Die hel: gehenna, sheol of hades?
Die Bybel gebruik verskillende woorde vir doderyk en hel, naamlik sheol, hades, gehenna, plek van vuur en swawel.
“Paradys” is gewoonlik ‘n sinoniem vir “hemel” en “doderyk” vir “hel”.
Die woord sheol kom dikwels in die Ou Testament onder die Jode voor, en verwys na die plek waarheen die siele gaan om te wag vir die koms van die Messias. Volgens die Joodse apokaliptiek sou alle mense na sheol gaan en wanneer dei Messias kom sou hy die gevangenes uit die doderyk kom bevry en hemel toe neem. Sien my artikel hieroor by: https://gdssmit.files. wordpress.com/2016/09/ter- helle-neergedaal.pdf
In die plek van sheol praat die Grieke van Hades – dit is die plek van die dood. Die woord “hel” wat ons gebruik is afgelei van die Griekse woord “gehenna” wat weer afgelei is van die Hebreeuse woord “hinnom”. In die Ou Testament is “hinnom” die plek waar Israel hulle kinders aan die afgode geoffer het wat die toorn van die Here verwek het. Daarom word die plek die “dal van hinnom” genoem wat net Suid van Jerusalem gelê het (Josua 15:8) en wat later die “vullishoop” van die stad geword het. In die Nuwe Testament het die “hinnomvallei” ook in spreekwoordelike taal “die duisternis” geheet (vergelyk Matt. 22:13) omdat die onrein diere en afval van die stad daar verbrand is en die plek vol larwes en wurms was, en heeltyd aangevul is met nuwe rommel sodat die vuur nooit daar geblus was nie (vgl. Mark. 9:44).
In Openbaring 19:20 en ander plekke word “hel” die plek genoem waar die goddeloses gestraf word (Luk. 16:24); Mark. 9:45-46).
Hades, gehenna, sheol en hel is verskillende name vir dieselfde plek. Sheol is die algemene naam in die Ou Testament en Gehenna die algemene naam in die Nuwe Testament, terwyl Hades meerendeels buite die Bybel by die Grieke voorgekom het. Dit is dus in wese dieselfde plek hoewel elke tydperk se verstaan van wat daar gebeur en hoe dit lyk verskil het.
Wat betref die gedagte wat leef by sommige mense dat ons eers in die doderyk/graf wag op die koms van Christus en in ‘n soort slaap is, kan ons nie aanvaar nie. Wat my betref moet ons aanvaar dat God tyd en ruimte gemaak het (Hy skep hemel en aarde en son, maan en sterre en daarmee ook tyd). Wanneer ons sterf gaan ons in ‘n geestelike dimensie in waarin tyd en ruimte nie meer bestaan nie, en daarom is dit nie so belangrik “wanneer” Christus kom nie, maar dat Hy kom, omdat ons oordeelsdag aanbreek die oomblik wanneer die mens sterf en tyd ophou bestaan.