Die volharding van die heiliges volgens Cyprianus
Die volharding van die heiliges volgens Cyprianus (200-258 n.C.)
prof. Gerrit Smit
Inleiding
Cyprianus was een van die kerkvaders uit Karthago, Noord-Afrika. Dit is vandag geleë in Tunisië. Naas Chrysostomos (347-407 n.C.) en Augustinus (354-430 n.C.), het Cyprianus een van die grootste invloede op die kerkhervormers, onder andere Johannes Calvyn en Martin Bucer, uitgeoefen[1].
Agtergrond
‘n Mens kan eintlik nie reg laat geskied aan die teologie van Cyprianus, as ‘n mens nie kennis geneem het van die teologie van Tertullianus nie. Cyprianus was ’n opvolger van Tertullianus, en het die grootste invloed uit Tertullianus se prediking en werke gehad. Daar word vertel dat daar nie ’n dag verbygegaan het waarop Cyprianus nie iets uit die Bybel gelees het en dit vergelyk het met wat Tertullianus daaroor gesê het nie. Vandaar toon sy teologie baie ooreenkomste met dié van Tertullianus. Hoewel Cyprianus bekend is as dié kerkvader wat die kinderdoop geleer het, het hy ’n reuse bydrae gelewer in die kerk se verstaan van die onderskeid tussen die sigbare- en onsigbare kerk, asook die leer oor die uitverkiesing van God. Dit is dus te verstane dat Cyprianus so groot invloed op die kerkhervormers se teologie gehad het.
Cyprianus was nie die intellektuele reus wat Tertullianus was nie, maar sy goedhartigheid, opregtheid en erns waarmee hy die kerk bedien het, het hom gou baie geliefd gemaak onder die gelowiges. Hy was maar minder as ’n jaar lank leraar in die kerk in Karthago, toe die groot vervolging van die Christene onder keiser Decius, in 250 na Christus, uitgebreek het. Dit was nie die eerste vervolging van die kerk nie, maar Decius se vervolging het vir die eerste keer oor die héle Romeinse ryk gestrek. Derhalwe het dit ook na Noord-Afrika oorgespoel, wat andersins tot dusver dikwels die vervolgings vrygespring het. Dié keer was daar vir die Christene min wegkruipplek.
Die grootste uitdaging vir die kerk in dié tyd, was die bevel van die keiser wat offers aan die Romeinse afgode vir alle burgers verpligtend gemaak het. Cyprianus kon daarin slaag om ’n plek van veiligheid te vind en het hierna talle briewe aan die gelowiges geskryf om hulle te bemoedig en aan te spoor om te volhard in die geloof en nie toe te gee aan die versoeking om Christus te verloën ter wille van tydelike vrede nie. Dit was egter glad nie maklik vir almal om enduit te volhard nie. Die Christene was uit die samelewing verban, met stokke geslaan, lewendig verbrand en in hulle honderde onthoof. Sommige kon die druk nie meer hanteer nie en het uiteindelik in die heidense tempels gaan offer. Toe die ergste vervolging sowat ’n jaar later bedaar het, was die vraagstuk oor wat gedoen moet word met die Christene wat afvallig geraak het, ’n ernstige kwessie in die kerk.
Wat gemaak met dié wat afvallig raak?
In 251 na Christus het Cyprianus teruggekeer na Karthago. Sy advies was dat enige Christen wat tydens die vervolging aan die afgode geoffer het, en deel van die kerk wil bly, hulle skuld moet bely en die Here om vergifnis moet vra vir hulle sonde, en daarna belydenis moet doen van hulle geloof, alvorens hulle weer in die kerk opgeneem kan word. Hy meen dat dit nie sommer net lippediens mag wees nie, maar so iemand moet ernstig deur die ampsdraers ondersoek word, alvorens hulle in die kerk opgeneem mag word, ter wille van die heiligheid van die kerk.
Almal in die kerk was egter nie te vinde daarvoor dat die afvalliges so maklik toegelaat moes word nie. Sommige het aangedring dat iemand wat hulself buite die kerk geplaas het, nie gered kan word nie en die ewige verdoemenis verdien.
’n Sinode van die kerke in Noord-Afrika het vervolgens in Karthago plaasgevind, en nieteenstaande teenkanting van sommige, is Cyprianus se standpunt oor wat gedoen moes word met die Christene wat afvallig geraak het, deur die kerk aanvaar. Die hoofsaak van dié Sinode se besluite was, dat God sy uitverkorenes red ten spyte van hulle sonde, alléén op grond van die soenverdienste van Christus en nie die werke nie.
