Offers in die Ou Testament
Offers in die Ou Testament
Prof. Gerrit Smit
Het u al ooit gewonder wat die verskil tussen die soenoffer en sondoffer in die Ou Testamentiese tyd was? Of wat die boodskap met die bring van offers was? Hoe moet Christene die Ou Testamentiese offers verstaan? Hier volg ‘n paar gedagtes oor offers in die Ou Testament…
Verskillende offers in die Ou-Testamentiese tyd
Brandoffer (Levitikus 1)
Die onderskeidende kenmerk was dat die hele dier verbrand is. Die Hebreeuse naam vir die offer dra die gedagte van “opgaan” oor. Die persoon wat geoffer het, het gewoonlik sy hand op die offerdier gelê en so gewys dat hy jammer is oor sy sonde. ‘n Offer was nie sommer enige dier nie, maar die beste wat iemand kon bekostig. Offers moes aan jou sak raak, sodat die oortreder in die vervolg twee maal sou dink voor hy weer oortree.
Graanoffer (Levitikus 2)
Hierdie offer staan ook in Afrikaans bekend as die “spysoffer”. Dit was waarskynlik as teken van dankbaarheid geoffer.
Maaltydoffer (Levitikus 3)
Hierdie offer word in die 1953 Afrikaanse vertaling ook die “dankoffer” genoem. In ander vertalings, veral die Engelse vertalings word dit ook die “deeloffer” genoem. Een deel daarvan is voor die aangesig van God in die tempel verbrand, ’n gedeelte het aan die priesters behoort as betaling vir hul dienste, en ’n verdere deel is deur die persoon wat die offer gebring het en sy gesin geëet. Die Hebreeuse naam sinspeel op “vrede” en was simbolies van die offeraar se begeerte om in die regte verhouding met God te leef (Lev. 22).
Die sondoffer (Levitikus 4-5) en die skuldoffer (Levitikus 5:14 en verder)
Daar bestaan verskille onder geleerdes oor die gebruik en betekenis van die sondoffer, asook hoe dit verskil van die soenoffer. Die moontlikste verklaring is dat die sondoffer of die sonde-offer gebring is wanneer iemand een van God se wette oortree het, en dat die skuldoffer gebring is wanneer iemand teenoor sy naaste oortree het. In die kultiese handelinge van die Jode het die twee offers nie regtig in prosedure van mekaar verskil nie. Albei offers handel oor versoening vir die sonde van die individu of die gemeenskap. Om te versoen kan op een van twee maniere verstaan word: “om te bedek” of om in die “regte verhouding te stel”. Hierdie soort offers se bedoeling was om die offeraar se sonde voor God te bedek, en hom weer in die regte verhouding met God te stel.
Die offers van die Ou Testament in die lig van Christus se koms
Wanneer mens die Ou Testament lees, moet ons nie die sprong na die Nuwe Testament direk maak nie. Elke offer en elke kultiese handeling van die Ou Testament moet eerstens teen die agtergrond van die tyd bekyk word. Maar die Nuwe Testament gee tog duidelike riglyne in die verstaan van die Joodse offers (lees byvoorbeeld weer die boek Hebreërs) in die lig van die koms van Jesus Christus.
Enkele interressante ooreenkomste tussen die Ou-Testamentiese offers en Christus as offer
In die Ou Testament was die offers gewoonlik bloedig.
Die Nuwe Testament leer dat Christus se kruisdood gepaard gegaan het met die vergieting van sy bloed.
In die Ou Testament was die offers simbool van versoening.
Christus het ons in die regte verhouding met God kom stel deur sy kruisdood.
In die Ou Testament het mense gewoonlik hul beste kom gee.
God gee sy eie Seun as offer – die beste wat gegee kan word.