Hoekom laat God lyding toe?

Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Lyding is een van die mees uitdagende ervarings wat die mens tref. Baie mense vra: As God almagtig én liefdevol is, waarom laat Hy lyding toe? Die Bybel begin hierdie vraag antwoord met die erkenning van God se soewereiniteit: Hy is in beheer van alle dinge (Ef. 1:11). Tog is Hy nie die outeur van sonde of boosheid nie (Jak. 1:13). Lyding het sy oorsprong in die sondeval (Gen. 3), waar die mens deur ongehoorsaamheid ‘n wêreld van dood, siekte en chaos betree het.

Maar lyding is nie betekenisloos nie. God gebruik dit as ‘n instrument tot sy eer en die gelowige se heiligmaking. Soos Romeine 8:28 leer: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Lyding bewerk volharding (Jak. 1:2–4), dissiplineer ons tot gehoorsaamheid (Heb. 12:6–11) en bring ons nader aan Christus, wat self ‘n Man van smarte was (Jes. 53:3).

Die kruis is die diepste bewys dat God lyding gebruik vir verlossing. Christus se pyn was nie sinloos nie – dit was verlossend. Daarom kan ons in lyding roem, nie omdat dit goed is in sigself nie, maar omdat God dit heilig gebruik (Rom. 5:3–5).

Vir die ongelowige is lyding ‘n aankondiging van oordeel en ‘n roep tot bekering. Vir die gelowige is dit ‘n tydelike smeltoond wat God gebruik om ons na die beeld van Christus te vorm. In die nuwe hemel en aarde sal daar geen pyn meer wees nie (Op. 21:4). Lyding is dus nie die laaste woord nie – Christus is.