Die bronne van armoede: ’n teologiese perspektief
prof. Gerrit Smit
Inleiding
Armoede is so oud soos die mensdom self, maar dit bly ’n brandpunt in elke tyd en samelewing. Jesus het gesê ons sal die armes altyd by ons hê (Matt. 26:11). Ten spyte hiervan, het elke tyd en elke geslag ‘n verantwoordelikheid om dié wat minderbevoorreg is, te help. Dit is in besonder die roeping van die kerk, wat die barmhartigheid wat Christus aan ons bewys het, ook aan ander moet wys.
Armoede is ‘n groot ekonomiese probleem, en ongelukkig is dit waar baie ekonome en politici vashaak wanneer hulle oor armoede dink en praat. Luister ons na die Bybel, sien ons armoede is ook ’n morele en geestelike krisis wat die hele gemeenskap raak. Elke geslag probeer om armoede te verstaan en te verlig, maar sonder ’n teologiese raamwerk bly die begrip daarvan oppervlakkig en die oplossings tydelik. Die Bybel kyk nie na armoede as bloot ’n sosiale verskynsel nie, maar as iets wat die verhouding tussen God, die mens en sy naaste weerspieël.
Daar is verskillende oorsake van armoede: sommige lê in politieke- en strukturele onreg, ander in persoonlike gebrokenheid en swak keuses. Suid-Afrika het die hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld van 42%, waarvan ‘n skokkende 62.2% van die jeug sonder werk is volgens “World of Statistics”. Die land se werkloosheidsyfer word dikwels deur opportuniste as ‘n politieke speelbal gebruik.
Tog moet ons nie vaskyk in die statistieke, sonder om die oorsake te ondersoek en aan te spreek nie. Soos in die tyd van die Bybel en deur al die eeue heen, moet ons ook kategorieë van armoede daarstel om te bepaal wat die omvang van die probleem is. Sommige mense kan nie werk nie, ander wil werk nie, en nog ander het die wil en die vermoë, maar kry nie die geleentheid nie, soms ook weens regstellende aksie. Daar is dié wat werk, maar steeds nie genoeg het nie, en daar is ook dié wat oorvloed het en daarom ’n besondere verantwoordelikheid dra.
Hierdie artikel beoog om vanuit ’n Bybelse perspektief na die oorsake van armoede te kyk. Dit help nie om net die simptome te beskryf nie. Die geestelike en morele wortels daarvan moet aan die lig gebring word. Dit help ook nie dat ons weet mense is arm nie. Ons moet vra wat God se Woord oor elke vorm van armoede sê, en hoe die kerk geroep word om in elke situasie anders te reageer: soms met barmhartigheid, soms met vermaning, en soms opvoeding. Armoede is ’n spieël waarin die samelewing se gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan die gebod van liefde sigbaar word.
Die wat nie werk het nie
Armoede begin dikwels by mense wat eenvoudig nie werk het nie. Hierdie werkloses is nie noodwendig lui of onwillig nie; hulle is slagoffers van ’n ekonomie wat nie genoeg geleenthede bied nie. Fabrieke sluit, tegnologie vervang handearbeid, en vaardighede wat eens waardevol was, raak oorbodig. Sulke mense sit vas tussen die begeerte om te werk en die realiteit van ’n mark wat nie hul arbeid wil gebruik nie. ’n Baie groot groep werkloses val in hierdie kategorie. Hierdie mense beleef armoede as ’n voortdurende vorm van frustrasie en vernedering.
Teologies gesien raak hierdie toestand aan die vraag na geregtigheid. Wanneer mense gewillig is om te werk, maar omstandighede verhinder hulle om dit te doen, word hulle nie net ekonomies nie, maar ook emosioneel onderdruk. Daar is min dinge wat iemand so waardeloos laat voel, soos langdurige werkloosheid. Wanneer mense uitgesluit word van produktiewe arbeid, word daar iets van hul menswaardigheid aangetas.
