Die Fees van die Ligte (Chanoekka) en die betekenis daarvan vir die Christen

Prof. Gerrit Smit

Channoeka, oftewel die Fees van die Ligte, word sedert die tyd van die Ou Testament in die Joodse kalender teen die einde van November tot begin van Desember gevier.

Dit herdenk die herinwyding van die tempel in Jerusalem ná ’n donker hoofstuk in Israel se geskiedenis. Die gebeure handel oor die Seleukied, Antiochus (IV) Epifanes (175-164 v.C.), wat die altaar in die tempel ontheilig het deur varke in die tempel te offer en ‘n beeld van die afgod Zeus in die tempel op te rig. Dit het die Jode so ontstel, dat Judas Makkabeüs ’n opstand teen die Seleukiede gelei het. Nadat hulle die Seleukiede uit Jerusalem verdryf het, het hulle die tempel herstel en opnuut gereinig en die olielampe daarin weer laat brand. Die woord חֲנֻכָּה (chanoekka) beteken “inwyding”, vandaar die naam van die fees. Hierdie herinwyding van die tempel het plaasgevind op die 25ste van die Joodse maand Kislev, wat ooreenkom met die einde van November – begin Desember van ons kalender. Die bekende tradisie van die Jode vertel van een kruik gewyde olie wat gebruik was om die lampe in die tempel te laat brand, wat veronderstel was om slegs vir een dag te hou, maar dat ‘n wonderwerk plaasgevind het, sodat dit vir agt dae lank bly brand het. Hierdie geskiedenis was vir Israel baie belangrik.

‘n Mens sal dikwels in hierdie tyd van die jaar in winkelsentrums die boodskap “Hanukkah Sameakh!(geseënde fees van die ligte) of “Chag Sameakh!” (geseënde feesdag) sien.

Hoewel Christene nie die gebruik het om die fees te vier nie, het dit beslis toepassings in die Nuwe Testament. Dit help ons om die Nuwe Testament se verwysings na die “fees van die tempelwyding” in konteks te plaas. Johannes 10:22–23 meld dat Jesus gedurende die “fees van die tempelwyding” in die voorhof van Salomo gewandel het. Hierdie “fees van die tempelwyding”, was die Chanoekka. Johannes beklemtoon hierdie aspek van die fees, om aan te toon dat die Een wat Homself as die Lig van die wêreld kom openbaar het, in die tempel was tydens die viering van die fees wat lig en wyding herdenk, en dat die Joodse leiers spesifiek hier by die tempel tydens die fees met Jesus redeneer of Hy die Messias is.

Die kernvraag is hoe Christene hierdie fees kan verstaan in die lig van die koms van Christus, sonder om in ‘n Joodse vertolking daarvan vas te val?

Die “lig”-motief loop dwarsdeur die evangeliebeskrywing volgens Johannes, byvoorbeeld: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense” (Joh. 1:4; vergelyk ook Joh. 1:9); “Ek is die lig van die wêreld” (Joh. 8:12), asook in Johannes 3:19-21; 12:35-36 en ander plekke.

Die herstel van ware aanbidding vind nie sy hoogtepunt in die tempelgebou in Jerusalem nie, maar in die liggaam van Christus, die ware tempel van God (Johannes 2:19–21).

Christene kan dus die Chanoekka se teologie in drie lyne opsom:

  • Eerstens, die lig neem toe. Vir die Christen word hierdie toename geanker in Christus se opstanding en die Heilige Gees se inwoning. Die lamp van God se Woord is ‘n lig op ons lewenspad, wat God se lig in ons lewens laat toeneem.
  • Tweedens, die Chanoekka vertel hoe aanbidding herstel word. Vir die Christen is hierdie herstel gebaseer op Christus, die ware Hoëpriester. Die herstel van aanbidding vra dat ons ons liggame as ‘n altaar aan God wy (Rom. 12:1), wat in die lig van die Nuwe Testament beteken dat ons ons lewens rein hou, en die erediens, waar God se heilige teenwoordigheid gevier word, sal koester.
  • Derdens, geloofsvryheid as gawe. Die Makkabese stryd word dikwels beskryf as een van die eerste gewapende opstande vir godsdienstige vryheid. Hierdie geskiedkundige gebeurtenis, vra dat Christene die vryheid om God te aanbid moet beskerm, deur hulle aanhoudende publieke getuienis en die beskerming van godsdiensvryheid. Ons kan dit prakties doen deur ons stem te laat hoor teen regulering van godsdiens deur die staat.

Die Chanoekka val in die tyd wanneer Christene Advent vier (die tyd net voor Kersfees wat Christus se koms herdenk). Die Channoeka herinner dat die lig bly brand. Advent verkondig dat die Lig mens geword het, dat Hy na ons toe gekom het en die duisternis oorwin het.