Kerkwees as belangrikste bron van kultuurverandering
prof. Gerrit Smit
Die kerk is nie maar net ‘n instelling wat vir ’n uur op ’n Sondag funksioneer nie. Dit is die hartklop van die wêreld se morele en kulturele lewe. Waar Christus regeer, daar word kultuur gevorm. Die kerk is die saailand van die koninkryk.
Christus sê dat Hy alle mag ontvang het in die hemel en op aarde (Matt. 28:18-20). Hierdie gesag van Christus beteken dat daar geen neutrale terrein in die samelewing bestaan nie. Elke denkbare gebied van die menslike lewe: die politiek, kuns, ekonomie, opvoeding, gesin en wetenskap, staan onder die kroon van Christus. Wanneer die gemeente weekliks bymekaar kom om Hom te aanbid, vier ons simbolies en werklik die teokrasie van Christus.
Die term “teokrasie” word dikwels verkeerd verstaan. Dit beteken nie dat die kerk die staat moet beheer of dat predikante die wêreld moet regeer nie. Inteendeel, waar dit in die geskiedenis gebeur het, was daar allerlei skeeftrekkings. Maar, waar Christus die Koning is, word elke deel van die samelewing geroep om sy eie diens te verrig onder God se wet en genade. Met ander woorde, waar God regeer (Teo=God; “krasie”=regering), daar werk die mens in sy diens. Waar gedink word God is afwesig, daar werk mense vir hulleself en kan allerhande skeeftrekkings verwag word.
Die kerk is soos die markplein in die middel van die stede in die ou tyd. Die markplein was in die ou tyd die plek waar mense bymekaar gekom het om na redevoering te luister, geleer te word en sosiaal te verkeer. Aan die ander kant, is die staat verantwoordelik vir reg en geregtigheid, al lyk dit nie altyd in die samelewing of hulle dit reg kry nie. Die gesin is die plek waar opvoeding en welsyn moet geskied, hoewel die staat hierdie terrein dikwels vir hulleself opeis. Hierdie Bybelse orde skep balans.
Kerkwees begin by aanbidding. Om kerk toe te gaan, is die bron waaruit die gelowige gevoed word om na die wêreld te kan gaan. Die erediens is die plek waar waardes gevorm word en waar die ritme van die koninkryk geleer word. Mense maak graag verskonings om nie erediens toe te gaan nie. Die hemel is egter die plek waar die ewige erediens gehou word (vgl. Openb. 7:9-12). Die aardse erediens is ‘n voorsmaak van hierdie verwagting. As iemand graag die aardse erediens misloop, sal hulle nogal ontuis voel in die hemel. Soos die hart wat bloed deur die liggaam pomp, stuur die erediens die Brood van die Lewe deur elke aar van die gemeente om ander instellings in die samelewing te gaan bedien en hervorm.
Elke Sondag, wanneer die gemeente die Naam van God aanroep, word kultuur gevorm. Musiek, taal, belydenis en lewe word onbewustelik gevorm deur die wyse waarop God aanbid word. ’n Kerk wat oppervlakkige aanbidding beoefen, bring ’n vlak kultuur na vore. ’n Kerk wat eerbiedig en Skrifgetrou aanbid, bring kultuur voort wat met wysheid, selfbeheersing en liefde leef.
Die mens is in sy wese ’n aanbiddende wese (homo adorans). Almal aanbid iets of iemand. As dit nie die ware God is nie, is dit ‘n afbeelding van ‘n aardse een. Selfs die ongelowiges aanbid iets: mag, geld, sport, vermaak, hulleself, of hulle volk. Die verskil lê in die objek van aanbidding. Ware aanbidding bring orde, want dit erken God se heerlikheid as die bron van alle waarheid, goedheid en skoonheid. ’n Kultuur sonder aanbidding is soos ’n liggaam sonder ‘n hartklop – in rigor mortis.