Justinus die Martelaar: lewe, geskrifte en Teologie
deur prof. GDS Smit
Inleiding
Justinus, beter bekend as Justinus die Martelaar, was een van die belangrikste Griekssprekende apologete van die tweede eeu. Hy het nie sy geloof bely tot die dood en ook die Christelike leer verdedig met die intellektuele instrumente van sy tyd. Sy geskrifte is van die vroegste pogings om die Christelike geloof op ’n filosofiese en sistematiese manier aan die heidense wêreld voor te stel.
Lewe
Justinus is omstreeks 100 n.C. in Flavia Neapolis (die latere Nablus in Samaria) gebore. Hy was van Griekse afkoms en was as filosoof opgelei. Volgens sy eie beskrywing het hy verskeie filosofiese skole probeer, soos die Stoïsyne, Pythagorane, Plato en ander, maar hy het geen bevrediging daarin gevind nie. Uiteindelik het die getuienis van ’n eenvoudige Christen en die studie van die profete hom tot Christus gelei.
Hy het homself steeds as filosoof gesien, maar nou as ’n filosoof van die Waarheid. Hy het rondgereis, in Efese en later in Rome gewerk, waar hy ’n skool geopen het. Daar het hy openbare debatte gevoer en geskrifte opgestel ter verdediging van die Christendom. Uiteindelik is hy in Rome gearresteer en tereggestel, waarskynlik omstreeks 165 n.C., tydens die bewind van Marcus Aurelius.
In my MA-verhandeling (GDS Smit, Mens en Natuur: ‘n Bronnestudie na die Bybelse- en Na-Bybelse perspektiewe, Universiteit van Pretoria, 2005), meld ek die volgende oor Justinus:
Oor Justinus is daar betreklik min inligting beskikbaar. Daar kan wel enkele gegewens afgelei word uit sy Dialoog met Trypho, waar hy ingaan op sy bekering tot die Christendom. Justinus is in die begin van die tweede eeu (waarskynlik 100-110 nC) in Flavia Neapolis in Samaria gebore. Hy was nie van Joodse afkoms nie. Hy was besonder in die wysbegeerte geïnteresseerd. Op verskillende reise leer hy die destydse wysgerige denkrigtings ken. In 130 nC kom hy waarskynlik tot bekering, en wy die res van sy lewe aan die verdediging van die Christelike leer. Hy was dus een van die vroegste apologete van die Christendom.
Justinus is onder Quintus Junius Rusticus, ten tyde van die regering van Markus Aurelius (161-181), waarskynlik 166, saam met ses ander Christene onthoof, toe hulle weier om aan die keiser te offer.
Volgens Tatianus was die oorsaak van Justinus se gevangeneming sy houding teenoor die keisers en teenoor die Griekse filosowe. In sy brief aan die Grieke haal Tatianus vir Justinus aan waar hy onder meer in die vertaalde weergawe meld:
Crescens, wat in die metropool gevestig
was…was ‘n geldwolf soos geen ander nie.En al gee hy elkeen die raad om die
dood te verag, was hy self skrikkerig vir die dood.So gee hy bevel om Justinus in
die dood te stort vir ‘n groot kwaad, omdat hy by sy verkondiging van die
waarheid opgemerk het, dat die filosowe lekkerbekke en verleiers was.
Geskrifte
Drie van Justinus se werke het behoue gebly:
Eerste Apologie: gerig aan keiser Antoninus Pius, waarin hy die onregverdigheid van die vervolging van die Christene aantoon en die waarheid van die Christelike geloof verdedig.
Tweede Apologie: ’n aanvulling van die eerste, gerig aan die Romeinse senaat, waarin hy spesifieke beskuldigings teen die Christene aanspreek.
Dialoog met Trypho, die Jood: ’n uitgebreide gesprek met die Jood Trypho, waarin hy uit die Ou Testament aantoon dat Jesus die beloofde Messias is.
Sy geskrifte is apologeties en polemies, maar terselfdertyd bied hulle ’n venster op die teologie van die tweede eeu.
