Belydenis van geloof: ‘n gelofte of ‘n belofte?
Ons nader die tyd van die jaar waarin katkisante afgerond word met die oog op belydenis van geloof aflegging.
Ek deel graag my gedagtes rondom die vraag of die aflegging van belydenis van geloof ‘n “belofte” is of ‘n “gelofte”. In sommige kerke se formuliere staan dit as “gelofte”.
Ek is van mening dat daar ‘n onderskeid getref moet word tussen “belofte” en “gelofte” in die volgende kontekste: ‘n gelofte word deur die mens geïnisieer teenoor God, sonder dwang, met ‘n verbintenis waaraan die mens gehou word indien die gelofte afgelê is. Om dié rede dink ek die woord “belofte” moet in die formulier tydens belydenisaflegging gebruik word en nie “gelofte” nie. ‘n Belofte in Bybelse verband verstaan ek as ‘n antwoord op ‘n belofte en toesegging deur God wat die mens bind aan die verbondsbeloftes en -eise van God.
Indien die bogenoemde onderskeid oorweeg word, is daar tog ‘n saak uit te maak of belydenisaflegging, beskou binne die Skrif as ‘n antwoord op die beloftes van die sakrament van die doop, as ‘n gelofte verstaan kan word. Aangesien die idee geskep kan word dat die inisiatief van die mens uitgaan tydens belydenisaflegging (wat nie suiwer is nie), is ek van mening belydenisaflegging kan nie as ‘n gelofte verstaan word nie maar as ‘n belofte. Ek brei graag hierop uit.
Geloftes kom van die mens
’n Gelofte (in Bybelse sin) is ’n inisiatief van die mens na God toe. Dit is ’n vrywillige handeling waarin die mens ’n bepaalde taak, offer of verbintenis aan God belowe wat hy nog nie verplig is om te doen nie, maar wanneer die gelofte gemaak is, word die mens verplig om dit te hou (vgl. Pred. 5:3-5). Die inisiatief van die gelofte is dus vanuit die mens en kom uit ’n selfstandige besluit voort. Byvoorbeeld, Jakob se gelofte in Genesis 28:20-22 (“As God met my sal wees… dan sal die HERE my God wees…”) is ’n belofte wat Jakob uit eie beweging maak, dus ‘n gelofte.
Volgens die HAT is ‘n gelofte ‘n plegtige belofte/onderneming, veral teenoor God, teenoor ‘n belofte wat so verklaar word: iets wat beloof / toegesê word.
Belydenis van geloof is ‘n antwoord op die beloftes wat toegesê is by die doop en dus nie ‘n gelofte nie, maar ‘n belofte, wat nie ’n self-opgelegde toewyding aan God aanbied nie. Dit is ’n antwoord op wat God reeds in sy verbond geopenbaar, belowe en geskenk het. Die inisiatief lê dus nie by die mens nie, maar by God wat in die doop en deur sy Woord sy verbondsbeloftes bevestig. Die belydenisaflegging is eenvoudig die mens se erkenning en bevestiging van God se eise en beloftes. Daarom is dit nie ’n gelofte in die streng Bybelse sin nie, maar ’n bevestiging van ’n bestaande verhouding waarin God die eerste Beweger of Inisieerder was.
Die gebruik van die woord “gelofte” in die grondtale
In Hebreeus word die woord vir gelofte meestal met נֶדֶר (neder) aangedui. Hierdie woord beklemtoon dat dit ’n mondelinge verklaring of verbintenis is wat ’n mens self aan God maak, gewoonlik as reaksie op ’n besondere omstandigheid of behoefte (bv. Num. 6:2, Deut. 23:21-23). Dit is nooit die standaardwoord vir ’n verbondsantwoord nie. Die verbond self kom altyd van God af, en die gelofte is ’n addisionele menslike reaksie of self-opgelegde belofte.
In die Grieks van die Septuagint en die Nuwe Testament word neder meestal vertaal met εὐχή (euchē), wat ook ’n gebed of belofte kan beteken, maar altyd in die sin van ’n vrywillige belofte wat die mens self maak. Die Nuwe Testament gebruik die term selde, en wanneer dit voorkom, dra dit steeds die betekenis van ’n persoonlike, menslike toewyding (vgl. Hand. 18:18; 21:23). Belangrik is dat in beide Hebreeus en Grieks, die inisiatief van ’n gelofte in die mens lê.
Daarenteen word belydenis van geloof in die Bybel verbind aan woorde soos ὁμολογέω (homologeō) “saam sê, instem, bely” (bv. Rom. 10:9; 1 Tim. 6:12). Hierdie belydenis dui op ‘n instemming en/of reaksie met ’n waarheid wat God self bekend gemaak het. Dit beskryf ’n erkenning van ’n bestaande werklikheid, nie die opstel van ’n nuwe verpligting deur die mens nie.
Gevolgtrekking
Daarom behoort belydenisaflegging nie as ’n gelofte verstaan te word nie, maar as ’n geloofsantwoord wat deur God se eie verbondshandeling voorafgegaan en moontlik gemaak is. Dit is dus ‘n “belofte” aan God.