Polukarpus van Smirna (70-156 n.C.)
Kopiereg voorbehou
Polukarpus van Smirna (70-156 n.C.)
deur: prof. Gerrit Smit
Oor Polukarpus se lewe
Ons het ongelukkig nie baie inligting oor die lewe van Polukarpus nie. Ons vind by ‘n paar van die vroeë kerkvaders, soos bv. in Irenaeus se geskrifte, enkele opmerkings oor Polukarpus se lewe en werke.
Polukarpus was die leraar in die gemeente van Smirna, in die destydse Klein-Asië. Op 23 Februarie 156 is hy deur ‘n marteldood op ‘n brandstapel deur ‘n bende Romeinse soldate tereggestel omdat hy nie bereid was om sy geloof in Chistus af te lê, soos die Romeine in dié tyd dikwels van die Christene verwag het om te doen nie. Polukarpus sterf dus ter wille van die Evangelie van Jesus Christus.
Oor sy werke
Irenaeus (Euseb., Hist. 5,20,8) vertel dat Polukarpus verskeie briewe geskryf het aan gemeentes in Klein-Asië. Ons het slegs een brief wat behoue gebly het, naamlik Polukarpus se brief aan die Filippense. Oor Polukarpus se lewe en marteldood het ons die Martelaarskap van Polukarpus (ook genoem “Die brief van die gemeente in Smirna aan die gemeente in Filomelium”). Die getuienis is geskryf deur ‘n persoon van die gemeente van Smirna waar Polukarpus leraar was, kort na die dood van Polukarpus, met die naam van Marcion (dit is ‘n ander Marcion as die bekende dwaalleraar Marcion).
Die brief van die gemeente in Smirna aan die gemeente in Filomelium (Martelaarskap van Polukarpus)
Die berig oor die dood van Polukarpus het gou die naburige Christelike gemeentes bereik. Die gemeente in Filomelium (ook in Klein-Asië) het hierop die gemeente in Smirna gevra om aan hulle meer inligting te verskaf oor die dood van Polukarpus. Die “Martelaarskap van Polukarpus” is die gemeente in Smirna se skriftelike antwoord op die versoek van die gemeente in Filomelium.
In die brief gee die gemeente getuienis oor die marteldood van Polukarpus. Die doel hiermee is om gemeentes wat in soortgelyke omstandighede verkeer het, te bemoedig deur die voorbeeld van ‘n mede-gelowige wat nie geskroom het om sy lewe te gee vir die waarheid van Christus nie.
Die brief wil egter nie net oor die martelaarskap van Polukarpus getuienis lewer nie, maar word gebruik om mede-gelowiges te wys dat Polukarpus alles in sy vermoë gedoen het om nie deur die Romeine gevange geneem te word nie (byvoorbeeld dat hy op ‘n plaas in die omgewing gaan wegkruip het). Die doel met hierdie inligting was om Christelike gemeentes te waarsku teen ‘n tendens wat besig was om veral in dié tyd kop uit te steek: dat Christene hulself vrywillig gaan oorgee het aan die Romeinse owerhede om ‘n marteldood te sterf. Blykbaar was daar gelowiges wat gedink het as jy jouself so vrywillig beskikbaar stel om gemartel te word, sal jy groter genade by God vind. Die skrywer wys die gemeente in die brief dat hierdie afleiding in stryd met die Skrif is, en gebruik die teregstelling van Christus as ‘n bewys dat Christus self ook nie Homself opgegee het om gekruisig te word nie, maar dat Hy deur die Jode as bedreiging beskou was en daarom uiteindelik sy lewe gegee het.
Die brief gee egter nie bloot net die historiese feite rondom Polukarpus se dood weer nie, maar word geskryf in die vorm van ‘n preek waarin die skrywer gereeld kommentaar lewer op die gebeure wat op dié dag plaasgevind het.
Gelowiges wat leef in die gemak van die 21ste eeu dink dikwels dat die Christendom nog altyd soveel vryhede en vrede gehad het as wat die Westerse Christendom vandag ken. Die brief herinner die Kerk van Christus daaraan dat gelowiges dikwels onder baie moeilike omstandighede geleef het, en dat hulle selfs met tye bereid moes wees om hulle lewe te gee vir die getuienis oor die Evangelie van Jesus Christus.
Die brief het nie ten doel om die mens, Polukarpus, te verheerlik nie. Dit het ten doel om God te verheerlik, deur te dink aan die voorbeeld van mense wat ongeag persoonlike verlies, Christus se koninkryk eerste stel. Die brief dien as teregwysing vir die Kerk in die 21ste eeu dat ons nie so gemaklik moet raak in hierdie wêreld, dat ons vergeet dat ons Heiland ons geleer dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.
Ons word deur die martelaarskap van Polukarpus geleer hoe vinnig politieke-, ekonomiese- en sosiale vryhede die kerk ontneem kan word, en dan kom ons noodgedwonge voor ‘n keuse: buig jy voor die keiser of voor God?
Polukarpus se brief aan die Filippense
Hierdie is die enigste brief van die Polukarpus wat behoue gebly het. Die volledige teks het slegs in Latyn behoue gebly, maar is oorspronklik in Grieks geskryf. Eusebius maak egter glad nie melding van ‘n Latynse weergawe van Polukarpus se brief nie. Die Latynse teks is dus baie later eers geskryf. Die Griekse teks het in dele behoue gebly en daaruit kan die volle Griekse weergawe van Polukarpus se brief herstel word.
Die teks van die Martelaarskap van Polukarpus
Die teks van die martelaarskap van Polukarpus het deur die eeue heen goed behoue gebly. Die kerke in Klein-Asië het kort na die skrywe van die brief vir gemeentes in die omgewing kopieë oorgeskryf om hulle ook te bemoedig met die wyse waarop Polukarpus as voorbeeld vir die ander Christene geleef en gesterf het. Die dokument is oorspronklik in Grieks geskryf, maar is later ook in Latyn vertaal vir die gemeentes in Europa. Daar is baie ou weergawes van die teks ook beskikbaar in Kopties en Siries.
Die Griekse tekste van Polukarpus
Beide die Griekse teks van die Martelaarskap van Polukarpus asook die brief van Polukarpus aan die Filippense kan hier gevind word: Migne Patrologiae Graeca, vol. 5.