Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (4): Macrina
’n Voorbeeldige lewe deur die vrug van die Gees
deur prof. Gerrit Smit
Inleiding
In die geskiedenis van die kerk word belangrike persone soos predikante, teoloë en martelare wat geskryf, gepreek en geleef het om die waarheid te verdedig, gewoonlik onthou. Maar soms is die grootste invloed in hierdie mense se lewens nie diegene wat op ‘n kansel staan nie, maar dié wat agter hulle staan en hulle bemoedig wanneer hulle self ontmoedig word. Dit is dikwels ook vroue wat deur hul lewe, wysheid en geloof volgende geslagte beïnvloed het. Macrina, suster van Basilius die Grote en Gregorius van Nyssa, is só ’n figuur. Haar lewe wys ons iets wat die moderne kerk maklik miskyk, naamlik dat die Gees gelowiges in staat stel om die vrug van die Gees in hulle lewens ten toon te stel en ander daardeur positief te raak.
Macrina is omstreeks 330 n.C. in Klein-Asië gebore in ’n Christelike verbondsgesin. Haar ouma, ook Macrina genoem, het reeds aan die begin van die vierde eeu tot bekering gekom. Macrina self is grootgemaak met die Skrif, Bybelonderrig en gebed. Toe haar verloofde sterf, het sy haarself toegewy aan ’n lewe van diens aan Christus.
Sy stig ‘n skool vir vroue wat toegewy was aan gebed, Bybelstudie en barmhartigheidswerk. Hierdie sentrum, wat later ook mans ingesluit het, het ’n sentrum van Skrifstuie en geestelike vorming geword wat die rigting van die Kappadociese teologie beïnvloed het.
Die vrug van die Gees
Macrina het nie die openbare amp beklee nie, en tog het haar broers, Gregorius en Basilius, wat wêreldberoemd geword het in die kerkgeskiedenis, haar as hul mentor erken. Basilius het van haar teologiese insigte opgeneem in sy werk, en Gregorius van Nyssa het haar beskryf as die “filosoof” van die gesin. Toe hy haar op haar sterfbed besoek, het hulle ’n lang gesprek oor die opstanding van die liggaam gehad. Hierdie gesprek, so skryf Gregroius, was een wat sý denke sou vorm en sy latere geskrifte sou beïnvloed.
In ’n wêreld wat sigbare tekens soek om die teenwoordigheid van die Heilige Gees te bewys, toon Macrina se lewe dat die Gees werk soos Hy wil, en dat ‘n mens nie in tale hoef te praat, of opspraakwekkende dinge hoef te soek om die teenwoordigheid van die Heilige Gees te bevestig nie, maar dat dit bevestig word in die lewens van gelowiges wat die vrug van die Gees, ooreenkomstig Galasiërs 5:22 in hulle lewens vertoon. Hierdie vrug, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing word aan alle gelowiges deur die Gees geskenk en behoort in alle gelowiges se lewens sigbaar te wees.
Die invloed van vroue in die kerkgeskiedenis
Die geskiedenis van die kerk is nie net beïnvloed deur mans nie. Macrina se lewe is ’n getuienis van hoe vroue, deur hul ondersteuning, hul raad, en hul voorbeeldige geloof, die rigting van die kerk kan help bepaal.
Ons moet oppas om nie die fout van die Rooms-Katolieke kerk te herhaal deur haar tot ’n “heilige” te verhef in ’n kultiese sin nie. Macrina sou self daarteen gewaarsku het. Maar haar lewe verdien erkenning as ’n voorbeeld van hoe die Gees die kerk bou deur aan die kerk lidmate te skenk met ‘n Christelike karakter wat hulle geloof prakties uitleef.
Macrina se nalatenskap is in die moderne tye al dikwels verkeerd vertolk. Feministiese teoloë het haar soms as ’n simbool van revolusionêre vroulike emansipasie voorgehou, asof haar lewe ’n politieke stryd was. Maar Macrina was nie ’n aktivis nie, sy was ’n dissipel. Haar keuse om nie te trou nie, was nie ’n verwerping van die huwelik nie, maar ’n keuse vir onverdeelde toewyding aan Christus. Haar invloed was nie geleë in die ondermyning van struktuur nie, maar in die verdieping van geestelike insig.
Wat leer ons uit Macrina se lewe?
1. Die Gees werk in die kerk. Die Gees vra nie groot projekte, indrukwekkende geboue, en dinamiese leiers voor Hy werk nie.
2. Alle gelowiges dra die verantwoordelikheid om die kerk te bou: Die sigbare kerk is dikwels groot dank verskuldig aan die stem van ’n ma en pa, ’n suster en broer, ’n vriend en vriendin, ‘n toegewyde leraar, ouderling, diaken, wat in wysheid en liefde ander gevorm het en die vrug van die Gees uitleef.
3. Die inwendige roeping word nie bevestig deur die grootte van die gemeente of die bekendheid van die prediker nie. Dit word bevestig deur Christene wat in gehoorsaamheid die werk van die Here doen, waar hulle ookal geplaas en gebruik kan word.
Samevatting
Ons is geneig om die sukses van ‘n gemeente te meet aan die sigbare dinge, soos die grootte van die gebou, die prys van die toerusting, die projekte en aksies wat geloods word. Mag ons weer uit die eenvoud en voorbeeld van Macrina leer dat die kerk gebou is op die fondament van Christus. Dit is nie gebou op dinge wat mens kan sien nie, maar op ewige waarhede wat onwankelbaar is. Mag ons, soos Macrina, ons roeping uitleef op die plek waar die Here ons geplaas het ter wille van die eer van Christus en nie eie eer nie.
*Hierdie artikel is gebaseer op deel 4 van die Pinskterreeks van 5 dele in die AP Kerk Wonderboom (Junie 2025)met die tema: “Besondere vroue in die kerkgeskiedenis en hulle boodskap tydens Pinkster”. Deel 4 se tema was: “Die vrug van die Gees”.