Hersiening van die 1953-vertaling van die Bybel in Afrikaans

deur prof. Gerrit Smit

Tydens die afgelope algemene Jaarvergadering van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is kennis geneem dat die 1953-vertaling van die Bybel gedurende 2024 hersien is en binnekort beskikbaar sal wees. Ek het by dié geleentheid versoek om inligting te kry oor die hersiening en wat dit behels het asook watter tekste hersien is. Dit is veral belangrik vir kerke en lidmate wat die 1953-vertaling van die Bybel in Afrikaans as amptelike vertaling gebruik, om te weet wat verander is in die hersiening en om kommentaar te kan lewer daarop.

Aangesien ek pas die voorlopige inligting van die Bybelgenootskap bekom het, volg hier onder ‘n oorsig oor die belangrikste verskille en ooreenkomste tussen die 1953-vertaling soos ons dit tans ken teenoor die 1953-hersiening van die Bybel in Afrikaans wat in 2025 verskyn.

Die 1953-hersiening van die Afrikaanse Bybel

Die jaar 1953 merk ’n belangrike oomblik in die geskiedenis van Afrikaanse Bybelvertaling. Twintig jaar ná die eerste volledige Afrikaanse Bybel in 1933 verskyn het, is ’n hersiene uitgawe van die 1933-vertaling gepubliseer met die oog op taalkundige verbetering, sonder om die oorspronklike vertaalfilosofie prys te gee. Hierdie hersiening (1953) was ’n funksionele opdatering wat getuig het van die verhouding tussen taalontwikkeling en Bybelgebruik.

Die 2024 hersiening van die 1953-vertaling word as ‘n redaksionele hersiening in plaas van ‘n inhoudelike hersiening deur die Bybelgenootskap beskou. Volgens die Bybelgenootskap het die oorspronklike vertaalopdrag, sowel as die teologiese integriteit van die teks, volledig behoue gebly.

Agtergrond en motivering

Reeds met die ingebruikneming van die 1933-vertaling het die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) besef dat Afrikaans nog in ’n proses van standaardisering was. Die spelreëls was nog nie vas nie, en die drukproses het dit bykans onmoontlik gemaak om alle korrektiewe aanpassings betyds te implementeer. Daarom is die eindvertalers reeds in 1933 versoek om aan ’n hersiening te begin werk.

Teen 1934 is dr. J.D. du Toit (Ou Testament) en dr. B.B. Keet (Nuwe Testament) aangewys om die hersiening te onderneem. Die fokus was op punktuasie, sinsbou, spelwyse, en ’n mate van stilistiese vernuwing sonder om af te wyk van die brontekste of die gevestigde ekwivalente in die Afrikaanse kerktradisie.

In 2024 is ‘n hersiening van die 1953-vertaling van die Bybel in Afrikaans deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika onderneem en die proses is in November 2024 afgehandel. Die hersiening van die 1953-vertaling gaan binnekort op die rakke wees, en ons sal in die toekoms moet onderskeid tref tussen die 1953-vertaling en die 1953-hersiening van die Bybel in Afrikaans.

Kenmerke van die hersiening

Daar is nog nie ‘n volledige lys beskikbaar van al die verse waaraan gewerk is nie, maar op hierdie stadium lyk dit of die meerderheid wysigings taalkundig van aard is en veral spelreëls en skryfwyses raak.

Volgens die BSA is die hersiening van 1953 nie ’n nuwe vertaling nie, maar ’n opknapping van die bestaande teks.

Enkele belangrike kenmerke sluit in:

  • Spel- en taalkundige aanpassings: Argaïese en onbekende woorde is opgeknap (bv. gedoog word laat toe), en klemaksente wat nie meer taalkundig gebruik word nie, is verwyder. Afrikaanse spelling soos jóú is verander na jou.

  • Naamgebruik en transliterasie: Bybelse name is aangepas volgens die moderne Afrikaanse spelling, byvoorbeeld Matthéüs het Matteus geword, en Aquila het Akwila geword.

  • Begripsverduideliking: Terme wat vir moderne lesers verwarrend is, is omskryf.

  • Verbeterde sinsbou: Die sinsbou is aangepas om die leeservaring te verbeter en die betekenis duideliker te laat deurkom.

