Die Geloofsbelydenis van Nicéa – 1700 jaar later.

Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Op 20 Mei 2025 vier die Christelike kerke wêreldwyd die 1700ste herdenking van die Geloofsbelydenis van Nicéa. Hierdie belydenis is een van die belangrikste geloofsverklarings in die geskiedenis van die Christendom. Hierdie viering herinner ons aan die betekenis van belydenisskrifte in die oordrag en belydenis van die suiwer leer. Dit herinner ons ook aan die stryd wat in die kerk deur die eeue heen gewoed het om die waarheid van die Evangelie te beskerm teen dwaalleer.

In hierdie artikel fokus ek op die ontstaan en op die redes waarom die Geloofsbelydenis van Nicéa steeds belangrik is vir die kerk in die 21ste eeu.

Waarom belydenisskrifte belangrik is

Sommige beskou belydenisskrifte as antieke dokumente wat deur ou manne met wit baarde aanvaar en beskerm word, maar nie tot die moderne Christen spreek nie. Dit is duidelik in die wyse waarop baie kerke vandag die belydenisskrifte eenkant toe geskuif het en dit selfs as minderwaardig beskou. Dit is allermins die waarheid.

Belydenisskrifte, soos dié van Nicéa, is belangrike geskrifte wat die kern van die waarheid van die Bybel oor geslagte heen bewaar en vir die kerk dien as rigtingwysers vir leer en lewe. Belydenisse help gelowiges om die geloof wat deur die eeue oorgelewer is op betroubare wyse te bely, dit gee belangrike standpunte wat die kerk deur die eeue heen verdedig het en dien as bron vir die Christelike onderrig in die Bybelse leer.

Oor die Geloofsbelydenis van Nicéa merk Joel R. Beeke op dat die kerk dit as ‘n  “fundamentale geloofsverklaring moet beskou” wat die hart van die Christelike geloof in die Drie-enige God opsom en verdedig teen dwalinge soos die Arianisme[1]. Dit bring gelowiges van verskillende tye en plekke bymekaar in ’n gemeenskaplike belydenis van geloof. Om dié rede staan die Geloofsbelydenis van Nicéa bekend as een van die drie algemene geloofsbelydenisse, omdat Christelike kerke oor alle eeue en alle plekke, hierdie belydenis aanvaar.

Die konteks van die konflik

Teen die begin van die vierde eeu het die kerk ernstige teologiese verdeeldheid beleef. ’n Leraar uit Alexandrië, met die naam Arius, het geleer dat Christus nie ewig was nie en deur God die Vader geskape is. Hierdie leerstelling, wat later as die Arianisme of die leer van Arius bekend geword het, het die goddelikheid van Christus bevraagteken. Hierdie standpunt bedreig die kern van die Evangelie, want as Christus net ’n gewone mens was, kon Hy nie vir ons sondes gely en gesterf het nie, en sou daar vervolgens geen moontlikheid van verlossing deur Christus kon wees nie.

Die eerste Konsilie van Nicéa (325 n.C.)

Keiser Konstantyn die Grote het pas die vervolging van die Christene beëindig ná sy bekering, toe hy die Edik van Milaan in 313 n.C. uitvaardig. Dit het die kerke oor die destydse Romeinse Ryk geleentheid gegee om in vryheid kerkgeboue op te rig, te fokus op opleiding en om brandende vrae in die kerk te beantwoord.  In Mei 325 het die Eerste Konsilie van Nicéa in Bithinië (hedendaagse Turkye)  bymekaargekom in opdrag van Konstantyn. Sy doel was om eenheid in die ryk en kerk te probeer herstel deur die stryd oor leerstellige sake op te los. Die konsilie, wat op 20 Junie geëindig het, het die leer van Arius verwerp en verklaar dat Christus homoousios, dit is “van dieselfde wese” as die Vader is.

Die oorspronklike belydenis was in Grieks geskryf omdat Grieks steeds die administratiewe en kerklike voertaal van die Oos-Romeinse Ryk op daardie tydstip was. Die belydenis oor Christus se godheid en mensheid was bondig, maar duidelik: Christus is: Θεὸν ἐκ Θεοῦ, φῶς ἐκ φωτός, Θεὸν ἀληθινὸν ἐκ Θεοῦ ἀληθινοῦ, γεννηθέντα, οὐ ποιηθέντα, ὁμοούσιον τῷ Πατρί, wat as dit vertaal word die volgende bely: “…God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God; gebore nie gemaak nie; van dieselfde wese met die Vader…”. Hierdie belydenis is gesamentlik deur kerke van oor die hele Romeinse wêreld aanvaar.

Die Konsilie van Konstantinopel (381 n.C.)

