Wat beteken “alimentasie”?

Wat beteken “alimentasie”?

prof. Gerrit Smit

Alimentasie beteken om ‘n deel van ons goed (bv. ‘n geldelike bydrae) af te staan vir gelowiges wat minder bevoorreg is of behoeftig is. ‘n Sinoniem vir alimentasie is “diens van barmhartigheid”.

 

Christene gee om…

In 2 Korinthiërs 8:9 lees ons: “Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word”.
Om vir mekaar om te gee, is een van die belangrike opdragte van die kerk:
– Christus het arm geword om ons geestelik ryk te maak.
– Ons moet uit dankbaarheid help om die wat in nood is op stoflike gebied ryk te maak in die geloofslewe.
– God se seën is ‘n belofte op die wat hulp aan die armes gee.
Die bydraes wat die gemeente gee uit dankbaarheid om dié te versorg wat hulpbehoewend is, word in die kerk, normaalweg tydens deurkollekte, ingesamel. Die diakens verrig die insameling as betoning van die Christelike liefdesdiens (dit is die opdrag van die Bybel in die priesterlike amp). Dit is egter nie die enigste wyse van insameling nie, want afhangende van die besondere aard van hulp wat nodig is, word die gemeente gevra vir spesiale bydraes.
Ons beskou diens van barmhartigheid as ‘n voorreg om vir die Here op hierdie besondere wyse te kan werk. Ons doen daarom ‘n beroep op lidmate wat behoeftig is, om met die diakonie te kom praat. Alle hulp word streng vertroulik hanteer.