Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (1) – Rut

Rut: ’n bewys van God se genade

deur: prof. Gerrit Smit

Rut tel koring op in die landerye van Boas.

Wanneer Pinkster ter sprake kom, dink baie onmiddellik aan die vuurtonge, spreek in tale en die dramatiese gebeure van Handelinge 2. Maar die Gees werk nie net in die bonatuurlike nie. Die Gees werk meestal sag, stil en sonder dat mense dit opsigtelik raaksien. Die verhaal van Rut wys op ‘n stil manier juis hoe die Heilige Gees mense van ver af bring om deel te word van God se geestelike volk. God kon dit deur wonders en tekens doen, maar hier werk Hy deur die eenvoudige getrouheid van ‘n arm meisie wat bereid is tot oorgawe aan God en sy verbond.

Rut was ’n Moabitiese vrou – deel van ’n volk met ’n donker geskiedenis. Die Moabiete was afstammelinge van Lot deur ’n sedelose verhouding (Gen. 30), en later bekend vir afgodery en kinderoffers aan die afgod Kamos. In Numeri 25 het Moabitiese vroue die Israeliete verlei tot afgodediens, wat oordeel oor die volk gebring het. Deuteronomium 23:3 het bepaal dat geen Moabiet vir tien geslagte in die vergadering van die Here mag kom nie.

Tog verskyn Rut as ’n jong weduwee, arm, sonder kinders, sonder beskerming op die toneel as ‘n Moabiet wat God se genade sou ontvang en ‘n sleutelrol sou speel in sy verlossingsplan.

Die hart van Rut se verhaal lê in haar woorde aan Naomi: “U volk is my volk; u God is my God” (Rut 1:16). Hierdie woorde kan verstaan word as ‘n belydenis: dit is ’n daad van bekering. Rut los haar volk, haar god en haar verlede en verkies die pad van gehoorsaamheid aan God en om hierdie pad saam met haar skoonma Naomi in ‘n vreemde land te stap. Sy weet nie of haar lewe beter sal wees nie; in werklikheid wag armoede en moontlik verwerping op haar as die mense in Betlehem sou uitvind sy is ‘n Moabiet. Maar, getrek deur die voorbeeld van Naomi en verander deur die werking van die Gees in haar hart, pak sy die onbekende reis aan.

Dit is dieselfde Gees wat op Pinkster uitgestort is. Dit is dié Gees wat mense oortuig, roep, en in die geloof harde harte sag maak in diens van God. Soos met Rut, bring Hy mense van heinde en verre om deel te word van God se familie, ja, selfs dié met ‘n agtergrond waaroor mense nie trots sou wees nie.

Toe Rut en Naomi in Betlehem aankom, het hulle niks. Maar Rut sit nie stil nie. Sy gaan are optel agter die werkers, volgens die voorskrifte van Levitikus 19. Haar sosiale posisie is laer as dié van die slawe van Boas. Juis dáár, in die daaglikse gehoorsaamheid om te werk as sy wil eet, raak Boas van haar bewus. En deur sy sorg en liefde word Rut uiteindelik ingesluit in die geslagsregister van die Messias self (vgl. Matt. 1:5).

Rut se verhaal is ’n voorsmaak van Pinkster. Sy is ’n nie-Israeliet wat deur geloof deel word van God se volk. By Pinkster hoor mense van al die nasies die evangelie. Rut wys vir ons dat God se genade nie grense aan volk, taal of status het nie, dit reik uit na die een wat glo in Christus, sonder aanneming van die persoon.

Soos Rut, word ons ook geroep om te sê: “U volk is my volk; u God is my God.” Want waar die Gees werk, bring Hy mense nader om deel te word van Christus se kerk. Dít is die hart van Pinkster.

Wat leer ons uit Rut?

  1. Die Gees werk ook in die stil en eenvoudige dinge, nie alleen op opspraakwekkende maniere nie.

  2. Niemand is buite God se bereik nie, ongeag hul verlede.

  3. God gebruik gewone mense in sy verlossingsplan, ook vroue, vreemdelinge en weduwees.

*Hierdie artikel is gebaseer op deel 1 van die Pinskterreeks van 5 dele van Junie 2025 met die tema: “Besondere vroue in die kerkgeskiedenis en hulle boodskap tydens Pinkster”. Deel 1 se tema was: “Rut leer ons dat God mense van ver bring om deel van sy geestelike volk te word”.