Die hemel is ‘n plek en nie ‘n toestand nie

deur prof. Gerrit Smit

Inleiding

In ’n wêreld waar geloofsoortuigings al hoe meer benader word asof dit afhang van die mening van die meerderheid, is dit noodsaaklik om as Christene duidelik te formuleer waarom geloof in die letterlike bestaan van die hemel ’n fundamentele waarheid in die Bybelse leer is. Die Bybel bied ’n perspektief op die hemel as ’n werklike plek, wat voorberei word deur Christus self, waar gelowiges in ewige gemeenskap met God sal verkeer. Hierdie waarheid is nie opsioneel vir die geloof nie, want dit anker die eskatologiese verwagting, morele lewe, en troos van die kerk deur die eeue heen in die belydenis van wat die Bybel daaroor leer.

 

Teoloë se sienings en die Bybel se voorstelling van die hemel

Verskeie teoloë verwerp die tradisionele Christelike begrip van die hemel as ’n werklike plek en beskou die hemel as ’n toestand of ervaring van goddelike teenwoordigheid, eerder as ’n ruimtelike werklikheid, soos bv. Karl Rahner[1], Paul Tillich[2] en Rudolf Bultmann[3]. Hoewel Jürgen Moltmann wel die hemel in verband bring met die komende koninkryk van God, beklemtoon hy die eskatologiese karakter van die skepping wat volgens hom nog herskep moet word en gevolglik nog nie bestaan nie[4]. Daarom lees baie Moltmann se standpunte oor die hemel dat hy ‘n toestand van uiteindelike versoening verstaan, eerder as ’n fisiese “plek”.

Sommige meen ook dat NT Wright die hemel as ’n fisiese plek verwerp [5]. Dit is egter duidelik as mens NT Wright se werke self lees dat hy nié die hemel as ’n fisiese plek verwerp nie. Hy kritiseer wel die tradisionele siening van die “hemel as eindbestemming” omdat Hy meen gelowiges deel nou reeds in die werklikhede van die oorwinning, en hoef nie te wag totdat hulle “eendag” daar kom nie. Hy beklemtoon dat die “finale hoop” die nuwe hemel en aarde is, en dat die konsep “hemel” dikwels verkeerd verstaan word. Sommige interpreteer Wright gevolglik verkeerd asof hy die hemel net as ’n toestand verstaan. Wright meen wel dat die hemel nou die plek is waar Christus is, en dus werklik en liggaamlik daar verkeer, al is dit in ’n ander, geestelike dimensie[6].

Die Skrif leer konsekwent dat die hemel nie slegs ’n abstrakte toestand van geluk of geestelike bewussyn is nie, maar ’n fisiese bestemming. Jesus self het gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings… Ek gaan om vir julle plek te berei” (Joh. 14:2). Hierdie taal impliseer ‘n fisiese werklikheid.

Uit ’n logiese oogpunt, is dit onmoontlik om te beweer dat Christus na sy hemelvaart bloot na ’n “toestand” gegaan het, en nie na ’n werklike plek nie. Hierdie idee sou die werklikheid van sy menswording, die werklikheid van sy verheerlikte liggaam en die aard van sy “voorbereiding van ons plek” ondermyn.

 

Christus het in liggaam opgevaar, dus móés Hy na ’n plek gegaan het

Volgens Handelinge 1:9–11 het Christus liggaamlik opgevaar voor die oë van sy dissipels. Die engele wat daar verskyn het, het gesê: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het”. Die hemelvaart en belofte dat Hy weer so kom, veronderstel dat Jesus na ’n werklike, ruimtelike bestemming gegaan het.

’n Toestand of gevoel het geen koördinate, rigting of grens nie. Daarteenoor sê die Skrif Jesus het “heengegaan na die hemel” (1 Pet. 3:22). As die hemel slegs ’n innerlike toestand of ’n geestelike gevoel was, sou die liggaamlike aard van Christus se opstanding en hemelvaart sinloos wees. Liggame neem ruimte in beslag; daarom moet Christus se huidige bestaan in ruimte wees, weliswaar in ’n ander vorm, maar steeds werklik.

