Waarom laat ‘n liefdevolle God toe dat gelowiges swaar kry? – ‘n Teologiese antwoord

deur: Prof. Gerrit Smit

September 2017

Die vraag waarom God lyding toelaat is een wat die mensdom sedert die begin van ons geskiedenis besig hou. Dié eeue oue vraag kom neer op: is alle slegte dinge God se wil? Is Hy in beheer van alles? Groot denkers het al met hierdie vrae geworstel tot vandag toe.

Vir ons is 3 persone se bydraes egter noemenswaardig.

1. Plato en sy tydgenote

As ‘n mens die Griekse tragedies lees, sal jy agterkom dat daar nie in die antieke Griekse wêreld ‘n probleem was om die kwaad te identifiseer nie. Die probleem het egter gekom by die vraag: waar kom die kwaad vandaan? Die antieke Grieke het die oorsprong van kwaad (en gevolglik lyding) toegeskryf aan die woede van die gode, of die mens se neiging om gehoorsaam te wees aan sy begeertes wat lyding vir ander veroorsaak, of dit is bloot toegeskryf aan die “noodlot”. Die Stoïsyne het byvoorbeeld oor die mens se lewe die volgende gesê: die mens is soos ‘n hond wat aan sy nek vasgemaak is aan ‘n wa wat deur ‘n perd getrek word. Die arme hond gaan net waar die wa gaan en het geen keer daaraan nie, of hy daarvan hou of nie. Dit is sy lot. Die hond kan niks daaraan doen nie, behalwe om op te hou om te veg daarteen. Waarheen die hond gaan, kan nie beheer word nie, maar hoe hy gaan kan hy beheer.

Die Griekse filosoof Plato was die eerste van sy tyd wat gemeen het dat lyding nie toegeskryf kan word aan die gode of die noodlot nie. Plato het die algemene godsdiens van sy tyd, wat geleer het dat die gode op die berg Olympus woon en dat die mens onderwerp is aan die woede en die giere van die gode op dié berg, verwerp. Volgens die Griekse godsdiens van sy tyd was die gode meestal beskou as “kinderagtige wesens” wat selfsugtig, wreed en onregverdig is. In sy werk getiteld, Die Republiek, verwys Plato na die Grieke se voorstelling dat daar twee flesse aan die voete van Zeus neergesit word – die een is vol ‘goed’ en die ander een is vol ‘sleg’. Zeus besluit dan watter een van die flesse hy op die aarde uitkeer of aan iemand oorhandig en dit bring ‘goed’ of ‘kwaad’ vir die mens.

Plato sê teenoor die stelling hierbo: “Nee, die oorsprong van alles moet begin by God; maar die oorsprong van kwaad moet in alles gesoek word, behalwe by God”.

Hoewel Plato die oorsprong van lyding ten minste op die regte plek begin soek het, het hy egter ongelukkig die gevolgtrekking gemaak dat alle sigbare dinge sleg is en alle onsigbare dinge goed. Plato het (korrek) aanvaar dat die mens op twee terreine leef, een is fisies (sigbaar) en die ander geestelik (onsigbaar). Dit het die gevolg (verkeerd) dat die mens se liggaam beskou word as iets sleg, wat bloot vergaan, en die mens moet daarna streef om van die liggaam ontslae te raak sodat die siel (wat goed is) vry kan kom.  Vir Plato het dit ‘n antwoord gebied op die vraag waarom daar lyding op aarde is? As gevolg van die feit dat alle sigbare dinge vir hom sleg is, sal alles op aarde sleg wees en gevolglik sal lyding voorkom solank as wat mens in die sigbare gestalte (liggaam) is. Ons antwoord op Plato dat dit natuurlik nie waar is dat alle sigbare dinge sleg is nie. God het die aarde en die mens gemaak, en beide word oorspronklik “goed” genoem in die Woord (vgl. Gen. 1).

Ongelukkig het Plato tot aan die einde van sy lewe bly worstel met die vraag: wie is God, en hoe kan mens Hom ken? sodat sy beskouing oor God nie vir ons enige iets bruikbaar oplewer nie.  Plato hét egter ‘n belangrike bydrae gelewer om die oorsprong van die kwaad buite God te soek, maar omdat hy vanuit die heidense godsdiens na die filosofie gekyk het, het hy nooit by die antwoord gekom wat later deur iemand soos Augustinus verwoord sou word nie.