Hoewel die eerste weergawe van die belydenis Christus se godheid bevestig het, het verdere leerstellige onduidelikheid ontstaan oor die Heilige Gees. By die Konsilie van Konstantinopel in 381 n.C. is die belydenis weer bespreek en uitgebrei. Hier is die godheid van die Heilige Gees uitdruklik bely as “…die Here wat lewend maak, wat van die Vader uitgaan…”. Dit bevestig dat die Gees saam met die Vader aanbid en verheerlik moet word.

Hierdie belydenis is meer volledig as die Apostoliese Geloofsbelydenis en is ‘n  belydenis wat universeel erken word in sowel die Oosterse- as die Westerse Kerk[2].

Die filioque-kwessie en latere verdeeldheid

In die Westerse, Latynse kerk is die frase filioque (“en van die Seun”) later bygevoeg by die gedeelte oor die Heilige Gees om te bely dat die Heilige Gees “van die Vader en die Seun uitgaan”. Hierdie byvoeging is ’n belydenis wat later sou  bydra tot die groot skeuring tussen die Westerse- en die Ortodokse (Oosterse) Kerk in 1054. Volgens die Oosterse kerk het hierdie wysiging die algemene karakter en eenstemmigheid wat by die eerste twee konsilies was, ondermyn.

Relevansie vandag

Die Geloofsbelydenis van Nicéa het die toets van die tyd deurstaan omdat dit die ewige waarheid van die Skrif verwoord, veral oor Christus se persoon en werk. In ’n tyd waar Christus dikwels so vermenslik word dat sy goddelikheid ontken word, bly hierdie belydenis ’n rotsvaste getuie van die kerk deur die eeue oor die goddelikheid van die Seun en oor wat die Skrif leer aangaande die Drie-enige God.

Daarom het dit ’n belangrike plek in die kerk se liturgie en eredienste, stel dit die waarheid sodat dwaalleer herken en bestry kan word en bied dit ’n gemeenskaplike belydenis wat alle Christelike kerke oor die wêreld heen saambind. Dit herinner gelowiges verder daaraan dat hulle geloof nie ’n individuele saak is, maar dat ons ons geloof bely in die gemeenskap van gelowiges saam met die kerk van alle eeue.

Die viering van 1700 jaar van Nicéa

Oor die presiese datum waarop die belydenisskrif goedgekeur is, is daar verskil van mening. Die konsilie van Nicéa is afgesluit op 20 Junie 325. 20 Mei 325 word egter deur meeste aanvaar as die datum waarop die belydenis van Nicéa ontstaan het.

Die 1700ste herdenking vanjaar, is ‘n oproep tot hernude toewyding aan die waarheid van die Evangelie. Dit is ’n geleentheid vir die kerk om hulself te ondersoek en te vra: Verkondig ons nog dié Christus van Nicéa as ware God, uit die Vader voor alle tye?

Mag hierdie belydenis ons lei in leer, aanbidding en lewe, totdat Jesus Christus weer kom in heerlikheid om te oordeel oor die lewendes en die dooies.

Voetnotas: 

[1]  Joel R. Beeke, Michael P. V. Barrett, and Gerald M. Bilkes, reds., The Reformation Heritage KJV Study Bible (Grand Rapids, MI: Reformation Heritage Books, 2014), 1967.

[2]  Elliot Ritzema, “Nicene Creed,” in The Lexham Bible Dictionary, ed. John D. Barry et al. (Bellingham, WA: Lexham Press, 2016).

 

Geraadpleegde werke:

  1. Joel R. Beeke, Michael P. V. Barrett, and Gerald M. Bilkes, eds., The Reformation Heritage KJV Study Bible (Grand Rapids, MI: Reformation Heritage Books, 2014), 1967.
  2. Elliot Ritzema, “Nicene Creed,” in The Lexham Bible Dictionary, ed. John D. Barry et al. (Bellingham, WA: Lexham Press, 2016).
  3. Daniel R. Hyde, Welcome to a Reformed Church: A Guide for Pilgrims (Lake Mary, FL: Reformation Trust Publishing, 2010),
  4. RJ Rushdoony, The foundations of social order: Studies in the creeds and councils of the early church. (Thoburn Press, 1978).
  5. Donald Fairbairn & Ryan M. Reeves, The Story of Creeds and Confessions: Tracing the Development of the Christian Faith (Grand Rapids, MI: Baker Academic, 2019), 48.
  6. Robert Letham, Systematic Theology (Wheaton, IL: Crossway, 2019), 934.
  7. Historic Creeds and Confessions, elektroniese uitgawe (Oak Harbor: Lexham Press, 1997).