Die Bybel is nie ‘n kommoditeit nie

prof. GDS Smit

In ons tyd word die Bybel en evangelie dikwels behandel asof dit ’n gewone verbruiksartikel of handelsproduk is. Die Here Jesus leer self dat die arbeider sy loon werd is (Lukas 10:7). Daarom kan daar nie fout gevind word met die gebruik dat ‘n leraar deur ‘n gemeente getrakteer word om die Woord van die Here te bedien in ruil vir versorging nie, of dat die Bybel verkoop word in ruil vir die instandhouding van die diens nie. Dit neem egter nooit die verantwoordelikheid van die bedienaar van die Woord weg om soos ‘n profeet van ouds die Woord van God te bedien en uit te deel sonder voordeel of vrees nie.

Die Bybel is nie ’n kommoditeit wat soos ander produkte op die mark onder verbruikers versprei en aangepas word na behoefte van die verbruiker of die produsent nie, maar ’n heilige roeping waarin die kerk as rentmeester geroep word om jaloers te waak oor die suiwerheid van die Woord van God. Wanneer die verkondiging van die Woord of die verspreiding daarvan ‘n kommoditeit word, weerspieël dit ’n gevaarlike skuif in die verstaan van ons roeping en opdrag. Om die evangelie te reduseer tot ’n markproduk is dus gevaarlik.

Die kerk moet die Bybel beskou as ’n gawe wat in die hande van die gelowiges geplaas is om hulle te voed, te lei en te vorm na die beeld van Christus. In ruil daarvoor, gee ons uit dankbaarheid ons bydraes vir die instandhouding van die bediening van die Woord, want die arbeider is sy loon werd (1 Tim. 5:18). Wanneer die Bybel en Woordverkondiging ’n verbruiksartikel of produk word, skuif die fokus van aanbidding na wins en van geestelike voeding na verbruik. Wanneer sukses gemeet word aan verkope, getalle, bemarking en jaarlikse wins, word die fokus verskuif van diens na gierigheid. Hierdie gevaar herinner ons aan die Here Jesus en die profete se woorde teen diegene wat die huis van God tot ’n markplein omskep (vgl. Jer. 7:11; Matt. 21:13).

Die Here Jesus het sy dissipels beveel: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee (Matt. 10:8). Net soos die dissipels die evangelie moes uitdra sonder om wins daaruit te maak, so moet die kerk die Woord bedien as gawe en nie as produk nie. Die dissipels mag wel onderhoud en die noodsaaklike lewensmiddele in ruil vir die bediening van die Woord ontvang het (vers 8), maar die motief mag nooit wins of eie eer wees nie (Matt. 10:9-10).

Die Bybel plaas die kerk in ’n profetiese rol. Deur die Skrif getuig die kerk teen onreg, waarsku teen afgodery, en roep mense terug na die pad van die Here. Wanneer iemand die evangelie verhandel teen onregverdige wins, verloor so iemand sy profetiese stem. Paulus herinner die gemeente in Korinthe dat hulle nie soos baie is wat met die Woord van God handel dryf nie (2 Kor. 2:17). Die kerk moet jaloers waak oor die suiwerheid van die Woord en dit bedien as lewende brood vir honger siele.

Die Bybel is ’n geskenk wat altyd geskenk moet word. Wins of gewildheid mag nooit die motief wees nie.