  • Behoud van gevestigde idiome: Tradisionele uitdrukkings soos onse Vader en Gods koninkryk is behou ten einde liturgiese en kerklike kontinuïteit te verseker.

Behoud van brontekste

Die hersiening het gebly by die oorspronklike brontekste van die 1933-uitgawe. Dit beteken dat die Masoretiese teks (Kittel-uitgawe) vir die Ou Testament en die Textus Receptus vir die Nuwe Testament gebruik is.

Voorbeelde van wysigings

Hier volg enkele voorbeelde wat die aard van die hersiening verduidelik volgens die BSA:

• Hoofletters is behou in Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe Testament op Jesus Christus van toepassing gemaak is.

• Alle klemaksente en deeltekens in boek-, plek- en eiename wat nie meer volgens huidige spelreëls aanvaarbaar is nie, is verwyder – byvoorbeeld: “Matthéüs” het “Matteus” geword, en “Réhuel” het “Rehuel” geword.

• In die kruisverwysings onderaan die bladsye is alle klemaksente verwyder en die afkortings is aangepas volgens hedendaagse gebruik.

• Punte in opskrifte is verwyder; waar meer as een frase of volsin in ’n opskrif voorkom, is dit in afsonderlike reëls onder mekaar geplaas.

• Aanvangswoorde van hoofstukke (soms ook perikope) is reggestel waar dit ten volle in hoofletters geskryf is.

• In die Ou Testament is slegs beperkte aanpassings aan spelling van name gemaak – byvoorbeeld: “Skaapspoort” het “Skaappoort” geword; “Batsua” het Bat-Sua” geword; en “Bet-el” het “Bet-El” geword; ook waar die huidige Afrikaanse spelling dit vereis, terwyl name so min as moontlik verander is – byvoorbeeld: “Chaldeër” het “Galdeër” geword.

• Omdat die Ou-Testamentiese bronteks soms dieselfde persoon se naam verskillend spel, en die 1933/1953-vertaling dit verskillend in Afrikaans getranslitereer het, is dit nie altyd moontlik om konsekwente veranderinge in hierdie hersiening aan te bring nie.

• In die Nuwe Testament is name aangepas volgens die huidige Afrikaanse spelwyse – byvoorbeeld: “Aquila” het “Akwila” geword.

• In ooreenstemming met die huidige spelreëls is die name van feeste in die Ou en Nuwe Testament met hoofletters geskryf – byvoorbeeld: “pasga” het “Pasga” geword.

• Klemaksente wat taalkundig onaanvaarbaar of oorbodig is, is verwyder – byvoorbeeld: “jóú” het “jou” geword. Waar egter taalkundig wenslik is klemaksente ingevoeg.

• Die veranderde gebruik van “self” (homself) is in ag geneem en waar nodig aangepas.

• Die voornaamwoorde “hul” en “jul”, wat selde in moderne Afrikaans gebruik word, is vervang met die volvorme “hulle” en “julle”.

• Argaïese en verouderde woorde wat nie meer verstaanbaar is nie – soos “gedoog” – is gewysig.

Sentimente ten opsigte van die 1953-vertaling

Die 1953-vertaling het vir dekades lank die standaard-Bybel van baie Afrikaanse kerke gebly, ook die AP Kerke. Selfs met die verskyning van nuwe vertalings soos die 1983- en 2020-uitgawes, bly talle gelowiges lojaal aan die 1933/1953-vertaling. Hierdie 2024 hersiening van die 1953-vertaling sal dus deur hierdie kerke en lidmate fyn bestudeer moet word om te bepaal wat presies gewysig is in die hersiening van die 1953-vertaling.

Slotgedagte

Dit blyk op die oog af of die hersiening van die 1953-vertaling wat binnekort gaan verskyn, taalkundige veranderinge bevat en veral die spelreëls in ooreenstemming met die huidige gebruik in Afrikaans gebring het. Bekende Bybelse name in die 1953-hersiening sal vir die leser wat bekend is met die 1953-vertaling opvallend anders wees.

Meer inligting oor die 1953-hersiening sal geplaas word sodra dit bekend is.