Die gebruik van die woord “‘amen”
prof. Gerrit Smit
Soms kom daar vreemde uitsprake in ons tyd voor, byvoorbeeld die bewering dat “Amen” nie ‘n Bybelse woord is nie en sou verwys na die Egiptiese god Amun. Die implikasie van hierdie bewering is dan dat die kerk ‘n afgod aanbid deur die woord “amen” te gebruik. Die vraag is: is daar enige gronde vir hierdie bewerings?
Die woord Amen is een van die woorde wat die meeste in kerke oor die wêreld heen gebruik word. Daar is nie ‘n kerk op aarde in watter taal ook al waarin die woord nie gebruik word in gebede, lofprysing, prediking en die liturgie nie.
Die woord Amen kom uit Bybelse-Hebreeus (אָמֵן) en is afgelei van die Aramese woord אָמַן (’āman), wat beteken “om stewig te wees”, “om vas te staan” of “om getrou te wees”. Hierdie stamwoord lewer in die Hebreeuse taal ook ander woorde soos emunah (geloof, getrouheid) en emet (waarheid) wat baie algemeen in die Ou Testament gebruik word. Die basiese gedagte is dus bevestiging en betroubaarheid.
In die Ou Testament word Amen dikwels gebruik as ’n bevestigingsformule, soos in Deuteronomium 27:15–26, waar die volk na elke uitspraak van ’n wet of vloek antwoord: “Amen”. Dit is ’n liturgiese woord wat “so is dit” of “laat dit so wees” uitdruk, wat instemming en bevestiging bewys.
In die Septuagint (Griekse vertaling van die Ou Testament) is Amen meestal onvertaal gelaat, wat daarop dui dat dit reeds in die Joodse aanbidding gevestig was. In die Nuwe Testament word Amen direk oorgeneem vanuit die Grieks (ἀμήν) en later Latyn, en is dit verder so gedoen in alle Europese tale.
Die gebruik van Amen het twee hoofvorme in die Bybel:
- Dit kan vooraf of agterna kom. Wanneer Jesus sê: “Voorwaar, voorwaar (ἀμὴν ἀμὴν) Ek sê vir jou…” (bv. Joh. 3:3), gebruik Hy Amen aan die begin van ’n stelling om sy waarheid en gesag te onderstreep.
- In gebede en lofprysing dien dit as ’n antwoord van die gemeente (vgl. 1 Kor. 14:16). Dit is ’n bewys van aktiewe deelname in die gebede en lofprysing wat bely: “So is dit”, “Ek stem in”, “Dit is waar”.
Openbaring 3:14 noem Christus self “…die Amen, die getroue en waaragtige Getuie…”, wat die betekenis van sy standvastigheid en sy waarheid bevestig.
Die idee dat Amen van die Egiptiese god Amun (of Amon, Amen-Ra) kom, is ’n moderne mite sonder taalkundige of historiese grondslag. Die volgende redes wys hoekom:
- Die Aramese ’āman en Egiptiese Imn (Amun) is twee heeltemal verskillende woorde, uit twee verskillende taalfamilies (Semities vs. Egipties). ’Āman beteken “vas, betroubaar”, terwyl Imn in Egipties beteken “die verborge een”. Om te beweer dat die twee woorde verwant is bloot omdat hulle soortgelyk klink, is soos om te sê dat die Engelse woord gift (geskenk) en die Afrikaanse gif (gifstof) dieselfde oorsprong en betekenis het. Hulle klink eenders, maar kom uit verskillende tale, het verskillende geskiedenisse en beteken selfs teenoorgestelde dinge. Dit is voor-die-hand-liggend dat iemand wat sulke bewerings maak, nie antieke tale ken nie.
- Soms word beweer dat die gebruik van die woord “amen” deur Konstantyn onder invloed van die Griekse mitologie ingewerk is. So ‘n bewering is eenvoudig vals: die gebruik van Amen in die Bybel dateer minstens uit die 15de eeu v.C. (Mosaïese tyd), lank voor enige moontlike Hellenistiese godsdiens bekend was. Die liturgiese gebruik het sy wortels in die verbondsliturgie van Israel, nie in heidense tempelkultusse nie.
- Nêrens in die Hebreeuse Bybel of in die Joodse tradisie word Amen met ’n heidense god verbind nie. Dit is eerder konsekwent ’n geloofsreaksie op God se waarheid en beloftes.
- Joodse gemeenskappe het deur die eeue Amen gebruik in sinagoges en huise, selfs in lande en tydperke waar die Egiptiese godsdiens onbekend was. Dit toon dat die woord se gebruik alleen in die Bybel voorkom.
Teologies dra Amen die belydenis dat God se Woord seker is en dat die gelowige dit as waar aanvaar. Wanneer ’n Christen “Amen” sê, bevestig hy of sy die gesag van God se openbaring en onderwerp hom of haar daaraan.
In Christus kry Amen sy volle betekenis:
- Hy is die Amen (Openb. 3:14), die volmaakte vervulling van God se beloftes (2 Kor. 1:20).
- Ons Amen in gebed is ’n geloofsantwoord op God se onveranderlike waarheid.