Die bewaring van God se Woord deur die eeue

Deur Prof. GDS Smit

Die Bybel is nie bloot ‘n versameling ou tekste nie; dit is die geïnspireerde Woord van God wat deur die eeue op ‘n besondere wyse bewaar is. Alhoewel ons nie meer oor die oorspronklike manuskripte van die Bybel beskik nie, getuig die oorblywende handgeskrewe kopieë van ‘n besondere goddelike sorg. Die geskiedenis van hierdie manuskripte bied vir die gelowige en die Bybelstudent ’n kosbare kykie in die wyse waarop God sy Woord bewaar het, sodat dit tot vandag toe gelees en bestudeer kan word.

Die woord “manuskrip” beteken letterlik “met die hand geskryf”. Voor die uitvinding van die boekdrukkuns deur Johannes Gutenberg in 1439, moes alle boeke, insluitend die Bybel, met die hand oorgeskryf word. Hierdie proses was arbeidsintensief en het ‘n groot mate van toewyding vereis. Ten spyte hiervan het God se Woord wonderbaarlik behoue gebly.

Drie plekke in die wêreld beklemtoon op treffende wyse die pad van Bybelkopiëring, -bewaring en -herontdekking: die klooster van Santa Katarina in Egipte, die Qumrangrotte naby die Dooie See, en die Bewaarplek van die Boek in Jerusalem.

St. Katarina, Sinaï

Oudste oorlewende kopie van die teks van die Nuwe Testament deur Johannes Scholastikos (7de eeu n.C.) in die biblioteek van St. Katarina.

Aan die voet van die berg Horeb lê die klooster van Santa Katarina, een van die oudste Christelike kloosters ter wêreld. Dit is hier waar die Kodeks Sinaïticus, een van die oudste volledige manuskripte van die Nuwe Testament, ontdek is. Hierdie manuskrip dateer uit die vierde eeu n.C. en is van onskatbare waarde vir die tekskritiek en vertaling van die Nuwe Testament. ’n Deel van die oorspronklike teks word steeds in die klooster se biblioteek bewaar. Die Kodeks Sinaïticus behoort tot die Alexandrynse tekstradisie, wat ’n belangrike rol gespeel het in die samestelling van die Griekse Nuwe Testament wat wêreldwyd as basis dien vir Bybelvertalings.

 Bo: Buite aansig van die St. Katarina klooster in die Sinaïwoestyn.

 

Bo: Die voltydse teologiese dosente van die AP Akademie in die biblioteek by St. Katarina

Khirbet Qumran, Dooie See

Een van die mees opwindende ontdekkings in Bybelgeskiedenis het in 1948 plaasgevind aan die westelike oewer van die Dooie See, by Khirbet Qumran. In grotte naby hierdie gebied is manuskripte in Hebreeus en Aramees ontdek, wat later bekend geword het as die Dooie Seerolle. Hierdie manuskripte is die werk van ‘n afgeslote Joodse gemeenskap wat tussen die tweede eeu v.C. en die eerste eeu n.C. daar gewoon het. Al die boeke van die Ou Testament, behalwe Ester, is onder hierdie rolle gevind. Dit maak van die Qumranmanuskripte die oudste bekende kopieë van die Ou Testament.

 

Bo: Qumran grot 4. 90% van die Dooie Seerolle is in hierdie grot ontdek.

 

Bo: ‘n Voorstelling van een van die Dooie Seerolle in die museum by Khirbet Qumran.

Deur sy genade het God hierdie manuskripte vir eeue lank bewaar, sodat ons dit vandag nog kan lees. Hulle getuig van die akkuraatheid en betroubaarheid van die teks wat aan gelowiges deur die eeue oorgelewer is.

Die Bewaarplek van die Boek, Jerusalem

Bo: Die buitekant van die “Bewaarplek van die Boek”. Die wit koepeldak teenoor die swart muur simboliseer die stryd om die lig van die Woord te bewaar te midde van die duisternis.

Die “Shrine of the Book” of “Bewaarplek van die Boek” is ’n afdeling van die Israelmuseum in Jerusalem wat sewe oorspronklike manuskripte van Qumran huisves. Hierdie museum is egter veral bekend vir die bewaring van die Kodeks Aleppo, een van die oudste en mees volledige Hebreeuse tekste van die Ou Testament naas die Qumranrolle. Die argitektuur van die museum self is simbolies: die wit koepeldak verteenwoordig die lig van God se Woord, terwyl die swart muur langsaan herinner aan die duisternis wat altyd teen die lig gekant is.

Samevatting

Die geskiedenis van die Bybel is ‘n verhaal van goddelike beskerming en voorsiening. Alhoewel vyande van die geloof deur die eeue probeer het om die lig van God se Woord te verdof, het Hy dit op wonderbare wyse bewaar.

Vandag kan gelowiges met vrymoedigheid en dankbaarheid die Bybel lees en weet dat hulle die ware Woord van God in hande het. Hierdie bewaring is nie bloot ‘n menslike prestasie nie, maar ’n getuienis van God se trou aan sy kerk en sy belofte om sy Woord vir alle geslagte te bewaar.