op ‘n strydros en is bevlek met bloed. Hy word vergesel van die hemelse leër, waarskynlik engele. Maar hulle neem nie deel aan die geveg nie. Die enigste wapen waarmee Hy stryd voer, is ‘n skerp swaard wat uit sy mond uitgaan, dus sy Woord. Met sy Woord sal die geveg beslis word.
1 Eers word die dier, die valse profeet en hulle volgelinge vernietig (19:17-21). Hulle uiteinde is om in die poel van vuur gegooi te word.
2 Vervolgens kom die draak aan die beurt. Nou sien ons ‘n engel in die plek van die Oorwinnaar. Die draak word oorweldig, maar word nie dadelik in die vuurpoel gegooi nie, maar sy uiteinde word vertraag. Eers word hy in ‘n diep put gegooi, en hy is later weer in staat om mense te verlei om teen Christus in opstand te kom. En dan word hy finaal vernietig deur in die vuurpoel gewerp te word, saam met die dier en die valse profeet.
Die koms van die Koninkryk van God is ook in fases. Daar is ‘n tydelike koninkryk van duisend jaar (‘n simboliese getal wat na ‘n vasgestelde tydperk verwys, en nie letterlik 1000 jaar nie) wanneer die opgestane heiliges saam met Christus regeer (20:4).
Dit word gevolg deur ‘n ewige koninkryk met sy nuwe hemel en sy nuwe aarde. Maar elkeen van hierdie twee aspekte van God se koninkryk word voorafgegaan deur ‘n opstanding.
Die opstanding voor die koninkryk word genoem die “eerste opstanding” (20:5). Hierdie groep is al die heiliges van God wat nou opgewek is en aan Christus se regering deel het. ‘n Verdere groep is die martelare, en ‘n derde groep is die wat nie die beeld van die dier aanbid het of sy merk op hul voorkoppe of hande ontvang het nie.
Die eerste opstanding is ‘n gedeeltelike opstanding, want die “ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie”. Die tweede opstanding, hoewel dit nie so genoem word nie, sal geskied aan die einde van die duisend jaar wanneer al die dooies opgewek word vir die laaste oordeel. Dit sluit dan in al die ongereddes van alle tye saam met diegene wat gedurende die duisend jaar gesterf het. Ons het nie ‘n kronologiese volgorde van gebeure vanaf hoofstuk 19 na hoofstuk 20 nie. In hoofstuk 20 word die aanloop soos in hoofstuk 19 (wat alreeds by die vrou Babilon begin) tot die eindgebeure eers geteken. En hierdie aanloop gaan ver terug.
Juis omdat ons nie te breedvoerig op dinge wil ingaan nie, moet ons op enkele aspekte let. a. Die eerste belangrike boodskap van Openbaring is dat die koninkryk kom ten spyte van die Bose. Die Verlosser kom (1:7) en Hy sal kom haal wat syne is (hoofstuk 2:2, 7:14-15, 11:12, 12:1-9, 12:1-9, 14:6-11, 14-16; hoofstuk 17-18, 19:5-9).
b. Johannes sien reeds die voltooide Koninkryk, dus dit sal en moet noodwendig so gebeur. So bv. 1:20, 7:14-15, 12:1-9, 14:1-5, 14:14-16, 19:5-9, 20:4-6 en 20: 7-10 (vgl. 16:17, 19-20-21 en ook hoofstuk 21-22).
c. Die Bose word oorwin en vernietig: 1:8, aangekondig, 11:12, 12:1-9 (Satan uit hemel gewerp), 14:17-20 (druiwe-oes getrap), hfst. 15-16 die laaste oordele, 17 tot 18de hfste. met vernietiging van vrou Babilon, 19:19-21 vernietiging van dier en valse profeet, 20:1-3 Satan gebind, en 20:7-10 Satan vernietig.
d. Satan se tyd is beperk (hfst. 2-3, die 7 briewe) en sy mag is beperk (12:1-9). Dit alles in 42 maande of 1 260 dae of 3½ jaar. Hy werk deur sy helpers, twee genoem in hfst. 13, en die vrou Babilon in hfst. 17.
