Bidure in die lig van die kerkgeskiedenis
Geskryf deur prof. Gerrit Smit
Gebed in die vroeg-Christelike kerk
Die Handelinge-boek noem meermale dat die eerste gelowiges “eendragtig volhard het in die gebed” (Hand. 1:14; vgl. 2:42, 4:24, 12:5). Dit was dikwels in die konteks van afwagting, tydens vervolging of wanneer ‘n groot sendingpoging aangewend is. Die gebed was nie net individueel in die binnekamer nie, maar ook gesamentlik as gemeente. Dit het dikwels in huise, soms in die tempel, en later tydens die groot vervolging van die kerk, selfs in ruimtes soos katakombes plaasgevind.
Die Didachè (±100 n.C.) is een van die vroegste kerklike dokumente wat praktiese riglyne gee oor gebed, en beveel aan dat gelowiges drie keer per dag moet bid. Hierdie reëling is waarskynlik ‘n voortsetting van die Joodse gebedstye (vgl. Dan. 6:10; Ps. 55:17). Justinus die Martelaar (ca. 150 n.C.) verwys na gebed as ‘n belangrike deel van die erediens: voor en ná Skriflesing, en voor die Nagmaal.
Tertullianus (ca. 200 n.C.) sê dat Christene “sonder ophou” moet bid, maar ook spesifiek by sonsopkoms, nege-uur, twaalfuur, en drie-uur. Dit was moontlik ‘n uitbreiding van die gebruik in Handelinge 3:1 (“die negende uur, die uur van gebed”). Cyprianus van Kartago bevestig dieselfde patroon.
Die ontstaan van bidure
Teen die 4de en 5de eeu, veral met die invloed van monastieke gemeenskappe (bv. by Basilius die Grote en later Benedictus), het gebedstye se struktuur ontwikkel tot vaste tye elke dag en spesiale biduurgeleenthede soos nodig. Dit was in die vroeg-Christelike kerk die eerste aanduidings dat bidure formeel gehou is. Volgens die monastieke kalender was daar 8 gebedsgeleenthede per dag, wat soos volg bepaal is: middernag, voor sonsopkoms, om 06:00, 09:00, 12:00, 15:00, voor sonsondergang en in die aand voor jy gaan slaap. Die redes waarom hierdie spesifieke ure gekies is, was omdat daar groot gebeure in die Bybel op hierdie ure plaasgevind het. Die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2:15) was om 09:00; 12:00 en 15:00 was die tye van die kruisiging en dood van Christus en rondom 06:00 die tyd van die opstanding (Mark. 16:2).
Hoe behoort gebedsgeleenthede soos ‘n Week van Gebed vandag ingerig te word?
Die Bybel gee geen direkte opdrag oor hoe gereeld en wanneer om saam te bid nie, maar dit gee ‘n duidelike patroon van volgehoue, gemeenskaplike gebed. Daar is dus nie ‘n Bybelse opdrag om ‘n “week van gebed” verpligtend te maak nie, maar ook geen Bybelse beletsel om nie bidure en ‘n week van gebed te hou nie. Dit hang dus af van die plaaslike gemeente, hulle behoefte en hulle omstandighede.
Hoewel ‘n week van gebed en geleenthede soos Pinksterbidure nie spesifiek in die Bybel voorgeskryf word nie, is dit ‘n tradisie wat in baie kerke gehou word. Dit kan as ‘n positiewe geleentheid vir gebed en onderrig ingerig word, deur op die volgende Bybelse beginsels te let:
Eensgesindheid en volharding (Hand. 1:14): Die fokus moet wees op Christus, sy Woord, en die leiding van die Gees, nie op emosie of emosionele opwekking nie.
Geanker in die Skrif: Elke gebedsgeleentheid behoort te begin met Skriflesing en oordenking van die Skrif, soos in die vroeë kerk gedoen is (vgl. 1 Tim. 2:1–4).
Getrou aan vasgestelde tye: Tye soos 09:00, 12:00, 15:00 of 18:00 sluit aan by ‘n ou simboliek en bring orde. Dis nie verpligtend nie, maar dit verdiep die lidmaat se meelewing met die kerk deur al die eeue.
Liturgiese eenvoud: Gesamentlike sang, stilgebed en gesamentlike voorbidding kan oorweeg word, soos in die vroeë liturgie van die kerk die gebruik was.
Almal het nie vrymoedigheid nie: Die Skrif leer uitdruklik dat ons in die binnekamer moet bid en in die openbaar kan bid. Elke lidmaat moet dus die vrymoedigheid hê om in die openbaar te bid as hulle sou wil, maar niemand moet verplig word as hulle nie wil nie.
Samevatting
Die vroeë kerk het nie gebed as ‘n plig beskou nie, maar as asemhaling van die siel. Soos wat geen lewende wese kan oorleef sonder asemhaling nie so kan ‘n gemeente nie sonder gebed nie. Die bidure in die geskiedenis van die kerk was bedoel as ’n ritme van die lewe waarin die gemeente God herhaaldelik soek, prys, en aanroep in afwagting op Christus se wederkoms.