Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (Deel 5): Jean d’Arc
Geloof ten spyte van die brandstapel
deur prof. Gerrit Smit
Daar is party name wat net eenvoudig mense se verbeelding aangryp as jy dit hoor. Een so naam is dié van Johanna van Arkel (Engels: Joan of Arc). Hoewel sy in die Middeleeue leef, klink haar lewe byna soos wat die Hebreërskrywer die wêreld se hantering van geloofshelde beskryf in Hebreërs 11:32-40. En daarom verdien sy haar plek in ons reeks oor besondere vroue in die kerkgeskiedenis.
‘n Onwaarskynlike heldin
Johanna is in 1412 gebore in Domrémy, ’n landboustreek in oostelike Frankryk. Sy was ongeletterd en het nooit formele opleiding ontvang nie. Sy het van haar twaalfde jaar af geglo dat sy God se stem hoor in visioene, wat haar sou dryf om teen alle verwagtinge in op te staan en die grootste koninkryk van haar tyd aan te vat.
Sy leef in die tyd van die Honderdjarige Oorlog (1337–1453), wat ’n uitgerekte stryd tussen Engeland en Frankryk oor die opvolging van die Franse troon was. Engeland het aanspraak gemaak op die troon van Frankryk ná die dood van koning Karel IV. Frankryk was versplinter, die troonopvolger, Karel VII, was uitgerangeer, en die Engelse het feitlik volledig beheer oor Noord-Frankryk gehad. Teen hierdie agtergrond verskyn Johanna, ’n tienermeisie op die toneel, wat geglo het sy is deur God gestuur om Frankryk te red.
Geloof en dapperheid
In 1429 het Johanna, toe slegs 17 jaar oud, die Franse kroonprins oorreed om haar te vertrou. Sy het die beleërde stad Orléans binnegegaan en die Engelse verslaan. Kort daarna het sy Karel VII begelei na sy kroning in Reims, wat ’n daad van simboliese én politieke waarde gehad het. Sy het hierdeur die Franse volk herinner aan hoop.
Maar soos dikwels in die geskiedenis, is gehoorsaamheid aan jou roeping duur.
In 1430 is Johanna gevange geneem deur die Bourgondiërs en aan die Engelse verkoop vir 10 000 goue muntstukke en gevolglik het die Rooms-Katolieke kerk in Engeland haar aangekla van kettery en onsedelikheid. Die verhoor was nie ’n soeke na waarheid nie. Dit was ’n politieke skynverhoor. Sy is beskuldig omdat sy beweer het dat God met haar gepraat het; omdat sy mansklere gedra het; en omdat haar roeping nie deur die kerklike leierskap bevestig was nie.
Op 30 Mei 1431, op net 19-jarige ouderdom, is sy op die brandstapel verbrand. Haar laaste woorde was:
“Hou die kruis hoog, dat ek dit deur die vlamme kan sien.”
In 1456 is haar veroordeling formeel ongeldig verklaar toe erken is dat sy valslik beskuldig was.
’n Voorloper van die Reformasie?
Hoewel Johanna lojaal aan die Rooms=Katolieke kerk gebly het, wys haar verhoor op die dodelike gevolge van ’n kerk wat met die staat verstrengel is. Die veroordeling van ’n eerbare gelowige vir politieke redes is iets wat later deur die Reformasie as kernprobleem aangespreek is. Haar verhoor ontbloot die korrupsie van die kerk wat op daardie tydstip nie meer volgens die Skrif opgetree het nie, maar volgens politieke voordeel. Sy kan tereg beskou word as een van die vonke wat die Reformasie indirek voorafgegaan het.
Wat beteken haar verhaal vir ons vandag?
- Niemand is te jonk of te eenvoudig om geroep te word nie. Johanna was ’n ongeletterde plattelandse meisie maar het die geskiedenis verander.
- Geloof vra gehoorsaamheid, nie gemak nie. Haar pad het gelei na die brandstapel. Tog het sy getrou gebly.
- Ons is nie geroep om te vlug nie, maar tot getrouheid, en om God se koninkryk te bou net waar ons geplaas is.
- Tot vandag toe getuig haar lewe dat die wêreld nie gelowiges se positiewe bydrae tot die samelewing erken nie.
Samevatting
Johanna van Arkel is ’n geloofsgetuie wat die wêreld nie werd was nie (Heb. 11:38). Haar lewe, en haar dood, wys vir ons dat geloof nie lei tot trone en krone nie, maar dat dié wat volhard, die ewige prys sal ontvang.
Mag haar laaste woorde ook vir ons ’n rigtingwyser wees in tye van swaarkry:
“Hou die kruis hoog, dat ek dit deur die vlamme kan sien.”
*Hierdie artikel is gebaseer op deel 5 van die Pinskterreeks van 5 dele in die AP Kerk Wonderboom (Junie 2025)met die tema: “Besondere vroue in die kerkgeskiedenis en hulle boodskap tydens Pinkster”. Deel 5 se tema was: “Die wêreld was hulle nie werd nie”.