Volharding van die heiliges en die rol van die kerk volgens Cyprianus
Cyprianus was deeglik bewus dat die versoekings van die wêreld sommige gelowiges tydelik afvallig kan maak van die kerk. Sy leer oor die volharding van die heiliges het behels dat ware gelowiges in Christus, hoewel dit moontlik is dat hulle soms vir ’n tyd lank afvallig kan raak aan die geloof, altyd uiteindelik sal terugkom. Christus leer dat niemand die ware kind van God uit die Vader se hande kan ruk nie (Joh. 10:28) en daarom kan ’n ware gelowige nie die geloof verloor nie. Dit is egter nie deur hulle eie toedoen of keuse nie, maar alléén deur die genade van God, dat hulle dit kan regkry. Dié wat deel van die kerk was en afvallig word aan die geloof en nooit weer terugkeer nie, meen Cyprianus, was nooit ware gelowiges nie. Die kerkhervormer, Johannes Calvyn, het dit later kom verduidelik as mense wat ‘n “tydsgeloof” gehad het, na aanleiding van die gelykenis van die Here Jesus oor die saaier (vgl. Luk. 8:13).
Verder sê hy volharding in die geloof is vir die ware kind van God moontlik indien hulle aktief betrokke is in die kerk van Christus. Die kerk is dié plek by uitstek, waar gelowiges mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie werke en waar mense geleer word hoe om in die geloof te volhard.
Cyprianus het die kerk met Noag se ark vergelyk. In een van sy briewe (Cyprianus, Epist. 54,4-5) sê hy dat niemand buite Noag se ark oorleef het nie, en as iemand binne die ark sou besluit om die ark te verlaat, hulle onder die oordeel van God sou kom. Hy wys hoe sommige mense Matthéüs 18:20 (“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde”) verdraai om te meen dat hulle God liefhet, maar nie die kerk nodig het nie en meen hulle kan God net so goed by hulle huise dien as in die kerk. In hierdie verband sê hy dat iemand wat hierdie vers buite die konteks van die vorige verse lees, verdraaiers van die evangelie is, want in die vorige verse word duidelik geleer dat die kerk die sleutels van die hemelryk dra, wat die hemel kan oopsluit óf toesluit. Hy stel dit dat sulke valse leraars slegter af is as dié wat aan die afgode geoffer het, aangesien hulle nie berou het oor hulle sonde van afvalligheid nie. Dit was in hierdie konteks dat die bekende uitdrukking van Cyprianus ontstaan het, naamlik: “Jy kan nie God as Vader hê, as jy nie die kerk as moeder wil hê nie.” Cyprianus het dus ’n hoë waardering vir die kerk gehad, en dwarsdeur sy briewe die gelowiges aangemoedig om, ten spyte van hulle verlede, hulle by die kerk te voeg om gehelp te word om deur die prediking van die evangelie in die geloof te volhard.
Samevatting
Ons kan ons nie die reformasie indink, sonder die teologiese bydrae van die kerkvader Cyprianus nie. Cyprianus het die kerk as die moeder van elke ware gelowige beskou, wat die heiliges wil beskerm, wil leer en wil aanmoedig om te volhard in die geloof tot aan die einde van hulle lewens. Natuurlik is dit nie die kerk wat mens red nie, maar iemand wat gered is, sal nie sonder die kerk wil wees nie. As ‘n mens Cyprianus se bydrae oor die volharding van die heiliges wou opsom, sou mens kon beaam wat Jim George gesê het, naamlik : “Dit is nie hoe jy begin wat belangrik is nie, maar hoe jy eindig”.
[1] In die eerste twee uitgawes van Calvyn se Institusie (1536 en 1539), vind ons net 4 aanhalings van Cyprianus. In 1543 erken Calvyn dat die min verwysings wat hy gebruik het in die eerste uitgawes, te wyte was aan ’n gebrek aan beskikbare bronne (vgl. Lane, Anthony N. S. 1999. John Calvin. Student of the Church Fathers. Edinburgh: T&T Clark, p. 116). In die laaste uitgawe van sy Institusie (1559), haal Calvyn 28 keer uit Cyprianus se werke aan. Martin Bucer haal die meeste aan uit die kerkvader Cyprianus (vergelyk byvoorbeeld Bucer se werk: Florilegium).