Kerkvaders: Tatianus van Sirië

deur prof. Gerrit Smit

Tatianus van Sirië kan beskou word as ’n grensfiguur in die tweede-eeuse kerk, iemand wat tegelyk binne die ortodoksie geleef het en uiteindelik daaruit wegdryf. Sy lewe illustreer hoe maklik die lyn tussen apologetiek en afwyking in die vroeë kerk kon wees.

Lewe en Agtergrond

Tatianus was ’n Siriese Christen wat waarskynlik in die vroeë tweede eeu gebore is. Hy beskryf homself as iemand wat eers die heidense filosofieë ondersoek het voordat hy tot die Christelike geloof bekeer is. Hierdie intellektuele soektog plaas hom binne die breër konteks van die tweede-eeuse apologete, wat die Christendom teenoor die Grieks-Romeinse kultuur probeer verdedig het.

Tatianus het na Rome gereis waar hy ’n leerling van Justinus die Martelaar geword het. Hierdie verhouding is van kardinale belang. Onder Justinus funksioneer hy nog duidelik binne die ortodokse raamwerk. Ná Justinus se martelaarskap verander sy teologiese koers egter merkbaar.

Hy verlaat uiteindelik Rome en reis ooswaarts, waarskynlik terug na Sirië. Dit is juis in hierdie fase dat sy leerstellige afwykings na vore kom, veral sy verbintenis met die Enkratiete. Die Enkratiete was ’n asketiese beweging in die tweede-eeuse kerk wat selfonthouding as kern van die Christelike lewe beskou het. Die naam kom van die Griekse woord ἐγκράτεια, wat selfbeheersing of selfdissipline beteken. In beginsel is dit ’n Bybelse deug, maar by hierdie groep word dit tot ’n teologiese stelsel uitgebou wat die skepping self begin wantrou.

 

Werke van Tatianus

Oratio ad Graecos

Sy belangrikste apologetiese werk is die Oratio ad Graecos (Rede aan die Grieke). In hierdie teks neem hy ’n sterk polemiese houding in teenoor die Griekse kultuur, filosofie en godsdiens. Quasten wys daarop dat Tatianus nie bloot die Christelike leer verdedig nie, maar teenstanders aanval. Hy verwerp die Griekse filosofie as moreel korrup en intellektueel leeg. Anders as Justinus, wat ’n brug probeer bou het tussen die Christendom en die Griekse filosofie, breek Tatianus die brug af. Hier lê reeds die kiem van sy latere radikale teologie. Die Skrif, veral die Ou Testament, word deur hom as ouer en daarom meer gesaghebbend as die Griekse tradisie aangebied.

 

Die Diatessaron

Tatianus se mees bekende werk is sonder twyfel die Diatessaron. Dit is ’n harmonisering van die vier Evangelies in een aaneenlopende narratief.

Hierdie werk is nie ’n literêre en teologiese herwerking van die 4 evangelies. Hy probeer die Evangelies in een verhaal weergee. Die resultaat was besonder invloedryk in die Siriese kerk, waar dit vir eeue as standaard Evangelieteks gebruik is. Die Diatessaron het ’n praktiese doel gehad het, naamlik om ’n eenvormige Evangelievertelling te bied. Tog het dit ook implikasies vir kanonvorming, aangesien dit die vier Evangelies as ’n eenheid behandel eerder as vier onderskeie getuienisse.

 

Teologiese Ontwikkeling en Afwyking

Soos reeds gemeld, ontwikkel tatianis se teologie in ’n asketiese rigting na sy vertrek uit Rome. Hy word verbind met die Enkratiete, ’n groep wat streng selfonthouding beklemtoon het. Die kern van hierdie beweging sluit in:

  • verwerping van die huwelik as boos en ‘n uitdrukking van wellus,
  • onthouding van sekere kosse, veral vleis,
  • ’n sterk dualistiese wêreldbeskouing.

Hier sien mens ’n verskuiwing van apologetiek na askese. Waar hy vroeër die wêreld intellektueel gekritiseer het, begin hy dit nou prakties verwerp. Hierdie ontwikkeling het hom mettertyd buite die hoofstroom van die kerk geplaas. Om die rede het die kerk nie sy teologiese beskouinge hoog geag nie. Die skepping, wat volgens die Skrif goed is, word deur Tatianus implisiet gede-valueer. Dit is tipies van vroeë dualistiese tendense.

Tatianus is nie maklik om te kategoriseer nie. Hy is tegelyk:

  • ’n leerling van ’n ortodokse apologeet,
  • ’n belangrike kritikus van die heidense wêreld,
  • en uiteindelik ’n verteenwoordiger van ’n asketiese afwyking.

Sy Diatessaron toon egter sy literêre vaardigheid en het groot invloed gehad. Die groot les uit Tatianus se lewe is: wanneer skepping en genade uitmekaar getrek word, loop jou teologie skeef. Hy begin by die waarheid, maar eindig in oordrewe asketisme.