Die Nuwe Testament leer dat Christus tans sit aan die regterhand van God (vgl. Ef. 1:20; Heb. 1:3; Rom. 8:34; 1 Pet. 3:22). Aangesien Christus en die Vader een is, en Christus nie van die Vader geskei, vermeng of losgemaak kan word nie, dui die sit aan die regterhand van die Vader nie op rangorde nie maar op plek. Twee belangrike sake kom hieruit na vore, naamlik i) dat Hy by die Vader is, en ii) dat Hy ’n ereposisie beklee. Dat Christus by die Vader is, veronderstel dat die hemel ’n plek is en nie ’n toestand nie.

As Christus slegs in ’n toestand sou wees, kan Hy nie werklik tussenbeide tree vir ons (Heb. 7:25), of as Middelaar funksioneer nie. Die Skrif leer egter dat Hy as die mens Jesus Christus (1 Tim. 2:5) hierdie werk doen – dus as liggaamlike, verheerlikte Persoon op ’n werklike plek.

Indien Christus ná sy hemelvaart nie op ’n werklike plek sou wees nie, maar eenvoudig “opgegaan het in ’n goddelike sfeer” of “ontbind het in ’n geestelike toestand”, sou dit neerkom op ’n ontkenning van die volgehoue werklikheid van sy menslike natuur. Maar die Konsilie van Chalcédon (451 n.C.) bevestig dat Christus se mensheid ná sy hemelvaart nie ophou bestaan het nie: dit is onvermeng, onverdeel en ewig met sy Godheid verenig.

’n Toestand van saligheid sou die leer van die vleeswording aantas: Christus sou dan net tydelik mens geword het, en ná sy werk weer “vergeestelik” het. Maar die Bybel leer juis dat Hy die “eerste uit die dood is wat nie weer sterf nie” (Openb. 1:18).

 

Christus se wederkoms vereis ’n plek waarvandaan Hy sal terugkeer

Die Skrif leer dat Christus weer sal kom vanaf die hemel (1 Thess. 4:16; Hand. 1:11). As die hemel slegs ’n geestelike toestand is, waarvandaan kom Hy dan terug? Slegs ’n werklike, geografies-bestaande hemel kan die vertrekpunt wees vir ’n toekomstige wederkoms in liggaamlike vorm. Anders sou die wederkoms simbolies of allegories wees, wat die fisiese opstanding van die gelowiges ook ondermyn.

Die geloof in die hemel is nie net ’n troos dat iets beter eendag op ons wag nie, maar ’n etiese motivering in die hede. Matlock merk op dat baie mense, selfs nie-gelowiges, graag wil glo dat die hemel werklik bestaan: “They hope it’s true. They tell their kids that ‘Grammy is in heaven now.’”[7]  Maar vir gelowige Christene gaan dit nie oor ‘n sentiment om te troos oor die dood nie, maar oor sekerheid gegrond op Christus se opstanding, want so seker as wat Christus opgestaan het, sal ons ook opstaan.

Die wete dat ons bestemming in Christus verseker is, bied vir ons troos én morele aansporing. Dit rig gelowiges se gedrag en gee betekenis aan lyding, want ons burgerskap is in die hemel (Flp. 3:20). Gelowiges leef dus met ‘n ewigheidsdoel voor oë in die lig van God se finale herskepping.

 

Is daar ‘n tussen-toestand?

Sommige teologiese beskouinge voer aan dat daar ’n sogenaamde intermediêre toestand is waarin die siel van ’n gelowige ná die dood in ’n bewuste toestand verkeer terwyl dit wag op die finale opstanding. Hierdie siening probeer versoen dat die liggaam nog nie verheerlik is nie, maar dat die siel reeds in Christus se teenwoordigheid is (soos afgelei uit tekste soos Filippense 1:23 en 2 Korintiërs 5:8). Alhoewel goed bedoel, loop hierdie benadering die gevaar om onbewustelik dualisties te wees, aangesien dit liggaam en siel van mekaar losmaak op ’n wyse wat nie ooreenstem met die Bybel se mensbeeld nie.

