Die herwinning van die klassieke Christelike tradisie: waarheid, goedheid en skoonheid

Geskryf deur: prof. GDS Smit


Die Klassiek-Christelike tradisie (KCT) verwys na ’n opvoedkundige- en filosofiese benadering wat die wysheid van die klassieke denke (veral Griekse en Romeinse denke soos dié van Plato en Aristoteles) met die Christelike geloof in verband bring. Dit beklemtoon die vorming van die hele mens, naamlik die verstand, hart en siel deur liefde vir waarheid, goedheid en skoonheid te kweek. Die KCT rig alle onderrig op God as die uiteindelike bron van betekenis en verwondering.

Die KCT neem sy vertrekpunt vanuit die beginsel van die een wat onderrig gee (Pedagoog) en nie die een wat onderrig ontvang (leerder) nie. Gevolglik, indien ons die rol van die Pedagoog (gr. Paidagogos, dit is: mentor, dosent, leraar of onderwyser) in die klassiek-Christelike tradisie in ag neem, is die moderne fokus in onderwys op “Leer en Onderrig” in plaas van “Onderrig en Leer” ‘n prinsipiële vertrekpunt téén die klassiek-Christelike tradisie se beskouing oor onderrig.

 

Die Paidagogos in die Klassiek-Christelike Tradisie

In die klassieke Griekse konteks was die Paidagogos (ook genoem Tugmeester, vgl. Gal. 3:24) ’n dienskneg wat die verantwoordelikheid vir die onderrig van die meester se kinders geneem het. Sy rol was dié van ‘n morele en persoonlike gids wat die jong leerder begelei het in die vorming van sy karakter, gedrag en waardes. Hierdie mentorfiguur was primêr verantwoordelik vir die leerling se ontwikkeling as ’n hele mens op intellektuele, morele en estetiese terrein.

Die Christelike tradisie het hierdie begrip uitgebrei deur die leerling te sien as ’n imago Dei (beeld van God) wat gevorm moet word tot deelname aan waarheid, goedheid en skoonheid. Die paidagogos was dus nie slegs iemand wat kennis oorgedra en antwoorde terugverwag het, sodat die student kan “slaag” nie, maar was iemand wat die hele mens vorm, van die siel tot die student se verbeelding. Dit het prinsipieel beteken dat die student nie sou “slaag” op grond van kennis nie, maar op grond van die uitleef van die beginsels wat geleer was. Die Christelike weergawe van hierdie model kan by Kerkvaders soos Augustinus en Basilius die Grote gesien word.

 

Die moderne fokus: Leer en onderrig

In baie moderne onderwysbenaderings lê die klem op leeruitkomste, assesserings en selfgerigte leer, dus: Leer → Onderrig. Die onderwyser of dosent word eerder as fasiliteerder van leer beskou, en die leerder of student word as outonome soeker van kennis beskou wat deur selfstudie tot die ontdekking van wetenskaplike feite kom. In hierdie raamwerk word onderrig ondergeskik aan die proses van leer, en die persoonlike, morele en geestelike dimensies van opvoeding, waardeur die onderwyser of dosent as leermeester optree, word dikwels onderskat.

Byvoorbeeld: in ’n wetenskapklas kan die leerder ‘leer’ hoe om ’n formule toe te pas en ‘n eksperiment te doen, maar dit gaan dikwels gepaard sonder enige leiding oor hoe daardie kennis sin maak in terme van etiese- en verantwoordelike gebruik, die waarheid van die geskape orde of hoe menswaardigheid daardeur beïnvloed word. Sulke onderrig is dus instrumenteel eerder as vormend, en fokus op uitkomste eerder as vorming.

 

Klassiek-Christelike fokus: Onderrig en leer

Hierteenoor plaas die klassiek-Christelike model eers klem op onderrig (Gr. paideia) as ’n doelbewuste, persoonlike handeling wat die wese van die student vorm en nie net fokus op die oordrag van kennis nie. Daaruit volg betekenisvolle leer.

Voorbeeld: In die Middeleeue is die Skrif nie net geleer nie, dit is geleef. Die mentor het die student nie net intellektueel gevorm nie, maar ook deur dissipline, ritme, estetika (waardering vir wat mooi en skoon is) en simboliek tot innerlike verandering gelei. ‘n Eenvoudige voorbeeld van hoe die estetika die hele menswees beïnvloed, en daar ‘n skuif gekom het in die moderne mense se verstaan van skoonheid, kan gesien word in die argitektuur van die Middeleeuse geboue in Europa, wat fokus op asemrowendheid teenoor die moderne geboue in ‘n stad, soos New York, wat fokus op funksionaliteit.

