Johannes 13:1-20

Kernnotas oor Johannes 13:1-20

Perikoopafbakening

1933 vertaling = verse 1-20
1983-vertaling = verse 1-17
UBS GNT/NA = verse 1-11 en weer 12-20.
Volgens die formele kriteria (let op die voegwoorde: Ὅτε οὖν – vers 12 en εἰ – vers 17) behoort verse 1-11 ‘n perikoop te wees en weer verse 12-20 ‘n ander. Op grond van die inhoudelike kriteria (subjek, objek) word verse 1-20 as ‘n perikoop gelees.

Struktuur

Verse 1-30 vorm die inleiding tot die bo-vertrek gesprek (Joh. 14-16).

Oorsig:
‘n Les oor nederigheid (verse 1-5)
‘n Les oor heiligheid (verse 6-17)
‘n Les oor egtheid (vers 18vv)

Tekskritiese opmerkings

Die enigste frase waaroor vrae bestaan is in vers 2 (Judas Iskariot, die seun van Simon). Dit bevat ‘n frase met ‘n tekskritiese gradering van {C}. Let daarop: 2 {C}. In Papirus 66, 75, Kodekse א, B kom die frase onveranderd voor. Augustinus laat die woorde: Judas Iskariot uit. Etlike minuskelmanuskripte lees nie Judas Iskariot nie, maar Judas vanuit Iskariot. Is dit sy van of kom hy daarvandaan? Sommige neem dit as afkomstig vanuit Kerioth (Suid-wes Judea) (Hebreeus: אִיש קְרִוַוֹת – ‘n man vanuit Kerioth). Sommige tekste lees: σικάριος (sluipmoordenaar, boosdoener).

Moeilike frase

Vers 1 – Die frase ἀγαπήσας … ἠγάπησεν is moeilik om te vertaal. Die frase word in die vertaling so weergegee: “…hulle liefgehad tot die einde toe”. Dit is ‘n eufemisme.

Kerkvaders se aantekeninge oor die perikoop

Augustinus
Die paasfees was ‘n tipe van Christus – die Paaslam wat ons van die mag van die sonde bevry. Die einde van Christus is die begin vir die kerk.
Jesus neem Judas se voete in sy hande, wat bewys dat Hy steeds in beheer is, selfs ook van Judas se lot, ten spyte van Judas wat dink dat hy in beheer is van Christus se lot. Augustinus sê: Ons moet let dat Pasga ‘n Hebreeuse naamwoord is, nie Grieks nie. Die Griekse woord hou verband met “om te ly” maar die Hebreeuse woord verwys na “die Pasga”. Die pasga is vir die eerste maal gevier voor Israel oor die Rooi See getrek het. Christus berei sy dissipels voor vir die trek oor die “Rooi See van die kruis”, waar sy bloed aan die deurkosyn van ons hart gespat sal word. Die Latynse “transitus” – to pass over (om oor te gaan) verwys na die oorgaan van die koninkryk van die duister na dié van die Lig.

Leo
Die Here berei hier ‘n oorgangstydperk vir die dissipels en die kerk voor.

Origenes
Christus berei voor om die inkarnasie af te lê en weer die volheid van God op te neem. Dit is te betwyfel dat Jesus wel die voete van Judas gewas het omdat hy nie die wapenrusting van God aangehad het nie.

Hierdie is die hoogste vorm van nederigheid van die Dienskneg wat sy lewe sou gee.

Chrysostomos
Hy doen alles ter wille van dié wat Hy liefhet, daarom die herhaling van liefde in vers 1 .

Judas word nie eers gestop deur die idee dat hy ‘n tafel met die Here moet deel nie.

Theophilos van Aleksandrië
Die Here van die heelal neem ‘n slaaf se doek, [en was hulle haakskene sodat hulle nie die slang se byt sou voel nie] (Ambrosius).

Irenaeus
Nie net die hande word gewas nie, maar die liggaam. Dit simboliseer die volle reiniging van die liggaam en dat die dood self weggewas word.

Gregorius van Nazianze
Voete wat so gewas word, is nie vinnig om bloed te vergiet nie of na die bose te hardloop nie, maar eerder te hardloop na die evangelie.

Gedagtes oor die teks

Skriflesing: Jn. 13:1-20
Teks: Jn. 13:8 “…As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.”

As Christus ons nie was nie, het ons geen deel aan Hom nie!

Op die vooraand van Christus se verhoor, is die 12 dissipels van die Here in die binnekamer saam. Soos die gewoonte was, moet die voete eers gewas word voordat hulle aan die tafel kan aanlê. Omdat daar nie slawe in Christus se diens was nie – Hy was maar ‘n arm timmerman se seun – het die dissipels geweet iemand sal die ander se voete moet was. Voete was, was slawe se werk. Daar was nie motors en pragtige skoene nie. Die mense het sandale gedra, en honderde kilometers gestap waar hulle wou wees. Die heel rykes het kamele en donkies besit, maar Christus en sy dissipels het geloop waar hulle wou wees. Voete was, was beslis nie ‘n lekker werk nie, en selfs die slawe, al was hulle verplig om dit te doen, het nie daarvan gehou nie. Niemand sou uit sy eie aanbied om die ander se voete te was nie.

Johannes vertel in hoofstuk 13 dat Judas, die verraaier, ook in hulle midde was, maar dat hy reeds die plan gehad het om die meester oor te gee vir ‘n paar slwerstukke (vs. 2 – die duiwel het dit in die hart van Judas Iskariot gewerk).

Ons kan aanneem Petrus was nie eerste nie, want vers 6 vertel: Hy kom toe by Petrus sê vir Hom: “Gaan u my voete was?” Ek kan eerder U voete was, my voete sal u nooit was nie (vers 8). Christus antwoord hom: “wat ek nou doen verstaan jy nie nou nie, maar eendag sal jy verstaan. Maar as Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie”. Soos Petrus se geaardheid is – hy is altyd voortvarend – meen hy: as ek deel het aan die Meester as Hy my voete was, laat Hy dan ook my gesig en hande was, dan het ek nog meer deel aan Hom. Petrus het nie verstaan dat die Here besig was om hulle almal ‘n les te leer oor diensbaarheid nie. Eerder om saam te stry oor wie die grootste is, was die Koning die voete van slawe!

As die Here ons nie gewas het nie , het ons nie deel aan Hom nie, want niemand kan na die Vader kom, behalwe deur die Seun nie. Maar as u die Here liefhet, verseker Hy ons dat ons sy kinders is, want net die wat die Here ken, kan Hom liefhê.
Hy het nie net die voete gewas nie. Petrus het later self verstaan dat Hy die harte kom was het, maar dat daardie aand ‘n les was om die minste te wees in diens van die Here.

Daardie angsbevange nag toe die dissipels in die bo-kamer saam was, het hulle nie verstaan wat die Meester doen toe Hy hulle voete was nie; dit was maar die begin van dit wat Hy gedoen het vir die hele Christendom – vir sy kerk.

Dit is nie met hartseer wat die kerk lydenstyd elke jaar herdenk nie, maar met oorvloedige dankbaarheid. Omdat Hy ons gewas het, het ons deel aan Hom.