Die godsdiens van die Persiërs in die tyd van Ester

deur prof. Gerrit Smit

Die boek Ester open met ’n uitgestrekte Persiese ryk onder die heerskappy van koning Ahasvéros (Xerxes I), wat oor 127 provinsies regeer het (Est. 1:1). Hierdie wêreld van die ballingskap is nie ‘n godsdienstige vakuum nie, maar ’n plek waar die wêreldbeskouing van die Persiese owerhede bots met, en soms verdra word deur die Joodse gemeenskap in die diaspora. Dit is dus belangrik om die godsdiens van die Persiërs te verstaan as agtergrond tot die gebeure van die boek Ester.

Die Persiese godsdiens: ’n ontwikkeling uit vroeë Oosterse aanbidding

Die dominante godsdiens in die tyd van die Persiese (Achaemenidiese) Ryk (550–330 v.C.) was ‘n vroeë vorm van Zoroastrianisme. Dit was ‘n geloof wat sy ontstaan gehad het in die profeet Zoroaster. Alhoewel daar onder akademici debat bestaan oor hoe algemeen hierdie godsdiens in die tyd van Kores, Darius en Xerxes toegepas is, blyk dit dat verskeie Zoroastriaanse elemente teenwoordig was in dié tyd, selfs al het dit nie die enigste godsdienstige invloede verteenwoordig nie.

Zoroastrianisme het ‘n duidelike dualistiese (tweeledige) raamwerk gehad: die stryd tussen Ahura Mazda, die wysheidsgod, en Angra Mainyu, die bose gees. Ahura Mazda was deur die Persiërs beskou as die oppergod van lig, waarheid en orde (asha), wat deur al die goeie mense nagevolg moes word. Hierdie konsep het waarskynlik die Persiese siening van regverdige regering en orde beïnvloed, insluitend die gebruik van wette en edikte, soos beskryf in Ester 1:19–22 en 3:12. Wat opvallend is in die godsdiens van die Persiërs, was dat hulle nie beelde van afgode gemaak het soos wat by ander volke soos die Babiloniërs voorgekom het nie. Trouens, die Persiese godsdiens was eerder ‘n monoteïstiese godsdiens wat meer filosofies van aard was, soortgelyk aan hoe ons vandag die Boeddhistiese godsdiens sou beskryf.

Godsdienstige verdraagsaamheid en die Persiese ryk

Die Persiese Ryk was opvallend verdraagsaam in sy hantering van ander godsdienste in die Ryk. Anders as die Babiloniërs, wat vroeër die Joodse tempel vernietig het as simbool van hulle gode se oorwinning oor die godsdiens van die Jode, het Kores die Grote in die tyd van Nehemia die ballinge toegelaat om na Jerusalem terug te keer en die tempel te herbou (Esra 1:1–4). Hierdie beleid van godsdienstige herstel was nie noodwendig ’n bewys van Darius se geloof in die God van die Jode nie, maar eerder ‘n strategie om sy ryk se stabiliteit te verseker.

Koning Ahasvéros word nie in die boek Ester uitgebeeld as ’n man van godsdienstige beginsels nie, maar eerder as ‘n monarg wat sy mag uitoefen binne ‘n hof wat vol intriges en mensgesentreerde lojaliteite is. Die afwesigheid van God se Naam in die boek Ester weerspieël ironies die godsdienstige omgewing van die hof en simboliseer ook die wêreld waarin ons ons vandag bevind, ‘n wêreld waarin godsdienstigheid teenwoordig is, maar God dikwels afwesig is in mense se lewensbeskouing.

Persië was ‘n wêreld waar menslike konings soos gode behandel is en waar die reg van die koning as onherroeplik beskou is (vgl. Est. 8:8), wat ook simbolies heenwys na die magsvergryp van die staat deur alle eeue heen.

Die rol van magiese en astrologiese praktyke

Benewens die formele aanbidding van Ahura Mazda, was daar in die Persiese hof ruimte vir magiese kragte, drome, sterrekykers en bygelowe. Die “wyse manne” en raadgewers aan die hof (Est. 1:13–14) herinner aan ‘n soort geleerdheid waarin godsdienstige en okkultiese praktyke vervleg was met die politiek van die dag. Hierdie konteks help om die beskrywing van Ahasvéros in Ester beter te verstaan: wanneer Mórdegai nie voor Haman buig nie, kan dit nie alleen beskou word as ‘n politieke daad nie, maar moontlik ‘n verwerping van die verafgoding van mense en mag (vgl. Est. 3:2), wat dan vervolgens ook die oorreaksie van Haman hierna moontlik kan verklaar.

Joodse beskouing van die Persiese godsdiens

Die boek Ester toon egter dat die Joodse volk hulself onderskei het as ’n “afgesonderde volk” met hulle eie wette (Est. 3:8). Haman se aanklag teen die Jode is dus nie net teen die Jode as volk gemik nie, maar ook teen hulle godsdiens. Die lojaliteit van Mórdegai en Ester aan hulle volk impliseer ’n lojaliteit aan die God van Israel wat nie met die heersende godsdienstige verwagtinge van die samelewing versoenbaar was nie.

Die spanning tussen die godsdienstige wêreldbeskouing oor die rol van die noodlot in die Persiese hof aan die een kant en die verbondsbeskouing van die Jode aan die ander kant, vorm die etiese en teologiese kern van Ester. Hoewel God se Naam nie genoem word nie, bly Hy die onsigbare Regisseur agter die gebeure wat nie toelaat dat die wêreldgeskiedenis buite beheer raak nie. Dit is ’n idee wat God se voorsienigheid bely, gekontrasteer met die Persiese wêreldbeeld, waarin koninklike edikte en sterrewiggelary die toekoms bepaal het.

Samevatting

Die godsdiens van die Persiërs in die tyd van die ballingskap, met sy mengsel van Zoroastrianisme, pragmatiese verdraagsaamheid en uitspattige hofseremonies, het die agtergrond geskep waarin die gebeure van die boek Ester afspeel.

Terwyl die konings van Persië hulleself gesien het as aardse verteenwoordigers van orde en wysheid, wys die boek Ester daarop dat ware heil en verlossing nie van aardse mag en menslike planne kom nie, maar van dié God wat altyd teenwoordig is en die toekoms van nasies in sy hande hou.

 

Geraadpleegde werke

  • Briant, Pierre. From Cyrus to Alexander: A History of the Persian Empire. Eisenbrauns, 2002.
  • Boyce, Mary. Zoroastrians: Their Religious Beliefs and Practices. Routledge, 2001.
  • Yamauchi, Edwin. Persia and the Bible. Baker Academic, 1990.
  • Grabbe, Lester L. A History of the Jews and Judaism in the Second Temple Period. Volume 1: Yehud – A History of the Persian Province of Judah. T&T Clark, 2004.
  • Watts, James W. Ritual and Rhetoric in Leviticus: From Sacrifice to Scripture. Cambridge University Press, 2007.