Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (3): Perpetua

’n Christengetuie in Kartago in die derde eeu

Perpetua en Felicitas in die arena in Kartago.

Daar is iets wat in ‘n mens geroer word wanneer ’n jong meisie, sonder politieke mag of wapens, maar met vaste oortuiging, voor ’n keiser in ‘n Romeinse arena staan en sê: “Ek is ’n Christen, ek kan nie anders wees nie”. Veral as sy haarself nie as ’n slagoffer beskou nie, maar as ’n getuie vir Christus. Perpetua van Kartago was so vrou. Sy was een van die vroeë en mees invloedryke vroulike martelare in die geskiedenis van die kerk.

Perpetua het geleef in die vroeë derde eeu n.C., in ’n tyd van godsdienstige spanning en politieke onsekerheid. Die Romeinse keiser Septimius Severus (193–211 n.C.) het aanvanklik verdraagsaam teenoor Christene opgetree, maar namate die Christelike geloof gegroei het en duidelik begin bots het met die keiserkultus wat vereis het dat burgers van die Romeinse Ryk offers aan die keiser moes bring, het sy houding verander. In 203 n.C. het hy ’n edik uitgevaardig wat bekeerlinge tot die Christendom verbied het. Die probleem vir Rome was nie net godsdiens nie, maar lojaliteit. Wie nie aan die keiser as kurios (Here) wou offer nie, is beskou as opstandig en aangekla van hoogverraad.

Kartago, in Noord-Afrika, waar Perpetua gewoon het, was ’n belangrike stad in die weste van die Romeinse Ryk. Die stad was oorspronklik ’n Fenisiese kolonie, maar het in die Romeinse tydperk ’n sentrum van handel, kultuur en godsdiens geword. Teen die begin van die derde eeu het ’n florerende Christelike gemeenskap daar bestaan. Een van die belangrikste figure uit daardie tyd, Tertullianus, het juis in Kartago gewerk en geskryf. Tog het hierdie Christelike teenwoordigheid ook teenstand uitgelok. Die vervolging wat Perpetua in die gesig gestaar het, het plaaslik uitgebreek, maar met gewelddadige intensiteit. Die Romeinse owerhede wou nie net individue straf nie, hulle wou van die kerk ‘n voorbeeld maak en ‘n duidelike boodskap uitstuur aan die onderdane.

Perpetua is saam met haar diensmeisie en vriendin, Felicitas, en ander Christene gearresteer. Sy was ’n jong moeder van ongeveer 22 jaar oud. In die tronk het sy haar babaseuntjie by haar gehad. Die owerhede het haar ’n eenvoudige keuse gegee: offer aan die keiser en sweer Christus af, of sterf. Haar antwoord was eenvoudig: “Ek kan nie anders wees as wat ek is nie, ek is ’n Christen.” Soos die apostels in Handelinge 4, het sy gekies om God meer gehoorsaam te wees as mense. Sy is, soos hulle, vervul met die Heilige Gees en het met vrymoedigheid getuig, selfs teen die prys van haar lewe.

Die Romeinse spele waartydens Perpetua gesterf het, is gehou ter ere van keiser Geta, die jongste seun van Severus. Dit was ’n burgerlike feesgeleentheid, maar die Romeine het ook die gladiatorgevegte en dieregevegte in die areanas gebruik as ’n godsdienstige ritueel. Die dood van Christene in die arena was simbolies. Dit was ’n poging om die mag van die Romeinse gode en die keiser te bevestig. Die arena het vir die Romeine gewys wat met rebelle gebeur. Maar vir die kerk het dit iets anders geword: ’n plek van getuienis. Waar die Romeine ’n sirkus gesien het, het die kerk ’n kansel gesien.

Perpetua is saam met haar mede-gelowiges in die arena ingestuur. Felicitas het kort tevore geboorte gegee. Die Romeinse reg het verbied dat swanger vroue tereg gestel word, so sy het gebid dat sy betyds sou kraam, om saam met haar broeders en susters te sterf. Ook dit het gebeur. Die arena waarin hulle gesneuwel het, was gevul met joligeheid en bloed, maar daarbinne het Perpetua haar hare vasgemaak, sodat sy nie soos ‘n roubeklaer sou lyk nie, maar soos ‘n bruid van Christus. Toe sy hard gestamp word, het sy opgestaan, haar kleed reggetrek, en bly staan – nie in verset nie, maar in waardigheid. Toe die gladiator huiwer om die laaste steek te gee, het sy sy hand gehelp rig, asof sy wou sê: “Ek gee my lewe nie in wanhoop nie, maar in oorgawe.”

Wat ons in Perpetua se verhaal sien, is nie net haar moed nie, maar ook hoe die krag van die Gees wat uitgestort is op Pinksterdag volgens Handelinge 2 voortgaan in die geskiedenis om gelowiges te dra en te versterk. In Handelinge 4 lees ons: “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle bymekaar was; en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het met vrymoedigheid die woord van God gespreek” (Hand. 4:31). Daardie vrymoedigheid is presies wat Perpetua getoon het.

Wat beteken Perpetua se voorbeeld vir ons vandag?

Eerstens: Ons ontvang nie ’n Gees van vrees nie. Die Gees rus gewone gelowiges toe om in moeilike tye standvastig te wees. Jou arena mag dalk nie ‘n Romeinse arena wees nie, maar ’n klaskamer, kantoor, of familie-kring, maar daar kan jy ook bely: “Ek is ’n Christen.”

Tweedens: Die Gees herinner ons wie ons is. Wanneer alles in jou wêreld jou dwing om jou geloof te weg te steek of stil te hou, rus die Gees jou toe om hardop te sê: “Ek behoort aan Christus.”

Derdens: Pinkster het nie ’n ouderdomsgrens nie. Dit was juis ’n jong moeder wat in die arena gesterf het, vol van die Heilige Gees.

Tertullianus het gesê: “Die bloed van die martelare is die saad van die kerk” . En in Perpetua se lewe sien ons daardie waarheid in aksie. Sy was nie beroemd nie. Sy het geen politieke invloed gehad nie. Maar sy het getuig en haar stem weerklink vandag steeds deur die eeue.

Mag ons, soos sy, sê: “Ek is ’n Christen – en ek kan nie iets anders wees nie.”

*Hierdie artikel is gebaseer op deel 3 van die Pinskterreeks van 5 dele  in die AP Kerk Wonderboom (Junie 2025)met die tema: “Besondere vroue in die kerkgeskiedenis en hulle boodskap tydens Pinkster”. Deel 4 se tema was: “Deur die getuienis van gelowiges, bevestig Christus dat lyding ‘n doel het”.