Ontologie: Dood as poort van die sigbare- na die onsigbare werklikheid

GDS Smit

In die moderne wêreld word “werklikheid” meestal gedefinieer in terme van wat sigbaar, meetbaar en empiries waarneembaar is. Wat nie deur die sintuie geruik, geproe, gehoor, gesien of getas kan word nie, word dikwels as subjektief of selfs onwerklik beskou. Hierdie verstaan van wat werklik is, is ‘n verskraling van die Christelike beskouing oor tyd en ruimte.

Dit maak die fisiese wêreld die maatstaf van waarheid en behandel die onsigbare as iets spekulatief of onseker. Die Bybel praat egter anders. Dit leer dat sowel die sigbare as die onsigbare dinge werklik is, maar dat die onsigbare werklikheid meer blywend is, en dat die fisiese wêreld sy betekenis, doel en eindbestemming daaruit kry.

Ontologie in Bybelse konteks

Die term ontologie kom uit die Griekse woorde, ontos, wat verwys na wese of bestaan, en logos, wat dui op studie of verantwoordelike nadenke. Ontologie vra nie bloot hoe dinge werk nie, maar wat dit beteken “om te wees”.

In die Bybelse wêreldbeeld is werklikheid nooit beperk tot die sigbare skepping nie. Die Skrif aanvaar van meet af aan ’n skepping wat uit meer lae bestaan, waarin God, die hemele, engele en die ewige lewe nie minder werklik is as die sigbare dinge op aarde nie. Volgens die Bybel is nie daar nie ‘n konflik tussen die sigbare (fisiese) en die onsigbare (metafisiese) werklikhede nie. Hiervolgens word die skepping nie bloot as materie verstaan nie, maar is gevul met God se teenwoordigheid en staan voortdurend in verhouding tot die onsigbare werklikheid van die hemel.

Die Bybel open met ’n ontologiese uitspraak: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” (Gén. 1:1). Reeds hier word beide die metafisiese (die hemel) en die fisiese (die aarde) binne een skeppingshandeling geplaas. Die hemel is nie ’n latere toevoeging nie, en die aarde is nie ’n neweproduk nie. Albei bestaan omdat God dit wou hê. Hierdie skeppingsvisie verwerp enige vorm van minagting van die sigbare werklikheid asof dit bloot materie is en die mens daarmee kan maak wat hy wil. Die fisiese wêreld is goed geskep, dit het waarde en betekenis. Tog kan dit nie bestaan sonder die onsigbare nie. Paulus stel dit dat alles “wat sienlik en onsienlik is”, tot eer van Christus geskep is en deur Hom onderhou word (Kol. 1:16–17).

Dood as oorgang in Bybelse ontologie

Teenoor die moderne idee dat die dood die finale einde van menslike bestaan is, bied die Skrif ’n radikaal ander verstaan. In Bybelse ontologie is die dood nie die vernietiging van die mens nie, maar ’n oorgang, ’n deurgang: van die fisiese na die volle ervaring van die metafisiese werklikheid. In die sigbare werklikheid kan mens net ten dele verstaan, maar in die onsigbare werklikheid gaan die mens oor tot die volle verstaan van God en sy doel met die skepping (vgl. 1 Kor. 13:9-12).

Jesus se woorde aan die misdadiger aan die kruis is veelseggend: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Hierdie belofte veronderstel ‘n onmiddellike, bewustelike voortbestaan ná die dood, en nie ’n “sieleslaap” of einde van die mens se voortbestaan nie. Paulus verwoord dieselfde ontologiese werklikheid wanneer hy sê dat om te sterwe is om “met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Flp. 1:23). Hy beskryf die aardse liggaam as ’n tent wat afgebreek word, terwyl die gelowige ’n ewige woning van God ontvang (2 Kor. 5:1).

Vir die Christen is die dood dus nie die einde van die lewe nie, maar die begin van ’n voller lewe. Dit is die oorgang van die tydelike na die ewige, van die gebroke skepping na die onmiddellike teenwoordigheid van God.

