Die Israelvisie se Skrifbeskouing

prof. GDS Smit

Inleiding

In die geskiedenis van die kerk het verskeie bewegings ontstaan wat probeer om die identiteit van God se volk eksklusief te bepaal op grond van ras, kultuur of volksverband. Een sodanige beweging is die Brits-Israel-beweging, wat oorspronklik in 19de-eeuse Engeland ontstaan het en later as die Israelvisie in Suid-Afrika die lig gesien het. Hierdie teologie beweer dat sekere Westerse volke, soos die Europese- en Afrikanervolk, fisiese afstammelinge is van die tien verlore stamme van Israel. Daarmee verbind dit Bybelse profesieë en verbondsbeloftes aan spesifieke etniese groepe, en nie aan die kerk van Christus nie. Hierdie benadering het ernstige gevolge vir ons Skrifverstaan, verbondsteologie, en kerkeenheid. Hierdie artikel ondersoek die oorsprong van die Brits-Israel-beweging, die ooreenkomste met die Israelvisie, die Skrifbeskouing van dié leer, en gee ‘n teologiese beoordeling waarom dit as ’n valse teologie beskou moet word.

  1. Die oorsprong van die Brits-Israel-beweging

Die Brits-Israel-beweging het sy oorsprong in die 19de eeu in Engeland en was nou verbind aan nasionale trots en die opkoms van imperialistiese denke. Een van die vroeë grondleggers was Richard Brothers (1757–1824), wat geglo het dat die Engelse volk afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel is. Die beweging is egter meer sistematies ontwikkel deur mense soos John Wilson (Our Israelitish Origin, 1840) en Edward Hine, wat die gedagte bevorder het dat die Angelsaksiese volkere die werklike Israeliete van die Bybel is.

Die beweging het momentum gekry in ‘n tyd van Britse koloniale uitbreiding. Die siening het ‘n teologiese regverdiging probeer bied vir die Britse Ryk as ‘n uitvloeisel van God se verbond met Israel. Hierdie verbondsteologie is egter losgemaak van Christus en die kerk en geherinterpreteer in terme van etniese en nasionale identiteit.

  1. Ooreenkomste tussen die Israelvisie en die Brits-Israel-beweging

Die Israelvisie is in wese ’n Suid-Afrikaanse aanpassing van die Brits-Israel-leer. Die volgende ooreenkomste is opvallend:

  • Etniese identiteit en uitverkorenheid Beide bewegings glo dat sekere wit volke, veral van Europese afkoms, die letterlike fisiese afstammelinge van die “verlore tien stamme van Israel” is.
  • Rasseteologie: Daar is by beide ‘n neiging om ras of volksherkoms as voorwaarde vir verlossing te bestempel. Die Israelvisie het hierdie idees aangepas om die Afrikaner as die verbondsvolk van God te identifiseer.
  • Verwerping van geestelike interpretasie van Israel: Beide bewegings verwerp die siening dat die Nuwe Testament die verbondsbeloftes vervul in Christus en die kerk, en hou eerder vas aan ’n fisiese en nasionale verstaan van God se verbond.
  • Profetiese herinterpretasie: Eskatologiese profesieë in die Bybel word op die betrokke volk (Europeërs of Afrikaners) toegepas eerder as op die kerk.
  1. Die Skrifbeskouing van die Israelvisie

Die Israelvisie het ‘n selektiewe en ideologiese Skrifbenadering. Kenmerke sluit in:

  • Letterlike toepassing van Ou-Testamentiese profesieë op etniese groepe: Beloftes aan Israel word direk op sekere volke toegepas sonder om dit deur Christus te lees.
  • Losmaking van die Nuwe-Testamentiese hermeneutiek: Daar is ‘n minagting of selfs verwerping van die Nuwe Testament se lering dat die ware Israel dié is wat in Christus glo (vgl. Rom. 9:6–8; Gal. 3:28–29).
  • Kritiek of verwerping van Paulus: Omdat Paulus se bediening hoofsaaklik op die heidene gefokus was en nie op die Jode nie, is daar ‘n algemene verwerping van Paulus of kritiek op sy briewe.
  • Eisegese: Skrifgedeeltes word buite konteks aangehaal en geherinterpreteer om ‘n bestaande ideologie te bevestig.
  • Onafhanklikheid van die kerklike tradisie: Die Israelvisie beweeg buite die raamwerk van gereformeerde eksegese en kerkgeskiedenis, is krities of selfs vyandig teenoor die gevestigde kerke en stel hul eie interpretasie bo die ekumeniese en gereformeerde konsensus.