Die skuif van “Onderrig en Leer” na “Leer en Onderrig” in die moderne onderwys verteenwoordig dus wél ’n prinsipiële vertrekpunt wat wegbeweeg het van die klassiek-Christelike benadering tot onderwys. Dit onderskat die rol van die onderwyser of dosent as vormer van karakter en wêreldbeskouing, en plaas die leerproses in die hande van ’n student wat dikwels geen vaste morele raamwerk het nie, en self tot die ontdekking van kennis moet kom. Dit fokus op uitkomste en punte en nie op vorming van karakter nie.

Daarom is die herwaardering van onderrig as paideia, wat ‘n doelbewuste vorming in waarheid, goedheid en skoonheid is, nodig om opvoeding weer betekenisvol en vormend te maak.

 

Hoe uitkomsgebaseerde onderwys die klassiek-Christelike verstaan van paideia ondermyn

Soos hier bo verduidelik, is onderrig nooit neutraal nie. Alle onderrig gaan van prinsipiële grondbeginsels uit. Deur uitkomsgebaseerde onderwys, word dus ‘n prinsipiële vertrekpunt geneem waarin die student of leerder sentraal staan en die dosent of fasiliteerder op die agtergrond geskuif word.

Daar is al baie geskryf oor die onderwerp van uitkomsgebaseerde onderwys. Die doel is dus nie om hier ‘n deeglike bespreking van die onderwerp te gee nie, maar eerder net die basiese vertrekpunte aan te dui. Uitkomsgebaseerde onderrig (UGO) is ‘n moderne opvoedkundige benadering wat klem plaas op meetbare prestasie-uitkomste. Onderwys word gestruktureer om seker te maak dat alle leerders bepaalde akademiese doelwitte bereik deur ‘n gestandaardiseerde kurrikulum, voorgeskrewe rubrieke en assesseringstrategieë. UGO is gegrond op die beginsel dat alle leerders dieselfde standaarde kan bereik, mits hulle voldoende tyd, ondersteuning en geleenthede ontvang. Hierdie standpunt is op verskeie maniere direk in teenstelling met die beginsels van klassiek-Christelike onderwys.

Die klassiek-Christelike onderwys erken ongelykheid van roeping en aard. Dit gaan van die vertrekpunt uit dat elke mens uniek is en geskape is met verskillende gawes, temperamente, roepings en kapasiteite. Plato en Aristoteles het geglo dat nie almal tot dieselfde intellektuele of morele vlak geroep is nie, maar elkeen het ’n plek in die orde van die skepping. Die Christelike tradisie beaam dit. UGO wil egter standaarde gelykmaak en studente wat nie presteer nie, moet begelei word tot hulle “op standaard” is, of in groepe werk dat die sterkes die swakkes kan help. Dit ignoreer die Bybelse beginsel van verskeidenheid van gawes en behandel alle leerders as sou hulle tot presies dieselfde eindresultate kan en móét kom. Dit is dus ‘n kunsmatige eenvormigheid wat die Bybelse werklikheid van diversiteit verontagsaam. So beskou, word die leerder ’n meetbare prestasie-projek deurdat eindresultate gemeet, vergelyk en statisties verduidelik kan word. Dit gaan van die veronderstelling uit dat die “slimmes” vooruitgaan en die “dommes” agterbly.

Hierteenoor sien die klassiek-Christelike tradisie opvoeding as die vorming van die siel wat ’n proses is wat nie gelyke uitkomste het nie, want elke persoon is op ‘n ander vlak. Binne die KCT word ‘n beroep nie die uitkoms van onderrig nie, maar die ontdekking van die student se roeping. In dié opsig word elke beroep as ‘n eerbare roeping beskou, of iemand nou ‘n dokter of ‘n motorwag word, elkeen het ‘n belangrike plek in die skepping en dien ‘n godgegewe doel waarop niemand behoort neer te sien nie. Die doel is nie dat almal dieselfde moet doen nie, maar dat almal gevorm word om in harmonie met waarheid, goedheid en skoonheid te leef. UGO meet sukses aan standaarde en doelwitte. Die klassiek-Christelike onderrig meet sukses aan volwassenheid in deug en wysheid. Byvoorbeeld: iemand wat skoonheid uitleef in die beeldende kuns of musiek, het nie noodwendig dieselfde intellektuele vermoëns nodig as die een wat ‘n mediese spesialis word nie, maar dit maak nie musiek of die beeldende kuns minder relevant vir waarheid, goedheid en skoonheid nie. UGO gaan van die veronderstelling uit dat studente opgelei word om ‘n beroep te beoefen. KCT gaan van die veronderstelling uit dat studente opgelei word om die lewe te verstaan en hulle roeping op alle lewensterreine uit te leef.

