Die herkoms en betekenis van advent

Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Advent word aan die einde van die jaar, gewoonlik die laaste 4 weke voor Kersfees gevier. Maar in die kerklike ritme, is dit die begin van die kerkjaar. Van Kersfees af, volg ons die aardse bediening van Christus tot Paasfees waar ons die Lydensweg, dood, opstanding en hemelvaart van Christus herdenk.

Die woord “advent” kom van die Latyn adventus, wat “koms” beteken. Die antieke wêreld het die woord gebruik om die koms van ’n koning te beskryf, wat gewoonlik voorafgegaan is met ‘n boodskapper, wat die stad moes gaan waarsku om gereed te maak vir die besoek van die koning. Die Nuwe Testament gebruik die woord om na Christus se koms as mens te verwys. Advent het daarom in die geskiedenis van die kerk sinoniem geword met Israel se lang wag op die koms van die Messias en die kerk se verlange na Christus, wat gekom het en weer sal kom. Kersfees herinner dus nie net aan die eerste koms van Christus nie, maar ook aan sy wederkoms. Kersfees is die fees wat die spanning tussen die twee komste in die kollig plaas.

Die oudste verwysings na die viering van Advent vind ons in die vierde eeu in die Westerse kerk. Aanvanklik was dit nie deur alle Christene op dieselfde manier gevier nie. Sommige streke het Advent as ’n tyd van vas en voorbereiding voor Epifanie (verskyning of “Kerst”fees – Christus se fees) gevier. Dit was ook gebruiklik om nuwe Christene in hierdie tyd te doop. Eers later het Advent meer verbind geraak met die vier Sondae voor Kersfees. Dit was veral die kerkvader, Augustinus, wat die verband tussen die eerste- en tweede koms in Advent beklemtoon het.  Hy het beskryf hoe die kerk leef tussen Christus se twee komste, in ’n “heilige spanning van hoop”.

Teen die Middeleeue het die viering van Advent ‘n vaste gebruik in die kerk geword. Dit was gewoonlik ‘n seisoen van nadenke, Skriflesing en uitdeel van gawes aan die armes. Hoewel dit ‘n ernstige toon gehad het, was dit nooit ‘n tyd van rou nie, maar was as ‘n fees van blydskap gevier. Die tema van Advent was altyd Christus se lig wat deur die wêreld se duisternis breek.

Advent word vandag gewoonlik oor die vier Sondae voor Kersfees gevier. Die temas wissel effens tussen kerklike tradisies. Die eerste Sondag fokus gewoonlik op Christus se wederkoms en die oproep om waaksaam te leef. Die tweede Sondag fokus dikwels op Johannes die Doper, wat as boodskapper gestuur is, wat die pad gereed moes maak vir die koms van die ewige Koning. Die derde Sondag handel gewoonlik oor die vreugde van die evangelie, terwyl die vierde Sondag die klem plaas op die nabyheid van Christus, deur aan die een kant op sy geboorte te fokus, en aan die ander kant op sy teenwoordigheid as Immanuel deur die Heilige Gees wat in sy kerk werk.

Sommige tradisies verkies om in die kerklike jaar liturgiese kleure te gebruik. Dan kies hulle gewoonlik tydens Advent pers of donkerblou. Pers is tradisioneel die koninklike kleur, om die koninklikheid van Christus te simboliseer. Donkerblou herinner aan die hemel waarheen Hy opgevaar het en vanwaar Hy weer sal kom om te oordeel oor die wat lewe en die wat reeds gesterf het. Die Roomse kerk het die gebruik om elke Sondag van Advent een kers aan te steek totdat die vierde kers op die laaste Sondag voor Kersfees aangesteek word, wat simboliseer dat Christus se lig toeneem namate Kersfees nader kom.

In ons tyd is mense baie haastig en wil alles dadelik hê. Hulle word ongeduldig as alles nie vinnig en volgens hulle verwagting gebeur nie. Hierteenoor roep Advent die kerk om te wag. Hierdie “wag” is ’n geestelike oefening. Dit simboliseer die verwagting van die Ou Testament. Dit is die soort verwagting van God se beloftes wat in redding verander, waaroor Jesaja praat wanneer hy skryf: “…terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek” (Jesaja 65:24). Die vier Sondae van Advent het die doel om ‘n progressiewe verdieping te bewerkstellig. Die kerk kyk in dankbaarheid terug na Bethlehem, en ook in hoop vorentoe na die wederkoms. Advent herinner die kerk dat God se heerskappy groter is as die wêreld se storms en dat Christus se koms die middelpunt van die geskiedenis bly. Die Here se tydsberekening bots dikwels met die mens se verwagtinge en ongeduld, maar Advent leer dat God op sy tyd en sy manier werk. Sy tyd is die regte tyd.

Kersfees is dus nie so leeg dat ons dit hoef vol te maak met betekenislose fantasieë nie. Dit kom gevul met die diepte van die Christelike boodskap van dankbaarheid en hoop. Christene moet daarom waak daarteen om Kersfees op ’n sekulêre manier te vier, want wanneer die simboliek van die wêreld die toon begin aangee, verloor ons maklik die eenvoud van die Woord wat vlees geword het. Kersfees dra genoeg gewig dat ons dit nie hoef te vul met sneeu, takbokke of ’n kersvader nie.

Advent roep die gelowige om die ritme van die evangelie te leer en om te waak, te luister en te hoop.

Christus het gekom en Christus sal weer kom. Die kerk leef tussen hierdie twee spanningsvelde, waarvan Kersfees die simboliese middelpunt is.