Is God die oorsaak van die sonde?

Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Een van die moeilikste vrae in die teologie is dié oor God se verhouding tot sonde. Die Bybel hou twee waarhede in spanning: God is volkome soewerein (Ef. 1:11) en tog absoluut heilig en sondeloos (Hab. 1:13; Jak. 1:13). Hy is dus nie die outeur van sonde nie, al gebeur niks buite sy raadsplan nie.

Sonde het sy oorsprong in die vrye keuse van rasionele wesens – enersyds die val van Satan en andersyds die menslike ongehoorsaamheid in Eden (Gen. 3). God het die mens nie geskep met sonde nie, maar met ‘n wil wat kon kies om God lief te hê of te verwerp. Tog het Hy in sy alwysheid toegelaat dat die mens val, met die doel om sy genade, geregtigheid en verlossingsplan in Christus ten volle te openbaar (Rom. 9:22–23). Sedert die sondeval het die mens se wil om God te kies, doodgegaan en kos dit die verlossing van sy Seun en die werk van die Heilige Gees om ‘n mens nuut te maak.

Die Westminster Geloofsbelydenis (5.4) stel dit duidelik: “Die sondigheid kom nie van God af nie, en God is nie die outeur of goedkeurder van sonde nie.” Hy bly egter in beheer en gebruik selfs sondige dade tot sy uiteindelike doel. Voorbeeld: die kruisiging van Christus was deur goddelose mense gepleeg (Hand. 2:23), maar tog deur God se raad en voorkennis bepaal.

Die teologie vermy twee uiterstes: óf God as passiewe toeskouer, óf as aktiewe sondemaker. God staan bó die geskiedenis, maar werk binne dit om sy heilsplan te volvoer. Hierdie spanning vereis nederigheid – ons aanvaar die misterie waar die Skrif dit nie volledig verklaar nie, maar ons weet: God is lig, en in Hom is daar geen duisternis nie (1 Joh. 1:5).