Hoe kan die Bybel onfeilbaar wees as dit deur mense geskryf is?

Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Die Bybel is nie bloot ‘n versameling godsdienstige menslike idees nie, maar die geïnspireerde en onfeilbare Woord van God. Volgens 2 Timoteus 3:16 is “die hele Skrif deur God ingegee” (theopneustos – “deur God uigeasem”). Die Reformatoriese tradisie beklemtoon dat God die menslike skrywers gebruik het sonder om hulle unieke styl, agtergronde en persoonlikhede uit te kanselleer. Dit is die leer van die organiese inspirasie – nie diktasie nie, maar ‘n bonatuurlike leiding en verligting waardeur die Heilige Gees gewaarborg het dat wat geskryf is, presies is wat God bedoel.

Die gevolg is dat die Skrif foutloos is in alles wat dit leer – nie net in geloof en praktyk nie, maar ook waar dit sake van geskiedenis of waarheid aanraak. Psalm 12:7 sê: Die woorde van die Here is suiwer woorde, soos silwer gelouter in ’n smeltoond. Die Bybel is daarom die hoogste en finale gesag in alle leerstellige en morele vrae (sola Scriptura).

Mense verwys dikwels na “teenstrydighede” in die Bybel, maar hierdie is bykans altyd die gevolg van misverstande, verskille in perspektief of gebrekkige interpretasie. Wanneer die Skrif reg verstaan word in sy grammatikale en historiese konteks, wys dit ‘n opvallende eenheid en harmonie – selfs oor verskillende eeue en kulture heen.

Die feit dat God mense gebruik het om sy Woord neer te skryf, verminder nie die waarheid daarvan nie.  Daar was geen foute in die oorspronklike manuskripte nie en deur die eeue het God die bedoeling van sy Woord behoue laat bly tot vandag. Dit is ‘n werk van God se genade dat Hy Homself nie net geopenbaar het nie, maar dat Hy dit gedoen het op ‘n betroubare, geskrewe manier.