2. Irenaeus

Die tweede persoon wat ‘n belangrike bydrae gelewer het met betrekking tot die vraag oor lyding was Irenaeus (130-200 n.C.). Irenaeus het gemeen dat die mens ‘n keuse het om “vir God” en “teen God” te kies. Die keuse vir God impliseer dat kwaad verminder en die keuse teen God dat kwaad toeneem. Lyding kan nuttig wees, meen hy: as mens honger het, ly dit tot hongerpyne en lei tot die behoefte om te eet. So kan lyding aan die mens ‘n behoefte gee om sy honger by God te stil. Die probleem met die teologie van Irenaeus is dat die sondeval ontken word, en dat Christus se koms na die aarde bloot gereduseer word tot ‘n “goeie voorbeeld”.

Irenaeus se teologie impliseer dat alle mense kan hemel toe gaan, afhangend van die keuses wat jy maak, ongeag die versoening van Christus of die uitverkiesing van God.

3. Augustinus

Die groot kerkvader Augustinus van die vierde-vyfde eeu het die oorsprong van die kwaad buite God gesoek in die mens (en in die geval van lyding deur byvoorbeeld natuurrampe in die skepping). Hy het ontdek dat die Skrif leer dat die mens slegs ‘n vrye wil gehad het om “vir God” en “teen God” te kies voor die sondeval. Ná die sondeval het die mens die vermoë om “vir God te kies” en sodoende van nature goed te doen, verloor. Dit het die gevolg gehad dat die hele skepping as gevolg van die mens se ongehoorsaamheid aan verganklikheid onderwerp is.

Aangesien alle mense die ‘saad’ van Adam is, is die mens sedertdien van nature geneig om God en die naaste te haat. Daarom is dit natuurlik (lees: volgens sy natuur) dat die wêreld gevul word met die mens se bose handelinge, wat die voorkoms van lyding insluit, tensy die mens deur die werking van die Heilige Gees wederbaar word en sodoende ‘n “nuwe mens” word wat God wil liefhê en die naaste wil verdra.

Augustinus het nie die gedagte van die destydse Griekse filosowe onderskryf dat die mens aan die noodlot uitgelewer is nie, maar het geleer dat die mens in alle opsigte deur die voorsienigheid van God leef, selfs al sluit God se voorsienigheid soms lyding in mense se lewens in.

God is volgens Augustinus nie die outeur van die kwaad nie, maar Hy laat wel die kwaad toe.

Die kerkhervormer, Johannes Calvyn, het hier sterk by Augustinus aansluiting gevind.

Gevolgtrekking

Vir die ongelowige kom die vraag oor die oorsprong van die kwaad en waarom daar lyding in die wêreld is neer op ‘n totale ontkenning van God. Sulkes meen dat dit onredelik is om in God te glo as mens kyk na al die hartseer en pyn wat daar op die aarde is. Vir hulle kom die vrae oor die bestaan van lyding op aarde neer op enkele afleidings en gevolgtrekkings wat ons kan opsom in 4 punte:

  1. a) As God bestaan, is Hy alomteenwoordig, en daarom moet Hy in beheer van die kwaad wees.
  2. b) As Hy alomteenwoordig is, moet Hy die kwaad teëwerk waar dit voorkom.
  3. c) As Hy nie die kwaad teëwerk nie, is Hy nie alomteenwoordig nie.
  4. d) Omdat daar so baie lyding in die wêreld is, bewys dit dat God nie alomteenwoordig is nie, nie beheer het oor die kwaad nie, of dit bewys dat God nie bestaan nie. Gewoonlik is die laaste afleiding vir sulkes die gerieflikste gevolgtrekking.

Gelowiges daarenteen, bely dat God bestaan, dat Hy alomteenwoordig is, dat Hy die kwaad haat en dat Hy in beheer is van alles.

Dit sou wonderlik wees as God se wil in alle opsigte hier op aarde kon geskied. As geen mens ongehoorsaam was aan God se Woord nie, almal mekaar liefgehad het, en daar geen lyding was nie. Maar dan sou ons steeds in die paradys moes wees, want voor die sondeval het die mens in so ‘n perfekte wêreld geleef. Die realiteit is egter: ons leef nie in ‘n perfekte wêreld nie, maar in ‘n wêreld wat geval het in die sonde, en daarom is daar onreg, haat, misdaad, lyding, siekte en beproewing, en – dit kom ook oor gelowiges se lewens!

Ons troos is egter dat God nie die outeur van die sonde is nie. Inteendeel, Hy haat die sonde. Soms laat Hy dinge toe wat teen sy wil is, maar omdat Hy regverdig is, sal elkeen die loon op sy dade ontvang. Hy is totaal in beheer van die skepping, selfs al gebeur daar dikwels hartseer dinge wat ons nie kan verklaar nie.

Die geskiedenis van God se openbaring wat ons in die Bybel vind, leer ons dat daar ook aan lyding ‘n einde kom: wanneer hierdie onvolmaakte skepping herskep word en Christus vir ewig as Koning oor sy volmaakte Koninkryk regeer!