Vanuit ’n teologiese hoek, is werk deel van die skeppingsorde. Die Here het die mens geskep om die aarde te bewerk en te bewaar. Sommige beskou werk as ‘n vloek van die sondeval. Die gereformeerde beskouing oor werk is egter dat dit geleenthede bied om God te eer en ’n roeping is wat sin aan die menslike bestaan gee.
‘n Regverdige samelewing is een waar elke mens ’n geleentheid het om sy of haar gawes aan te wend. Die kerk se profetiese roeping lê juis hier. Dit beteken om beleide, wette, ekonomiese praktyke en selfs eie kerklike strukture te bevraagteken waar dit mense in armoede hou.
Die kerk moet ook meer doen as om brood uit te deel of sopkombuise te bedryf; ons moet ruimtes skep vir arbeid, help met opleiding en mense aanmoedig tot ekonomiese deelname. Ons moet self doen wat ons kan om armoede te verlig. Geloof wat nie gestalte vind in konkrete dade van barmhartigheid nie, is dood.
Die wat nie wil werk nie
’n Ander groep leef in armoede omdat hulle eenvoudig nie wil werk nie. Hulle verkies om te leef van ander mense se arbeid, om te wag vir hulp, of om die verantwoordelikheid vir hul eie lewens te ontduik. Selfs al word sulkes geleenthede gebied om te werk, sal hulle flou verskonings gebruik soos: “Daar is ’n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!” (Spreuke 22:13).
Hierdie verskynsel is so oud soos die sonde self. Luiheid is nie ’n gebrek aan geleenthede nie, maar ’n verwaarlosing van ‘n mens se roeping. Teologies beskou, is dit ’n sonde teen die doel waarvoor God die mens geskep het. Werk is ’n deelname aan God se versorging en onderhouding van die skepping. Wanneer iemand dus kies om nie te werk nie, verwerp hy of sy hulle roeping as medewerker van God. Die kerk moet hierdie luiheid nie romantiseer as “armoede weens die politieke toestand van die land” nie, maar as morele- en geestelike gebrokenheid aanspreek. Terselfdertyd bly die doel om te herstel en om mense weer te leer dat arbeid eerbaar en betekenisvol is, te midde daarvan dat sekere mense sekere beroepe as vernederend beskou.
Die wat nie kan werk nie
Daar is ook diegene wat nie kan werk nie. Dit is diegene wat nie uit eie keuse of weens luiheid nie, maar weens omstandighede buite hul beheer nie kan werk nie. Siekte, gestremdheid, ouderdom of trauma kan maak dat iemand eenvoudig nie meer kan werk nie.
Hierdie mense verteenwoordig die kwesbaarste deel van die gemeenskap. Die Bybel praat altyd met deernis oor hulle. God beskerm die weduwees, die weeskinders en die vreemdelinge en almal wat nie vir hulself kan sorg nie. Christus se bediening weerspieël dieselfde barmhartigheid: Hy genees, voed en herstel die waardigheid van die magteloses. Die beginsel is dat die waarde van ’n mens nie bepaal word deur sy produktiwiteit nie, maar deur die feit dat hy na die beeld van God geskape is. Die kerk se diakonale werk vloei uit hierdie besef. Om vir dié armes te sorg wat nie kán werk nie, is nie ’n opsionele ekstra vir ‘n gemeente nie. Dit is ’n kernaspek van Christelike gehoorsaamheid.
Die wat werk het, maar te min verdien
Selfs dié wat werk, is nie altyd vry van armoede nie. Daar bestaan ’n groeiende klas van “werkende armes”, veral namate die middelklas in ons land besig is om te verdwyn. Dit is mense wat ure lank werk, dikwels selfs naweke en vakansies, maar steeds nie genoeg verdien om ’n gesin ordentlik te onderhou nie.
’n Groot deel van die mensdom leef in die spanning van “net nie genoeg nie”. Hulle werk, hulle probeer, maar inflasie, skuld en stygende lewenskoste hou hulle terug. Terselfdertyd moet gewaarsku word teen gierigheid en onnodige skuld, wat vernietigend inwerk op iemand wat werk het, maar geld mors op onnodige dinge.
