Sonder gereelde kerkbywoning, groei jy nie in die geloof nie
deur prof. Gerrit Smit
Waarom die Bybel geen ruimte laat vir geïsoleerde Christene nie
Een van die mees populêre aannames in ons tyd is dat geloof iets persoonliks is wat jy op jou eie kan uitleef. Jy kan glo sonder om deel te wees van ‘n kerk. Jy kan geestelik groei sonder die las om op ‘n Sondag vroeg op te staan. Dit is ‘n onbybelse idee.
Inteendeel, die Bybel gaan uit van die teenoorgestelde. Geloof groei binne ’n liggaam, nie in isolasie nie. Sonder gereelde kerkbywoning en aktiewe deelname aan die gemeente, stagneer geloof, al is die bedoelings opreg.
YouTube kerk is nie kerk nie.
God vorm geloof deur gemeenskaplike aanbidding en onderrig
Gereelde kerkbywoning bring gelowiges doelbewus onder die verkondiging van God se Woord. In die erediens word die Skrif gelees, uitgelê en toegepas. Hier word die evangelie nie net gehoor nie, maar weekliks herhaal en oordink. Hierdie vorming kan nie vervang word deur aanlyn-inhoud of sporadiese geestelike insette op die internet nie.
Volgens Romeine 10:17 kom geloof deur die gehoor, en die gehoor deur die Woord van God. Hierdie gehoor is in die Skrif nie primêr individueel bedoel nie, maar korporatief. Gelowiges aanbid saam. Hulle hoor saam. Hulle antwoord saam. Juis hierin lê geestelike groei. Geloof word gevoed wanneer jy saam met ander buig onder dieselfde Woord en dieselfde Here.
Om Christen te wees, is om deel te wees van ’n liggaam
Wanneer iemand tot geloof kom, word hy/sy nie net met Christus verenig nie, maar ook met sy liggaam. Die Nuwe Testament gebruik deurgaans die beeld van ’n liggaam om die kerk te beskryf. In 1 Korintiërs 12 maak Paulus dit duidelik dat geen deel van die liggaam onafhanklik kan funksioneer nie. Afwesigheid van die kerk ontwrig die geheel.
Soos ’n fisiese liggaam net gesond funksioneer wanneer al die ledemate teenwoordig en aktief is, so kan die kerk net wees wat God bedoel wanneer gelowiges hul plek inneem. Volwassenheid in die geloof ontwikkel nie in afsondering nie. Dieper perspektief, wysheid en bemoediging kom deur ander gelowiges. Die idee van alleen-Christenskap is eenvoudig vreemd aan die Skrif.
Die Skrif gee ’n duidelike opdrag tot volgehoue samekoms
Die oproep in Hebreërs 10:24–25 laat min ruimte vir interpretasie. Gelowiges moet ag gee op mekaar, mekaar aanspoor tot liefde en goeie werke, en nie die onderlinge byeenkoms versuim nie. Hierdie opdrag staan in ’n konteks waartydens die kerk onder groot druk, vervolging en geestelike swakheid geleef het. Die antwoord wat God gee op hierdie druk is nie dat die gelowiges hulle eerder moet onttrek nie, maar dat hulle mekaar des te meer nodig het.
Die Bybel verbind kerkbywoning direk aan volharding. Wie wegdryf van die gemeente, stel homself bloot aan geestelike verarming. Dit beteken nie dat kerkbywoning outomaties geestelike gesondheid waarborg nie, maar die afwesigheid daarvan lei byna altyd tot verskraling van die geloof. Iemand wat God op sy/haar eie dien en nie in die kerk nie, raak maklik die prooi van dwaalleer en stelselmatig lou in die geloof.
Die kerk is die ruimte waar liefde, vermaning en diens konkreet word
Geloof groei nie net deur kennis nie, maar deur mense wat in ‘n verhouding is. Die kerk is die plek waar gelowiges mekaar leer liefhê, bemoedig en soms ook aanspreek as daar dinge is wat verkeerd is. Hierdie dinamiek kan nie plaasvind sonder teenwoordigheid nie. Die Nuwe Testament is vol tekste waarin die woord “mekaar” voorkom. Dit veronderstel ’n werklike sigbare gemeenskap van gelowiges voordat daar sprake kan wees van “kerk”.
In Handelinge 2:42 sien ons hoe die vroeë kerk volhard het in leer, gemeenskap, sakramente en gebed. Hier is ruimte vir groei, maar ook vir diens. ‘n Mens gaan nie kerk toe om iets te ontvang nie, maar om deel te neem aan aanbidding van God en deel te neem aan die gemeenskap van die gelowiges. Jou gawes word gegee tot opbou van ander. Sonder jou teenwoordigheid word die liggaam van Christus fisies en geestelik armer.
In ’n tyd van toenemende druk is die kerk noodsaakliker as ooit
Namate kulturele en morele druk op Christene toeneem, word die kerk se rol as ruimte van bemoediging en standvastigheid al hoe belangriker. Gelowiges het mekaar nodig om by die waarheid te bly, hoopvol te bly leef en getrou te bly glo. Isolasie maak ‘n mens se geloof kwesbaar.
Baie wat hulleself as volgelinge van Christus beskou maar gereelde kerkdeelname versaak, ervaar uiteindelik geestelike uitputting. Die probleem lê nie altyd daarby dat hulle nie opreg is nie, maar dat hulle nie genoeg geestelike vaste kos kry om geestelik gesond te bly en te groei nie. Soos wat met enige liggaam gebeur wat nie versorg word deur gesonde kos te eet nie, word die geestelike liggaam ook siek as daar nie gereelde vaste spys van die Woord is nie.
Wanneer kerk ’n las word, vra eerlike selfondersoek
Dit is waar dat kerk toe gaan soms vir mense soos ’n plig kan voel. Wanneer dit gebeur, moet die vraag eerlik gestel word of die probleem ’n ongesonde gemeente is, of is dit ’n verkeerde verwagting? Is die probleem dus by die kerk of by jou? ’n Teken van gesonde geestelike lewe is verlange om na die Woord te luister. Wanneer jy die erediens mis, behoort jy te voel jy het iets belangrik gemis. Die doel is nie om ’n blokkie op jou week se agenda af te merk nie, maar om God lief te hê en sy orde te eer. Die kerk is die plek waar jou geloof gevorm word en God geloof word.
Slot
Die Bybel ken nie groeiende geloof sonder gereelde kerkbywoning nie. God het bepaal dat sy kinders saam moet glo, saam moet aanbid en saam moet volhard. Sonder hierdie gemeenskap verarm ‘n mens se geloof, al redeneer jy dit weg of glo dat dit nie met jou sal gebeur nie. Die kerk is God se ruimte vir geestelike groei. Sonder gereelde kerkbywoning groei jy nie in die geloof nie.