UGO se sosialistiese klem op gelyke uitkomste, gestandaardiseerde raamwerke, leerder-fokus en uiteindelik ook staatsverantwoording, verplaas die fokus van opvoeding van innerlike vorming van die hele mens na uiterlike prestasie met die oog op ‘n beroep. Dit vervorm die mensbeeld van die klassiek-Christelike paideia, waar opvoeding ’n proses van sielsvorming, morele verdieping en verwondering oor die goddelike is. UGO is dus nie net ’n ander metode van onderwys nie, maar ’n ideologiese verskuiwing weg van die wese van onderrig soos verstaan deur eeue van klassieke- en Christelike filosofie.

 

Die herwinning van die klassiek-Christelike onderwys

‘n Mens moet nugter en realisties wees as ‘n mens die vraag vra: hoe herwin ons die klassiek-Christelike tradisie in die onderwys? Die eerste stap is om te erken: ons is in die stelsel, maar nie van die stelsel nie. Dit beteken dat ons nie die UGO-stelsel oornag kan verander nie. Die werklikheid is dat die stelsel tans die dominante struktuur in onderwys is. ‘n Ander werklikheid is dat baie Christene so in die waters van die stelsel swem, dat hulle nie die vermoë het om die probleem te sien nie of nie die nodige kennis van hoe die klassiek-Christelike tradisie deur die eeue gelyk het om te besef daar is ‘n wesenlike verskil tussen die stelsels nie. Dit is dus onrealisties om te dink jy gaan UGO summier afskaf of jou kinders daarvan weerhou.

Wat ons nodig het, is ‘n “detoks-program” wat dosente, onderwysers en studente in die gees en bedoeling van KCT inlyf, binne die huidige struktuur van UGO. Dit vereis wysheid, kreatiwiteit en strategiese aanpassing.

 

Enkele praktiese voorstelle

‘n Praktiese manier om die klassiek-Christelike tradisie in die onderwys te herwin, is om seker te maak dat meer-en-meer onderwysers in die klassiek-Christelike tradisie opgelei word. Selfs binne die huidige stelsel het elke onderwyser ruimte om hul eie benadering te kies. Die klassiek-Christelike tradisie vereis dat die onderwyser of dosent as “paidagogos” optree. Dit is iemand wat vir kinders ‘n model voorhou van Christelike deug. Dit is byvoorbeeld, iemand wat nie saam met die studente vloek en skel nie, maar ‘n voorbeeld is van iemand wat ‘n wag voor hulle mond hou. Dit is iemand wat verwondering in leerders wakker maak, deur te wys op die goedheid en die skoonheid van die skepping en die orde waarbinne alles geskep is. Dit is iemand wat gesprekke rig na waarheid en die sin van die lewe, nie net feite oordra nie.

Selfs al moet studente voorberei word vir assesserings, kan dit gedoen word met warmte, deur byvoorbeeld die verhaal te vertel van hoe ons tot hierdie kennis gekom het, dit kan aansluit by die simboliek en wysheid vanuit die eeue en betekenisvolle vrae vra wat studente laat nadink oor hoe hulle deur die verworwe kennis waarheid, goedheid en skoonheid kan uitleef.

Waar voorgeskrewe werke gekies kan word, gebruik klassieke tekste of verhale wat Christelike morele waardes illustreer, soos die boeke van CS Lewis, John Bunyan se Pilgrim’s Progress, Homeros se Illiad & Odessius en vele ander wat maklik bekombaar is.

Gebruik Christelike kuns en -musiek in die kurrikulum waar moontlik. Vra vrae soos “Wat sê hierdie idee oor menswees of oor God?” of “Wat is die waarheid in hierdie situasie?” en “Watter skoonheid ontdek ons in hierdie oplossing?”.

Gebruik platforms soos WhatsApp-groepe, webblaaie of gereelde koffiesessies om idees vir betekenisvolle Christelike onderrig te deel. Die geheim lê in subtiele verandering van denke, nie in openlike verset teen die heersende stelsel nie.

Hervorming neem tyd. Die stelsel gaan nie oornag verander nie, maar ons kan elke dag ’n saadjie van verwondering plant, gesprekke en klasse betekenisvol rig, lesings so ontwerp dat dit die siel en verstand voed.

 

Samevatting

Die klassiek-Christelike tradisie glo dat opvoeding nie ‘n werk is nie, maar ‘n roeping. Die onderwyser of dosent plant saadjies. Die Gees laat groei waar en wanneer Hy wil.