Wanneer lone te laag is of werksonsekerheid te hoog is, word arbeid self ’n vorm van uitbuiting. Die Bybel maak dit duidelik dat die arbeider sy loon werd is en dat om iemand se loon terug te hou, ’n sonde is wat God se straf dra. Die kerk mag dus nie stilbly wanneer mense se arbeid goedkoop gemaak word of wanneer groot winste nagejaag word deur besighede ten koste van hulle werknemers nie.
Die teologiese beginsel is hier dat werk ’n vorm van diens aan God is, en dat die vrug van daardie diens nie onregverdig ontneem mag word nie. Die werkende arme herinner die kerk dat barmhartigheid nie genoeg is nie. Die kerk het ook ‘n roeping om te preek teen onreg en uitbuiting. In die Bybel, gaan dit oor die spanning tussen genoeg en die sonde van hebsug. Wanneer sommige te veel ophoop, sal ander noodwendig te min hê. Die oplossing lê nie daarin om meer geld van belastingbetalers vir die armes uit te deel nie, maar in ’n herbesinning oor wat “genoeg” beteken, sodat die wat het, bereid is om die wat nie het nie, te help.
Die kerk behoort ’n voorbeeld te stel van mededeelsaamheid, waar mense leer om met dankbaarheid te leef, en om te gee eerder as om te versamel. Die Nuwe-Testamentiese gemeentes het juis só geleef dat geen lidmaat gebrek gehad het nie. Waar hierdie gesindheid herstel word, word ware ekonomiese vryheid ontwikkel.
Die wat genoeg het
Diegene wat genoeg het, dra die grootste verantwoordelikheid in die gesprek oor armoede. Die Bybel beskou nie noodwendig rykdom as ‘n sonde nie, maar dit dra altyd ’n morele las. Wie genoeg het, moet besef dat hy ’n rentmeester is en nie ’n eienaar van die besittings nie. Alles behoort aan God, en menslike besittings is bloot tydelike bestuur van die gawes wat God aan die mens gegee het. Die Bybel praat dikwels negatief téén rykdom wanneer dit gepaard gaan met gierigheid of suinigheid.
Die toets lê nie in hoeveel jy het nie, maar in wat jy daarmee doen. Christus het gewaarsku dat waar jou skat is, daar sal jou hart wees. Om genoeg te hê, is ’n roeping tot diens, en behoort nie gebruik te word vir jou gemak en roekeloosheid nie. Waar gelowiges besef dat hulle “genoeg” het, word hulle vrygemaak om met ‘n oop hand te gee. Die kerk behoort self ook nie net te preek dat mense moet gee nie, maar moet ’n voorbeeld wees van eenvoud en rentmeesterskap. As die kerk preek oor “genoeg”, moet die kerk ook so ingestel wees dat oordadigheid en vermorsing vermy word.
Samevatting
Wanneer die verskillende oorsake van armoede saamgevat word, blyk dit dat armoede nie slegs ’n ekonomiese verskynsel is nie, maar ’n geestelike en morele krisis. Aan die een kant lê daar luiheid en sonde; aan die ander kant onreg en uitsluiting. Tussenin staan mense wat worstel om te oorleef.
Die oplossing vir armoede is nie nog ’n politieke program of maatskaplike netwerk nie, maar ’n herwinning van die Bybel se beginsels oor rykdom en armoede in die samelewing. Waar mense weer leer om hul arbeid as diens aan God te sien, waar gemeenskappe leer om regverdig te deel, en waar die rykes hul rykdom as ’n roeping sien, daar begin die genesing van armoede.
Die kerk moet dus oor die ekonomie praat, want die kerk is geroep om oor rykdom en armoede te praat. Ons moet egter nie oor die ekonomie praat vanuit maatskaplike- of politieke vertrekpunte nie, maar vanuit die Bybel se beskouing oor gehoorsaamheid, barmhartigheid en geregtigheid.
Want die ware bron van armoede lê nie net in die swak markte nie, maar in die menslike hart.

Inleiding