Jesus se woorde aan die misdadiger aan die kruis – “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk. 23:43), dui op ‘n onmiddellike, nie-uitgestelde, gemeenskap met Christus ná die dood. Daar is geen aanduiding van ’n wagtoestand of voorportaal in die hemel nie. Vir die gelowige is afsterwe gelyk aan “by Christus wees”: dít is hemel.

Nêrens in die Bybel word die idee ondersteun dat gelowiges vir eeue in ’n bewussynstoestand sonder liggaam verkeer of dat siele oor die aarde swerf totdat die eindoordeel en die opstanding van die liggaam plaasvind nie. Die opstanding is inderdaad liggaamlik, maar die Bybel impliseer dat tyd in die ewige sfeer nie soos aardse tyd werk nie. Daarom kan die dood en die opstanding vir die gelowige een en dieselfde moment wees.

Om aan te voer dat gelowiges na die dood in ’n wagtoestand verkeer, suggereer dat Christus se werk nog nie ten volle toegepas is nie. Maar die Skrif leer dat “daar is nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1), en dat hulle reeds in die hemele saam met Christus sit (Ef. 2:6). In Christus is gelowiges reeds in beginsel opgeneem in die hemelse werklikheid: geen tussenfase of sieleslaap is nodig of Bybels nie.

Reformatore soos Calvyn en Luther het sterk teen die Rooms-Katolieke leer van die vagevuur geprotesteer. Die vagevuur is ’n leer wat as ’n “tussenplek” tussen hemel en hel gefigureer het waar mense volgens die Roomse leer boete doen vir hulle sonde deur in ‘n vuur te brand.

Hemel beteken om by Christus te wees en dit begin op die oomblik van afsterwe. Hierdie sekerheid is pastoraal en eksistensieel onontbeerlik vir dié wat nog in die lewe is en troos put uit die afsterwe van geliefdes.

 

Slotgedagte

Die ontkenning van die hemel as ’n fisiese, werklike plek waar Christus tans regeer, is nie bloot spekulasie nie. Nee, dit raak aan die kern van die Christelike geloof: die vleeswording, die hemelvaart, die versoening, die wederkoms, en die ewige heerskappy van Christus. Daarom bely die ware kerk deur alle eeue: Christus leef nou, in liggaam en gees in die hemel en Hy kom weer, liggaamlik, uit die hemel.

Die hemel is nie ’n vae droom nie, maar die einddoel van God se verlossingsplan. Hodge stel dit so: “Of heaven… we are told far more in the Scriptures than we are told of the final punishment of the wicked.”[8] Hierdie onewe balans in openbaring dui daarop dat God bedoel het dat gelowiges moet fokus op die beloning en nie op straf of vrees vir die dood nie. Hierdie visie sluit aan by die Nuwe-Testamentiese belofte van ’n nuwe hemel en nuwe aarde (Openb. 21), waarin daar geen sonde, pyn of dood meer sal wees nie, maar waarin verhoudings en liggaamlikheid wél voortbestaan.

 

Verwysings

[1] Karl Rahner, Theological Investigations, vol. 3 (New York: Crossroad, 1982), 241–245.

[2] Paul Tillich, Systematic Theology, vol. 3 (Chicago: University of Chicago Press, 1963), 410–412.

[3] Rudolf Bultmann, New Testament and Mythology, vertaal deur: Schubert M. Ogden (Philadelphia: Fortress Press, 1984), 3–5.

[4] Jürgen Moltmann, The Coming of God: Christian Eschatology (Minneapolis: Fortress Press, 1996), 56–60.

[5] https://douglasjacoby.com/christians-dont-go-to-heaven-n-t-wright/

[6] N.T. Wright, Surprised by Hope: Rethinking Heaven, the Resurrection, and the Mission of the Church, (New York: HarperOne, 2008), 18–22.

[7] Mark Matlock, Don’t Buy the Lie: Discerning Truth in a World of Deception (Grand Rapids, MI: Zondervan, 2010), hoofstuk 12.

[8] Archibald Alexander Hodge, Popular Lectures on Theological Themes (Philadelphia: Presbyterian Board of Publication, 1887), 439.