Die wêreld het meer sulke pa’s nodig

Geskryf deur: prof. Gerrit Smit (AP Akademie)

Die wêreld benodig goeie pa'sSondag is Vadersdag! Ons moet natuurlik elke dag vaders se rol in die samelewing en in ons gesinne waardeer en koester, nie net op dié spesifieke dag nie, maar vadersdag bied ’n unieke geleentheid om te fokus op hoe belangrik pa’s se rol in gesonde gesinne is. Dit skep ’n geleentheid om dankbaarheid te wys aan elke vader wat dié belangrike rol ernstig opneem.

Dit is in ons tyd nogal opmerklik dat een figuur besig is om in stilte aan die agterkant van die verhoog te verdwyn: die pa in die huisgesin. Ons leef in ’n tyd waar gesinne al hoe meer gefragmenteer word en die eeue-oue waardes rakende ouers se gesag, die pa se rol in die vorming van identiteit en die roeping om ’n pa te wees vir sy kinders, by baie mense vervaag. En tog, die impak van ’n teenwoordige, betrokke vader is onmeetbaar. Navorsing bevestig wat die Skrif nog altyd leer, naamlik dat pa’s nie oorbodige ekstra’s in die gesin is nie. Hulle is pilare van ’n gesonde gesin. Om ’n pa te word, is maklik. Maar om ’n vader te wees soos die Bybel vereis, vra inspanning, tyd, genade, ’n voorbeeld en liefde. Die wêreld het nie net meer pa’s nodig nie. Die wêreld het meer vaders nodig wat doen wat die Bybel vra. Dit is pa’s wat daar is vir hulle gesinne; pa’s wat leiding gee; pa’s wat deur hulle liefde wys hoe die liefde van die Vader lyk.

Volgens die nuutste General Household Survey (2023) van Statistiek Suid-Afrika woon slegs 31,5% van kinders in ons land saam met beide hulle biologiese ouers. Daarteenoor woon 55% van kinders nie meer saam met hulle biologiese pa nie, en 19% van alle kinders woon saam met géén van hulle biologiese ouers nie. Hierdie statistieke wys op ‘n duidelike krisis van afwesigheid van pa’s in die Suid-Afrikaanse huisgesinne.

As ’n pa afwesig is, laat dit ’n emosionele gaping in die gesin. Dit skep ’n sosiale vakuum waarin armoede, onsekerheid, wanorde en identiteitskrisisse maklik wortelskiet. Die National Fatherhood Initiative in die VSA het baie navorsing gedoen oor die rol wat vaders in die opvoeding van hulle kinders speel, en hulle navorsing wys dat kinders wat sonder ’n pa in die huis groot word, baie meer geneig is om in armoede groot te word, twee keer meer geneig om nie skool klaar te maak nie en meer geneig is om in dwelmmisbruik en geweld betrokke te raak. Ons moet nie hierdie statistieke ignoreer nie, want dit dien vir ons as waarskuwingsligte van wat in die samelewing gebeur as vaders afwesig is by die opvoeding van hulle kinders.

Daar is ook ’n teologiese rede waarom pa’s in hulle huisgesinne teenwoordig moet wees. Vir die kind is die eerste gesaghebbende figuur wat in die huis moet wys hoe regverdigheid, liefde, genade en vergifnis lyk, nie ‘n predikant of ‘n onderwyser nie, maar die kind se eie pa. Kinders vorm hulle eerste idee oor God, aan die hand van die een wat hulle leer bid, wat hulle tugtig, beskerm en omarm. As die pa afwesig, onregverdig, ongenaakbaar of liefdeloos is, projekteer die kind daardie eienskappe op God. Dit is trouens een van die redes waarom baie mense sukkel om God as ’n liefdevolle Vader te verstaan en te erken, want baie mense se idee van ’n pa is die voorbeeld wat hulle in hulle huise as kinders gesien het, van iemand wat nie ware liefde, omgee en genade wys nie. Maar as die pa regverdig, konsekwent en liefdevol is, word die kind se hart vroeër en makliker ontvanklik vir die waarheid van God as ’n liefdevolle Vader.

In die Bybel kry ons die beeld van die vader wat as priester in sy huisgesin geroep is, wat bereid moet wees om te offer ter wille van sy gesin en deur sy voorbeeld sy gesin se morele en geestelike waardes vorm. ’n Studie gepubliseer in Psychology Today toon dat kinders wat veilige en gesonde verhoudings met hulle pa’s het, meer geneig is om as volwassenes geestelik standvastig te wees, godsdienstige waardes makliker aanleer en hoër vlakke van empatie en morele bewussyn ontwikkel.

Om ’n goeie pa te wees vra nie dat mens volmaak moet wees nie, want niemand is volmaak nie. Dit vra teenwoordigheid. ’n Pa hoef nie elke probleem te kan oplos nie. Hy moet net daar wees vir sy gesin, hulle emosioneel ondersteun en liefhê, selfs wanneer dit moeilik is. Die wêreld het pa’s nodig wat hul tienerdogters wys hoe ’n man teenoor sy vrou moet optree en hulle seuns leer wat eerbied vir hulle ma beteken.

Gesonde gesinne is die bousteen van ’n gesonde samelewing. En gesonde gesinne het ’n teenwoordige, verantwoordelike vader nodig. Die oplossing vir misdaad, vir armoede, vir morele verwarring begin nie by die parlement nie, maar by die pa wat saam met sy kind bid en daar is wanneer hulle deur ’n krisis gaan. Gemeenskappe floreer wanneer mans leer om hulle roeping as vaders te eer. In plaas daarvan om Sondag saam met pa restourant toe te gaan, bied vadersdag ‘n geleentheid om saam met pa kerk toe te gaan.

Wees dankbaar vir vaders wat hulle huisgesinne versterk. Kom ons bid ook vir pa’s wat dit nie doen nie. Gee aan vaders erkenning dié Vadersdag. Die wêreld het hulle nodig.

 

Bronne:

  1. Statistics South Africa. General Household Survey 2023. https://www.statssa.gov.za/publications/P0318/P03182023.pdf 

  2. National Fatherhood Initiative. Father Absence Statistics. https://www.fatherhood.org/father-absence-statistic 

  3. America First Policy Institute. Fatherlessness and Crime. https://americafirstpolicy.com/assets/uploads/files/Fatherlessness_and_Crime.pdf