Calvyn se model vir die verligting van armoede
prof. GDS Smit
Ons leef in ‘n tyd en in ‘n land waar staatsafhanklikheid ongekende afmetings aanneem. Volgens raming word sowat 27 miljoen mense in Suid-Afrika deur een-of-ander vorm van maatskaplike toelae ondersteun waarvoor die krimpende aantal belastingbetalers moet instaan. Vir baie is daar geen manier om ‘n alternatief hierop voor te stel nie en staatshulp word dikwels as die enigste oplossing vir armoede beskou.
Die kerkhervormer, Johannes Calvyn, bied egter ‘n model vir armoedeverligting wat ‘n Bybelse alternatief stel en steeds vandag relevant is. Sy benadering het destyds in Genève in die 16de eeu groot vrug gedra. Dit lê ook die grondslag vir ’n volhoubare en moreel-verantwoordelike benadering tot barmhartigheid in die kerk en in die samelewing.
Onder Calvyn se leiding het Genève die Bourse Française gestig, aanvanklik om Franse vlugtelinge te ondersteun. Dié instansie het ’n breedvoerige welsynsfunksie vervul: ondersteuning van ou mense, siekes, weeskinders en behoeftiges. Mediese sorg, opvoeding en selfs herintegrasie in die arbeidsmark is aktief aangemoedig. Die diakens het selfs gereeld hospitale besoek om die gehalte van die sorg te monitor, en het opgetree teen werkloses wat nie bereid was om te werk nie. Hier was nie sprake van blinde uitdeel aan enige een wat bakhand staan nie, maar van onderskeid tussen die werklike behoeftige en die een wat nie wil werk nie.
’n Kernbeginsel in Calvyn se benadering was die bevordering van ’n produktiewe werksetiek. Hy het, soos Paulus in 2 Tessalonisense 3:10, onderstreep dat diegene wat nie wil werk nie, ook nie moet eet nie. Die diakens het selfs gereedskap aan behoeftiges voorsien sodat hulle sonder verskoning kon werk, maar met die verwagting dat hulle mettertyd selfstandig sou word. Hulp aan die gesinne wat in nood was, was tydelik van aard en afhanklik van morele integriteit, kerkbywoning en dankbaarheid deur self werk te soek. Onkuisheid, luiheid en onsedelike gedrag kon lei tot die opskorting van hulp.
Calvyn se model het geput uit die voorbeeld van die vroeë kerk, insluitend die praktyke van Handelinge, die Sinode van Tours (567 n.C.) en die model van die Middeleeuse kerklike welsynsinstellings. Hy het hierdie geskiedenis as riglyn gebruik vir ‘n gereformeerde beskouing oor armoede verligting.
Wat Calvyn se model onderskei van moderne welvaartstate, is die feit dat die verantwoordelikheid vir armoedeverligting by die gemeenskap en die kerk gelê het, nie by die staat nie. Barmhartigheid was ’n funksie van die kerk se ampte, nie van die staat se belasting nie. Hierdie benadering het ook die kerk se geloofwaardigheid en sigbaarheid in die samelewing versterk.
Dit veronderstel dan natuurlik ook dat daar van die staat se kant belastingverligting moet wees aangesien die staat nie hierdie verantwoordelikheid behoort te aanvaar nie, en burgers in staat moet stel om mekaar te help.
Calvyn se model het groot invloed uitgeoefen op die breër gereformeerde wêreld. In Skotland het John Knox en die Second Book of Discipline die diakonaat as ’n permanente amp gevestig. In Londen het Johannes á Lasco se gemeente die diakens opdrag gegee om liefdesgawes ná die uitspreek van die seën op ‘n Sondag by die kerkdeure in te samel. In Frankryk het die Kerkorde van Poitiers dieselfde beginsels bevestig. Martin Bucer, wat as die “teoloog van die diakonaat” bekend gestaan het, het selfs gesê dat sonder ’n werkende diakonie daar geen ware gemeenskap van die heiliges kan wees nie.
Die volgende beginsels kan as ‘n oorhoofse oorsig oor Calvyn se model vir armoede verligting beskou word:
- Hulp is slegs vir die werklik behoeftiges bedoel en nie vir almal wat daarop aandring nie.
- Dankbaarheid gaan hand-aan-hand met bystand.
- Hulp word verleen deur die kerk en die gemeenskap, nie deur die staat nie.
- Behoorlike administrasie en ampsdraers wat hulle roeping ernstig opneem, bring verantwoordbaarheid.
- Die Skrif gee rigting aan die praktyk.
- ’n Werketiek word bevorder en onderhou en wie nie wil werk nie, moet nie gehelp word nie.
- Hulp is nie permanent nie, maar gemik op herintegrasie in die arbeidsmark, tensy die persoon werklik nie kan werk nie.
In ons tyd kan ons maklik ons roeping tot konkrete barmhartigheidsdiens verwaarloos. Calvyn se model herinner ons dat om ’n ware kerk te wees, daar ook diakens moet wees wat die armes versorg, met wysheid, onderskeidingsvermoë en Christelike liefde. Ons behoort nie te vra wat die staat vir die armes kan doen nie, maar wat die kerk, as liggaam van Christus, veronderstel is om te doen volgens die Bybel. Tesame moet daar ook gesoek word na oplossings om belastings te verlig, sodat die burgers van die land in staat kan wees om mekaar te help in plaas daarvan om die staat te verryk.