Die hoogtepunt van die Bybelse ontologie is die opstanding van die liggaam. Paulus beklemtoon dat die opgestane liggaam nie ’n terugkeer is na ‘n fisiese liggaam nie, maar ’n verheerlikte bestaan: “…daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid” (1 Kor. 15:42). Hiermee word bevestig dat God se doel nie is om die fisiese werklikheid te vernietig nie, maar om dit te vernuwe. Die metafisiese is nie die ontkenning van die fisiese nie, maar die vervulling daarvan. In die nuwe skepping word hemel en aarde weer verenig (Openb. 21), en die mens leef liggaamlik én geestelik in volle gemeenskap met God.

Hans Boersma se sakramentele ontologie

Hier sluit Hans Boersma1 se sakramentele ontologie betekenisvol aan by die Bybelse getuienis. Volgens Boersma het die kerk deur die eeue die wêreld nooit as bloot materieel verstaan nie. Die geskape orde is ontologies ingebed in die onsigbare dinge. Christus is nie net Verlosser nie, Hy is ook die grond van alle bestaan: alles hou in Hom stand (Kol. 1:17). Boersma wys daarop dat die moderne kultuur hierdie sakramentele verstaan verloor het. Die wêreld word gesien as ’n versameling selfstandige objekte, los van mekaar, eerder as ’n werklikheid, wat soos ‘n tapisserie ingeweef is en deelneem aan God se skepping. In die Bybelse- en klassieke Christelike ontologie is die wêreld ’n sigbare deelname aan die onsigbare dinge. Paulus se briewe bevestig hierdie ontologie van deelname. Gelowiges is reeds nou saam met Christus opgewek en saam met Hom in die hemele (Efés. 2:5–6). Hulle burgerskap is nie op aarde nie, maar in die hemele (Flp. 3:20), en hulle ware woning is by God (2 Kor. 5:1). Dit beteken nie dat die aarde ontken moet word of prysgegee moet word nie, maar dat die aarde sy betekenis ontvang vanuit die hemel.

Teen hierdie agtergrond word die dood verstaan as ontologiese voltooiing van die mens se bestaan. Die fisiese lewe word nie uitgewis nie, dit word opgeneem in ’n voller werklikheid. Die Skrif praat daarom van die dood as “lewe”, asof die aardse bestaan nog nie die volle betekenis van dié woord dra nie.

Boersma se ontologie help om die Bybelse beeld van die dood as deurgang te verstaan. Soos Israel deur die Rooi See gegaan het, en Christus deur die graf, gaan die gelowige deur die poort van die dood na die ewige lewe. Die liggaam sterf, maar die mens gaan oor na ’n dieper, voller vorm van werklikheid; nie na iets wat minder werklik is nie, maar meer werklik is, aangesien dit nét met die geloofsoog en deur die verlossing van Christus gesien kan word.

Hierdie ontologie staan lynreg teenoor die moderne materialisme, wat die wêreld en die sigbare dinge as enigste einddoel verstaan. In só ’n raamwerk word die dood noodwendig die einde van bestaan en ‘n verskriklike verlies wat ten alle koste vermy moet word. Die Bybel en die Christelike tradisie verwerp dit. Werklikheid is nie beperk tot wat gemeet en gesien kan word nie. Die sigbare dra altyd meer as wat die oog sien, omdat dit ontologies gewortel is in Christus se ewige lewe.

Pastorale implikasies

Hierdie Christelike verstaan van die ontologie bring diep pastorale troos. As die dood nie die einde is nie, maar die deurgang tot die lewe, verander dit hoe ons leef, sterf en treur. Die sigbare lewe op aarde is maar net ’n voorportaal van die ewigheid. Elke daad op aarde dra ewigheidsgewig. Jesus se woorde bly daarom die sleutel: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh. 11:25). Om in Christus te lewe en te sterwe, is om reeds nou deel te hê aan die ewige lewe.

Slot

Die Bybelse ontologie weier om die werklikheid te versnipper in ’n fisiese-versus-geestelike teenstelling. Die dood is nie die einde van die lewe nie, maar die poort na die ware lewe. In Christus is die dood reeds oorwin. Om dié rede is die dood vir ‘n gelowige die deur na die onsigbare werklikheid by God.

1 Boersma, Hans. 2011. Heavenly Participation. The weaving of a sacramental tapestry. Grand Rapids, MI: Wm Eerdmans Publishing, hoofstuk 1.