In die oorwegend heidense of ongelowige streke is dit met politieke mag. In die oorwegend heidense of ongelowige streke is dit met politieke mag. In die meer godsdienstige wêreld gebruik hy sinsgenot of onsedelikheid saam met materialisme om die mense te verlei. Sy tyd wat hy tot sy beskikking het, is die tyd vanaf Jesus se eerste tot sy finale koms.
e. Die duisend jaar is ‘n afgeronde presies vasgestelde tydperk (10x10x10). Met die hemelvaart van Christus is Satan se lot verseël – hy het geen aanspraak in die hemel nie. Hy was reeds op die aarde, maar nou word syne en sy engele se magsgebied beperk tot die aarde. Voorheen toe die openbaring en geloof beperk was tot Israel, het Satan die nasies na willekeur verlei. Maar sedert die koms van Christus word sy mag beperk deur die verkondiging van die Evangelie. (Vgl. 12:11, 14:6, 20:4). Hy kan nou nie meer nasies verlei nie. Wanneer die einde aanbreek, dan sal hy losgelaat word vir ‘n kort rukkie, net om sy volgelinge te monster. Dan is Christus gereed om hulle te vernietig (20:7-10, vgl. 16:17 en 19:20-21). Gedurende die duisendjaar, dus sedert die verlossingsdood van Christus, is daar vir die eerste gelowiges en sedertdien ‘n toestand van hemelse heerlikheid. Dit het Christus reeds belowe in 3:21, bevestig in 5:9-10, 20:4-16). Dit word genoem die eerste opstanding, dit wil sê die gelowiges gaan by Christus inwoon, nadat hulle die eerste dood ondergaan het. Die ander se finale oordele word voltrek aan die einde van die duisend jaar (20:5). Die tweede dood is volgens 21:8 die voltrekking van die finale oordeel.
DIE SEËN VAN DIE EWIGE LEWE
Volgens Ladd is die finale staat van die Koninkryk van God ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Die gedagte van so-iets kom reeds voor in die OT, hoewel nog nie baie duidelik uitgewerk nie. Soos die verloste mens ‘n nuwe “opgestane” liggaam nodig het, so moet die vrygemaakte en verloste skepping ‘n vernude aarde ontvang. Daarom praat Jesus van ‘n herskepping van die wêreld (Mt. 19:28) en Paulus praat van die verlossing van die skepping (Rom. 8:20-21). Daarom is die nuwe aarde van Openb. 21 die laaste oor hoe hierdie verlossing gaan plaasvind. Die nuwe aarde is volgens die toneel van die finale doelwit van die verlossing (Openb. 21:3). Die feit dat God by sy volk sal woon is die sentrale gedagte van God se verbond met sy volk tot aan die einde van die heilsgeskiedenis.
Die middelpunt van die nuwe einde is die heilige stand, die nuwe Jerusalem, wat geteken word as bekleed is soos die bruid van die Lam (21:9-11). Die inwoners van die stad is uit die OT (21:13) sowel as die NT (21:14). In die stad sal daar nie ‘n tempel wees nie, want dit sal nie meer nodig wees in gevolge van die innige gemeenskap tussen God en sy mense (21:22), want hulle sal sy aangesig sien (22:4). En dit is die klimaks, die volmaakte einde van die lang heilshistoriese pad. Hierdie uiteensetting van Ladd moet egter gekwalifiseer word. So word in 20:11 en 21:1 duidelik vermeld dat die eerste hemel en aarde verdwyn, tot niet gaan, tot so ‘n mate dat sy plek nie eers meer sal kan aangewys word nie. En omdat daar nou nog net die verheerlikte mense oor is wat in verheerlikte liggame woon, word daar geen nader omskrywing van die nuwe aarde gegee nie. Dit alles word nou oorheers deur die nuwe Jerusalem. En mens kry die indruk in 21:2 dat die nuwe Jerusalem die plaasvervanger is van die nuwe aarde. Die een gaan op in die ander.
Nêrens word gemeld dat die nuwe Jerusalem neerdaal tot op die aarde nie. Dit is ook ‘n verregaande gedagte dat die hemel moet afdaal na die aarde toe – is dit dan nie degradering nie? Wat nog verder van belang is, is die vraag of die nuwe Jerusalem die woonplek is van die verheerlikte gemeente, of is dit nie ‘n beskrywing van die gemeente of dan van Gods voltooide koninkryk self nie? (Vgl. 21:2,9,10). As ons dink aan die “geestelike huis’ van 1 Pet. 2:5, dan maak die simboliek van 21:12-27 heeltemal sin. Selfs die goue strate is dan simbolies van die heerlikheid van die verheerlikte gemeente. Selfs die rivierstroom met sy lewende water en die boom van die lewe maak sin in so ‘n opset. Want wat Johannes sien, is die eindproduk. Maar tans is die lewende water nog beskikbaar vir die dorstiges en die genesende uitwerking van die boom van die lewe is nog daar (22:1-2, 14 en 19).
Dit is inderdaad ‘n waardige einddoel, ‘n klimaks by uitnemendheid: om in God en die Lam se teenwoordigheid te wees en soos konings te lewe saam met Hom tot in alle ewigheid (22:3-5).