Die gebruik van lossing in die Ou Testament

Die gebruik van lossing

Prof. Gerrit Smit

In hierdie artikel kyk ons na die Ou-Testamentiese gebruik van lossing. Ons beoordeel die saak ook in die lig van die Nuwe Testament. Dit is uiteraard nie die belangrikste gebruik in die Bybel nie, ook nie die enigste of die eerste gebruik waarmee ons in die Bybel te doen het nie. Maar om die gebruik van lossing te verstaan kan vir die leser van die Bybel baie “moeilike” gedeeltes oopsluit, veral met betrekking tot die verband tussen die Ou- en Nuwe Testamente.

Wat was lossing gewees?

Lossing het plaasgevind wanneer ‘n familielid wat self weens armoede sy besittings moes verkoop of verloor het, en sy besittings so in vreemde hande gekom het, deur die naaste manlike bloedverwant gehelp word deurdat hy die grond of die besittings moes koop om dit binne die familie se besit te hou. Dit was die losser se plig om die grondbesitting van sy naaste familielid te los.

Hierdie lossingsgebruik was ook van toepassing as ‘n man binne ‘n familie sterf. Dit was dan die naaste manlike lid van die familie se plig om die weduwee te trou en vir haar en haar kinders te sorg. Trouens, hierdie lossing was ’n handeling wat ook i.v.m. die eersgeborenes voorgekom het. As die bloedwraak aan die losser opgedra is, is hy die bloedwreker genoem (Lev. 25:23–28, 47–55; Num. 5:8).

Die lot van vroue en kinders in die antieke samelewing

In die Mosaïese wetgewing staan baie bepalings wat die kinders en weduwees beskerm het (Ex. 22:22; Deut. 10:18; 14:29; sien ook uitsprake soos Ps. 68:6; 146:9; Spr. 15:25; Jer. 49:11). Die Here sê dat Hy die Beskermer van die weduwees en wese is. In die Gelykenis van die onregverdige regter word ’n weduwee as voorbeeld gestel dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos moet word nie (Luk. 18:1 e.v).

Die onderhoud van die weduwees lei in die dae van die apostels tot die instelling van die diakenamp, (Hand. 6:1 e.v.), omdat die Griekssprekende weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is. In teorie was daar voorsiening gemaak vir die versorging van die weduwees en hul kinders.

In die praktyk was daar egter soms ‘n erge verdrukking en uitbuiting van die armes (gewoonlik weduwees en weeskinders). As persone hulle tog verdruk, sê die Here, sal Hy hulle hulpgeroep sekerlik hoor en sy toorn sal ontvlam en Hy sal hulle wat die weduwees en die wees verdruk, met die swaard ombring sodat húlle vrouens weduwees en húlle kinders wese word (Ex. 22:23 e.v.).

Waarom het weduwees so ‘n lot gehad?

Ons moet besef dat die antieke oosterse samelewings anders gefunksioneer het as die moderne westerse samelewings. In die Bybelse tyd kon slegs mans gewerk het vir ‘n inkomste. Vroue was ook verplig om te werk, deur take in die huis te verrig, kos voor te berei, water by die put of fontein te skep vir huislike gebruik, en klere te maak. In sommige gevalle het die vroue ook gehelp met die bewerking van landerye en die oes van die lande. ‘n Vrou mag egter nie in hierdie tyd vergoed gewees het vir haar werk nie. Indien dit sou gebeur, was die samelewing se opvatting dat so ‘n vrou wat vergoeding ontvang, prostitusie bedryf. Slegs prostitute het vergoeding vir hul dienste aanvaar, en in die oë van die samelewing was hulle veragtelik gewees, en is hulle deur die gemeenskap uitgesluit uit die daaglikse roetine.

‘n Vrou mag ook nie die besittings van haar man geëerf het nie; dit het die oudste seun toegekom. Indien die man dit so verkies het, kon hy ook ‘n heelwat kleiner deel aan sy tweede of derde of hoeveelste seun nalaat (Dink aan die gelykenis van die verlore seun, waar die tweede seun aanspraak maak op sy erfdeel). Die oudste seun moes egter die meeste ontvang.

Indien die vader van ‘n huis sou sterf (wat heel moontlik was binne die antieke samelewing a.g.v siekte, oorlog, opstande of vermoording – die lewensverwagting van mans in de Bybelse tyd was maar 35-40 jaar!), moes die oudste seun die verantwoordeklikhede van die huis oorneem, en sy ma versorg. In baie gevalle het hierdie gebruik goed gewerk. In sekere gevalle was daar seuns wat hierdie erfgeld uitgedrink het saam met sy vriende, en mettertyd alles verloor het. So ‘n seun kon dan maklik weer ‘n werk kry om aan die lewe te bly, maar die versorging van sy “gesin” sou hy nie kon bybring nie. In sulke gevalle, of waar daar nie meer ‘n lewende seun was nie, moes die losser intree.

Was die man verplig om as losser op te tree?

In die boek Rut lees ons die meeste van die gebruik van lossing. In Rut 3:12-13 besef Boas dat hy ‘n bloedverwant van Rut is, maar dat daar ‘n nader bloedverwant leef. In vers 13 noem Boas dat hy die lossingsreg sal uitoefen, “as hy nie lus het om jou te los nie”. Die man was dus nie verplig om iemand te los nie, maar indien hy sou kies om dit te doen, was dit ‘n lewenslange verbintenis. Die gebruik van lossing Nuwe Testamenties beskou Die gebruik van lossing het ‘n besondere geestelike betekenis binne die Nuwe Testament gekry.

Die woord wat in die Ou Testament gebruik word vir lossing/losser word in die Nuwe Testament voortdurend vertaal met Verlosser. Om ‘n losser te wees of ‘n verlosser het dieselfde betekenis. In die Nuwe Testament word die mens as ‘n verlossingbehoewende wese voorgestel.

Daar is vir die mens wat arm staan voor God net een uiteinde, dit is die dood (Rom 3:19). God bewerk ‘n Verlosser/Losser (Christus) om ons uit die band van slawerny (die duiwel) los te koop. So ontstaan daar nou ‘n lewenslange verbintenis (verbond) tussen die gelowige en Christus.

Slot

Die gebruik van lossing help ons nie net om die armsalige omstandighede van die wees en weduwees raak te sien nie, maar help ons om in die lig van die Nuwe Testament te verstaan wat die betekenis van die koms van Christus teologies inhou. Dit verbreed ons perspektief op die koms van Christus as ons besef dat ons net so verlore was soos die weduwee van destyds, sou Christus nie as Losser optree nie.