Die Israelvisie en die Brits-Israel-beweging maak gebruik van verskeie Bybeltekste, maar hulle verstaan en gebruik hierdie tekste buite hul oorspronklike konteks en los van die Christologiese sentrum van die Skrif. Hieronder volg voorbeelde van enkele belangrike tekste wat tipies deur hierdie beweging misverstaan word:

 

Genesis 12:1–3 – Die roeping van Abram

“En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word”.

Misverstand: Die Israelvisie lees hierdie belofte as ‘n fisiese belofte aan ‘n etniese nageslag (soos die Afrikaner of Europeër), en glo dat spesifieke Europese volke draers van hierdie seën is en daarom ryk en welvarend is teenoor ander volke wat sukkelend en arm is.

Regte verstaan: Paulus interpreteer hierdie teks in Galasiërs 3:8–9 en vers 16 en wys dat die ware nageslag van Abraham, die kerk is, en dat almal wat in Christus glo, kinders van Abraham is. Die belofte aan Abraham is dus geestelik en universeel, nie etnies en eksklusief nie.

 

2 Samuel 7:12–16 – Die Dawidiese verbond

“As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig”

Misverstand: Die beweging verstaan hierdie koninklike verbond as ‘n belofte aan ‘n letterlike, nasionale troon en aardse Messias, en verbind dit met die Britse of Afrikaner politieke gesag. Hierin verstaan hulle die heerskappy van die Israelitiese afstammelinge oor alle volke.

Regte verstaan: In die Nuwe Testament word hierdie belofte vervul in Jesus Christus as die Seun van Dawid (Luk. 1:32–33). Sy Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie (Joh. 18:36) en sluit alle volke in wat Hom as Here erken.

 

Jesaja 11:11–12 – Die insameling van die verstrooides

“…En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop…”.

Misverstand: Hierdie teks word as profesie oor die herontdekking van die verlore tien stamme geïnterpreteer, wat dan met die Westerse nasies geïdentifiseer word.

Regte verstaan: In die lig van die Nuwe Testament dui hierdie profesie op die universele insameling van die gelowiges uit al die nasies deur die evangelie. Dit vind vervulling in Christus wat mense uit alle tale en volke verenig in sy liggaam, die kerk (vgl. Openb. 7:9–10).

 

Jeremia 31:31–34 – Die nuwe verbond

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit…”.

Misverstand: Die Israelvisie beweer dat hierdie nuwe verbond slegs vir die fisiese Israel (hulself) bedoel is en nie vir die heidene nie.

Regte verstaan: Hebreërs 8:8–13 haal hierdie gedeelte volledig aan en wys dat dit vervul is in Christus en van toepassing is op alle gelowiges. Die “huis van Israel” is nou die geestelike volk van God – nie afgebaken op grond van bloedlyn nie, maar deur wedergeboorte.

 

Openbaring 7:4–8 – Die 144 000 uit Israel

“En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel…”

Misverstand: Die beweging interpreteer hierdie getal as ‘n letterlike verwysing na afstammelinge van fisiese Israel, dikwels toegepas op hulle eie nasie.

Regte verstaan: Die konteks van Openbaring is simbolies. Die 144 000 dui op die volheid van God se volk, gegrond in die 12 stamme en 12 apostels – ‘n volmaakte getal van die nuwe verbondsvolk. Dit word in dieselfde hoofstuk aangevul deur die “groot menigte wat niemand kon tel nie” (v. 9), wat duidelik universeel en nie-etnies is.