Teologie
Godsbegrip
Justinus leer dat daar een God is, die Skepper van hemel en aarde. Hierdie God is onverganklik, onsigbaar en verhewe bo die skepping. Tog maak Hy Homself bekend deur sy Logos (die Woord), wat van ewigheid af by Hom is. Hierdie Logos is Christus self, die Seun van God, deur wie die wêreld geskape is en deur wie God aan mense geopenbaar word. Justinus se Logos-teologie toon wel nie presies die Nuwe-Testamentiese verstaan van die woord nie, en ook die invloed van die Platoniese en Stoïsynse filosofie, maar word in diens van die evangelie gebruik.
Maria en Eva
In sy Dialoog met Trypho stel Justinus ’n tipologiese parallel tussen Eva en Maria. Soos Eva deur haar ongehoorsaamheid die deur vir die sonde oopgemaak het, so het Maria deur haar gehoorsaamheid die deur vir die verlossing oopgemaak. Waar Eva se ongeloof en ongehoorsaamheid tot die val gelei het, het Maria se geloof en gehoorsaamheid tot die menswording van die Verlosser gelei. Hierdie parallel is een van die vroegste vorme van die Maria-teologie, wat later in die Roomse Kerk bely sou word.
Engele en demone
Justinus het geleer dat daar engele is wat God dien, maar hy het ook beklemtoon dat daar bose geeste (demone) is wat die mensdom verlei. Volgens hom het die demone die afgodsdiens en die mites van die Grieke bewerkstellig, sodat mense van die ware God af weggetrek word. Hulle is die oorsaak van vervolging en dwaalleer, en hulle gebruik filosofiese spekulasie en onsedelikheid om die mens te verlei.
Erfsonde
Justinus het nog nie ’n uitgewerkte leer oor erfsonde soos Augustinus ontwikkel nie, maar hy het wel geglo dat die mensdom deur Adam se sonde in ’n toestand van gebrokenheid verkeer. Hy beklemtoon dat alle mense geneig is tot sonde, en dat die demone hierdie neiging versterk. Tog beklemtoon hy steeds die vrye wil van die mens, wat ’n tipiese tema in die Griekse vaders se geskrifte was. Verlossing kom deur Christus, wat die nuwe mensdom begin het.
Doop en Nagmaal
Justinus se beskrywings van die sakramente is van die vroegste buite-Bybelse getuienisse wat ons het. In sy Eerste Apologie (hoofstukke 61 en 66) gee hy ’n waardevolle uiteensetting:
Volgens hom is die doop ’n teken van die wedergeboorte. Deur dit word die gelowige verlig en in die nuwe lewe ingevoer. Dit is ’n bad tot vergewing van sondes, uitgevoer “in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees”.
Justinus verduidelik dat die brood en wyn nie bloot gewone voedsel is nie, maar die vlees en bloed van Jesus Christus. Alhoewel hy nie ’n dogmatiese uitleg bied nie, is dit duidelik dat hy ’n werklike teenwoordigheid van Christus in die Nagmaal aanvaar.
Eskatologie
Justinus beklemtoon die hoop van die opstanding van die liggaam. Hy staan teenoor die Griekse filosofie wat die siel se sterflikheid beklemtoon, en hy hou vas aan die Bybelse verwagting van ’n toekomstige opstanding en oordeel.
Hy het ook ’n chiliastiese verwagting (’n duisendjarige vrederyk) van Openbaring 20 waarin hy ‘n letterlike duisendjarige vrederyk verwag teenoor baie van die ander kerkvaders wat die duisendjarige vrederyk as ‘n simboliese tydperk verstaan het. Vir hom sou Christus se wederkoms die volle vervulling bring van God se heilsplan, waar geregtigheid en vrede oor die wêreld sou heers.
Samevatting
Justinus die Martelaar verteenwoordig die eerste groot poging om die Christelike geloof intellektueel te verdedig teenoor heidene en Jode. Hy het die kerk se teologie gehelp vorm deur sy bereidheid om vir Christus te sterf. Sy lewe getuig dat die evangelie nie maar net ’n filosofiese sisteem is nie, maar die waarheid waarvoor ’n mens jou lewe kan aflê.