Wat het van Riebeeck en die Dordtse Leerreëls met mekaar te doen?

Die gelofte van Jan van Riebeeck op 6 April 1654 en die betekenis vir ons vanuit die belydenis van Dordt

prof. Gerrit Smit

Betekenis vir die opkomende geslagte

“…en jy moet dit jou kinders inskerp…” (Deut. 6:7) 

Voorop in die Here se gesprek  met Sy volk in Deuteronomium 6:4-9 staan die woordjie “HOOR!” En in dié opdrag word die jeug telkens betrek. Ps. 78:3-4 herhaal die opdrag: “Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het”.

Wanneer Israel op die drumpel staan om die beloofde land binne te trek en dit in besit te neem  is daar ‘n brandende dringendheid; die godsdienstige onderrig van die kinders van God se volk! 

In die gelofte van van Riebeeck word die opdrag gegee dat die weldade van die Here nooit deur ons nakomelinge vergeet mag word nie maar in herinnering gehou moet word, nie tot eer van van Riebeeck nie, maar tot eer van God. Deur die gelofte te hou, erken die gelowige Afrikaner dat God in beheer is van die geskiedenis en dat die eer aan Hom behoort. Dit is ‘n opdrag van die Skrif dat die jeug ook in hierdie belydenis moet saamloop.

 

Van Riebeeck kom na die Kaap met die gereformeerde leer

Dit is baie belangrik dat ons nie die historiese verloop van die reformasie in die volksplanting van 1652 moet vergeet nie. Volksgeloftes vloei voort uit die reformatoriese belydenis van die beskikking van God.

In die teologie van die Rooms Katolieke kerk het die Semi-Pelagianisme ‘n hoogbloei beleef. Hulle het geleer dat die mense deur sy goeie werke kan bydra tot sy saligheid. Tydens die groot Reformasie van die 16de eeu, het die reformatore met hierdie Semi-Pelagiaanse dwaalleer (wat beweer dat die mens deur sy werke gered kan word) gebreek en weer teruggegryp na die Skrif en die belydenis van God se uitverkiesende genade en gevolglike totale beheer van die skepping. 

Alle gereformeerdes het egter nie dieselfde gedink oor die saak nie – sommige was meer tolerant teenoor die leer van Pelagius en gemeen dat die mens tog ‘n vrye wil het en kan kies vir God of nie. Toe Nederland in die laaste kwart van die sestiende eeu sy vryheid van Spanje (wat ‘n Rooms-Katolieke land was) verower en die gereformeerde godsdiens die heersende godsdiens in die land geword het, was daar gevolglik reeds twee stromings in die gereformeerde kerklike lewe onderskeibaar: diegene wat die gereformeerde belydenis in ooreenstemming met die tradisie sedert Calvyn voorgestaan het, en diegene wat ’n meer tolerante, moralistiese en humanistiese vertolking daarvan  gevolg het. Die twee stromings het steeds duideliker uitgekristalliseer as dié van die Calviniste en die Libertyne of later bekend as Remonstrante. 

Die groot stryd tussen die groepe het uitgebreek toe die Libertyne, ondanks teenstand uit behoudende kringe, daarin geslaag het om Jacobus Arminius in 1603 benoem te kry tot professor in die teologie aan die Universiteit van Leiden. Reeds in 1604 het dit duidelik geword dat hy en sy kollega, Franciscus Gomarus, heeltemal verskillend oor die weg van saligheid en die uitverkiesing asook God se soewereiniteit gedink het. Die verskille het spoedig uitgekring en die gemoedere in beweging gebring, veral toe leerlinge van Arminius sy opvattings van die kansels begin verkondig het. Arminius self is in 1609 oorlede, sodat die eintlike stryd rondom die vraag oor die uitverkiesing eers na sy dood plaasgevind het. 

Utenbogaard het toe die leier van die Arminiane geword. In 1610 lê hy saam met veertig ander ’n Remonstrantie of verweerskrif aan die State van Holland voor om die posisie van die Arminiane te verduidelik. In 1611 antwoord die Gereformeerdes onder leiding van die predikant Festius Hommius daarop met ’n contra-remonstantie waarin die standpunte van die Remonstrante weerlê word. Vandaar het dit gebruiklik geword om na die partye as die Remonstrante (Arminiane) en die kontra-Remonstrante (Gereformeerdes of Gomariste) te verwys.

By die alombekende Sinode van Dordrecht (1618–1619) is die Remonstrante se leer veroordeel en die vyf Dordtse Artikels opgestel en goedgekeur. Dit was die geboorte van die Dordtse Leerreëls (DL). Op grond daarvan is ’n suiweringsaksie onderneem waarin meer as 200 predikante in Nederland uit die amp van leraar afgesit is.  

 

Die Dordtse Leerreëls bely God se beskikking oor volke en nasies 

Die DL bely saam met die ander Gereformeerde belydenisskrifte die absolute heerskappy van God oor die lotgeval van mense en volke. In die volksplanting sien ons dan juis ook die beskikking van God dat die remonstrante stryd teen 1618/1619 afgehandel was en van Riebeeck in 1652 die gereformeerde leer wat die uitverkiesing van God en sy beskikking oor volkere bely, in Suidelike Afrika indra.

 

Van Riebeeck se gelofte getuig van God se genade en voorsienigheid

In van Riebeeck se gelofte vind ons die kragtige reformatoriese getuienis van God se verkiesende genade in die verloop van die geskiedenis en dat niks per toeval gebeur nie, in die woorde “ons het besluit om hierdie dag, die 6de april, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel…”.

 

Dit gee ons ‘n toekomsperspektief

Dit is dus op grond van die oorwinning van die Calvinisme oor die Libertynse dwaalleer aan die begin van die 17 eeu dat van Riebeeck se gelofte die Calvinistiese belydenis onderskryf van “ons het tot hier gekom deur die beskikking van God alleen”.

Die gelofte van Jan van Riebeeck op 6 April 1654, twee jaar na hulle aan die Kaap gekom het, bring nie alleen die belydenis van Dordt oor God se uitverkiesing en beskikking oor die lot van mense aan die orde nie, maar plaas gevolglik ook die toekoms in perspektief, want as hulle, en sedertdien ook ons, tot hier gekom het alleen deur God se genade, kan ons staat maak dat daar in donker Afrika ‘n toekoms vir God se kinders is want dieselfde genadige God is vandag nog in beheer. Die gelofte van Jan van Riebeeck getuig van die voorsienigheid van God, en hoe Hy oor mense se toekoms beskik.

Ons toekoms is vervolgens óók in Sy hande want niks gebeur buite sy Raadsplan nie – ‘n prominente tema in die Dordtse Leerreëls.