 

Levitikus 25:44-46 – Hulle moet julle dien

“En julle mag dié aan julle kinders ná julle nalaat as ’n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander—oor hom mag jy nie met hardheid heers nie…”

Misverstand: Hier waar van heidense slawe sprake is, beweer hulle dat swart mense “diere van die veld” is wat nie ’n siel het nie en daarom wit mense se dienaars moet wees. Hierdie verklaring is veral onder hulle gewild waar daar aangevoer word dat net mense van Europese afkoms ‘n Adamitiese gees het en ander rasse deur God as dienaars geskep is.

Regte verstaan: Daar moet spesifiek verwys word na die feit dat sulke leringe nie bloot ‘n teologiese misverstand is nie, maar onregstreeks die Skrif misbruik om haat te bevorder. Dit is in stryd met Christus se gebod van liefde, selfs vir jou vyand (Matt. 22:37–39).

 

Josua 9:21 – Houtkappers en waterdraers

“Verder sê die owerstes vir hulle: Laat hulle lewe! En hulle het houtkappers en waterputters geword van die hele vergadering, soos die owerstes aan hulle gesê het”.

Misverstand: Hulle beweer dat ander rasse bestem is om “houtkappers en waterdraers” vir wit mense te wees. Hierdie teks, wat verwys na die Gibeoniete se vreesgedrewe ooreenkoms met Israel, word heeltemal buite konteks gebruik.

Regte verstaan: Israel staan hier voor die etiese dilemma dat hulle die ooreenkoms wat hulle met die Gibeoniete gemaak het, moet breek of die gelofte aan die Here verbreek. Hulle besluit om die Gibeoniete te laat leef maar van hulle slawe te maak.

 

  1. Waarom die Israelvisie ‘n valse teologie is

Die Israelvisie moet as ’n valse en gevaarlike teologie beskou word, en dit om verskeie redes:

  • Christologiese skeiding: Dit onttroon Christus as die middelpunt van God se verbondsvolk. Die Nuwe Testament leer duidelik dat in Christus die beloftes vervul is (2 Kor. 1:20).
  • Rassistiese teologie: Die beweging onderskryf ’n rasseteologie wat lynreg indruis teen die evangelie se universele aanbod van genade. Dit vervang geloof met bloedlyn (“race not grace”).
  • Verdraaiing van die verbond: Die verbond word herlei na etniese afstamming in plaas van geloofsverhouding. Dit is ‘n herlewing van die Judaïstiese dwaling waarteen Paulus waarsku in Galasiërs.
  • Onbybelse eskatologie: Hulle verstaan van die eindtyd is gebou op nasionalistiese ideale eerder as op die wederkoms van Christus en die voleindiging van sy Koninkryk.
  • Verskeuring van die kerk: Die beweging lei tot verdeeldheid, skeuring en verwerping van ander gelowiges op grond van kultuur of ras. Dit strook nie met Efesiërs 2 se leer van een liggaam nie.

 

  1. Samevatting:

Die Israelvisie moet nie verwar word met Gereformeerde verbondsteologie nie. Dit is nie ‘n herstel van die Ou-Testamentiese Israel nie, maar ‘n ideologiese manipulasie van die Bybel. Die ware Israel is nie bepaal deur ras of nasie nie, maar deur geloof in Christus (Rom. 10:12–13). Die kerk moet hierdie ideologie met pastorale wysheid én teologiese duidelikheid aanspreek.

Die Israelvisie lees die Bybel deur ‘n etnosentriese en nasionalistiese bril. Hulle ignoreer die Nuwe-Testamentiese hermeneutiek wat die beloftes van die Ou Testament herinterpreteer in Christus. Hulle verstaan nie die progressiewe openbaring van die Skrif nie, en verwar tipologie met etnisiteit. Die teologie is dus nie net verkeerd nie, maar lei ook tot haat teenoor ander volke wat teen die evangelie van genade indruis.