Europa: van bakermat van die Christelike geloof tot ‘n sendingveld

Prof. GDS Smit [1]

Die geskiedenis van Europa is verweef met die geskiedenis van die Christelike kerk. Hier het die geloof wortel geskiet, die hervorming het hier plaasgevind, die Bybel is hier in verskillende Europese tale vertaal, kerke is gestig, en teologiese tradisies is gevorm. Europa se geskiedenis het die wêreld se denke tot vandag toe beïnvloed. Tog het die kerk se invloed op dié kontinent dramaties verander. Europa was die bakermat van die Christelike geloof en het nou ‘n sendingveld geword.

Europa was vir eeue die sentrum van die Christelike ontwikkeling. Die vroeë sendingreise van Paulus het stede soos Filippi, Tessalonika en Korinte op die kaart geplaas. Teen die tyd van Konstantyn die Grote, het die Christelike kerk gegroei van vervolgde kerk na erkende kerk. Mettertyd het figure soos Melanchton, Luther, Calvyn en Zwingli die Europese denke met Bybelse teologie verryk. Universiteite, soos Oxford en Genève, het teologiese denkskole geword.

Die Reformasie het veral in Europa momentum gekry. Die woorde Sola Scriptura het die samelewing verander en die Bybel het die grondslag van die Westerse wetgewing, kuns, opvoeding en kultuur gevorm. Sendingbewegings het van Europa uitgegaan na die Amerikas, Afrika, Asië en Australië. Europa was vir lank die “sturende kerk”.

Vandag is die toneel anders. Baie van Europa beskou hulself as post-Christelik. Meeste Europeërs staan onverskillig teenoor die Christelike geloof. Baie wil selfs niks met enige geloof te doen hê nie. Kerke staan leeg op ‘n Sondag, baie kerke word verkoop of ingerig as museums, en Christelike feesdae is maar bloot kulturele verskynsels of historiese gebruike. In sekere lande soos Frankryk, Nederland en Tsjeggië dui byna 70% van die bevolking aan dat hulle godsdienstig ongebonde is. Die Christelike wêreldbeskouing het plek gemaak vir sekularisasie, relativisme en individualisme.

Die oorsaak van hierdie afname kan onder meer toegeskryf word aan die verligtingsdenke wat die gesag van die Skrif bevraagteken, die wetenskaplike rewolusie wat God as onnodig laat lyk, twee wêreldoorloë wat Europa se morele sekerheid geknak het en die na-oorlogse welvaart in Europa wat die geestelike soeke laat afneem het.

Ironies genoeg is sendingwerk, wat eens vanaf Europa na die wêreld versprei het, nou besig om in omgekeerde rigting plaas te vind. Christene van Afrika, Suid-Amerika en Asië stuur sendelinge na Europa. Die kerke wat groei, is dikwels migrante gemeentes wat van Afrika en elders af kom. Selfs binne inheemse Europese gemeentes word vertel van klein oplewings, maar dit is maar min in vergelyking met die invloed wat die Christelike kerke eeue gelede gehad het. Sommige Europeërs begin wel weer die kerke opsoek omdat hulle die gevaar van die instroming van Moslems uit ander lande beleef.

Vir die kerke wêreldwyd en spesifiek vir die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika is daar belangrike lesse.

Eerstens herinner dit ons daaraan dat geen kultuur ’n ewige waarborg van geloof het nie. Die feit dat ’n samelewing eers onder die invloed van die Christendom was, beteken nie dat dit so sal bly nie. Die geskiedenis van Europa wys dat dit twee- tot drie geslagte neem om van ‘n Christelike nasie na ‘n heidense samelewing te beweeg.

Tweedens wys dit op die voortdurende noodsaak van hernude verkondiging van die evangelie. Dit beteken prakties dat kerke in Suid-Afrika meer erns moet maak met sendingwerk om ‘n teenwig teen die sekularisasie van ons samelewing te bewerk. Sending is nie net iets wat na ver lande moet gebeur nie: dit begin by die huis maar moet ook uitkring na Wene, Parys, London, Madrid en Berlyn.

Waar die lig dof geword het, is God in staat om dit weer aan te steek. Europa mag nie vergeet word nie. Dit is vandag ‘n sendingveld waar die evangelie geplant en natgelei moet word met vasberadenheid en liefde.

Europa, die ou moeder van die teologie en gereformeerde kerklike tradisie, staan vandag met ’n geestelike leegheid wat roep om hulp. Soos Paulus vroeër aan die Romeine geskryf het: “…hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?”  (Rom. 10:14). Die sendingveld van Europa moet nie beskou word as ‘n onoorkombare uitdaging nie, maar as ’n geleentheid vir die kerk om weer die Evangelie helder te laat weerklink, van die ou katedrale tot die moderne koffiewinkels en die besige strate. Die bakermat het sendingveld geword, maar God se Woord is lewend en kragtig. Laat ons hier plaaslik meer erns maak met sendingwerk, maar ook nie vergeet van die bakermat van die Christelike geloof wat nou sonder God is nie.

[1] Aanbieding gelewer op Sondag 22 Junie 2025 by geleentheid van die jaarlikse Sendingsondag.