Aangename kennis, Jean Cauvin, alias Calvyn
prof. Gerrit Smit
Johannes Calvyn, die Franse kerkhervormer van die sestiende eeu, het ’n merk gelaat wat tot vandag toe die wêreld van teologie, die kerk en die Westerse samelewing beïnvloed het.
Hy is op 10 Julie 1509 in Noyon, in die provinsie Picardie in Noord-Frankryk gebore as Jean Cauvin, die seun van Gérard Cauvin en Jeanne le Franc. In die akademiese omgewing van sy tyd, was dit gebruiklik om name te “verlatyns”; so het Cauvin bekend geword as Johannus Calvinus, of in ons taal, Johannes Calvyn.
Calvyn het aanvanklik in die regte studeer, maar sy belangstelling het vinnig na die teologie verskuif. Sy studiejare was in ‘n tyd toe die Roomse Kerk ’n monopolie oor godsdiens en selfs godsdienstige denke gehad het. Calvyn was oortuig dat die gesag van die Skrif bo die gesag van die pous is, en dit het hom in botsing gebring met die Roomse Kerk van sy tyd. Die Roomse Kerk se vervolging van die Protestante in Frankryk het hom in 1533 gedwing om te vlug. Sy pad het hom na Genève, Switserland gebring, waar Guillaume Farel hom oortuig het om as predikant en teologiese dosent te dien.
Calvyn se eerste ruk in Genève was moeilik. Die sogenaamde “Libertyne”, ’n liberale politieke groep wat gemeen het dat Christene nie streng etiese- en morele waardes hoef te hê nie, het hom heftig teengestaan. Uiteindelik is Calvyn en Farel uit Genève verban. Maar die stad het hom in 1541 teruggeroep om die orde te herstel, nadat die Libertyne se invloed die stad in politieke chaos gelaat het. Dit het Calvyn aangespoor om sy Ordonnances Ecclesiastiques (Kerkorde) op te stel. Hierin het hy sy bekende gereformeerde kerklike struktuur en -dissipline gevestig. Dit was gebaseer op die Bybelse beginsels van orde en tug (vgl. 1 Kor. 14:40). Sy streng toepassing van hierdie beginsels het hom nie gewild gemaak by almal nie, maar dit het Genève se geestelike karakter tydens die vroeë jare van die Reformasie gevorm.
Die Libertyne het Calvyn se invloed met alle middele probeer ondermyn. Hy is op straat uitgejou as “Kaïn-Kaïn” en mense het selfs hulle honde na hom vernoem. Baie ouers het hulle kinders opgestook om hom te spot as hy in die openbaar verskyn. Een van sy felste teenstanders was Hieronymus Bolsec, ’n voormalige monnik en rondtrekkende dokter. Bolsec het Calvyn se leer van die uitverkiesing verwerp en hom beskuldig van allerlei onwaarhede. Calvyn is weer in 1551 uit Genève verban. Bolsec het hierna sy aanvalle voortgesit deur ’n geskrif oor Calvyn te publiseer, waarin hy verskeie vernederende aantygings teen Calvyn gemaak het.
Die kerkhistorikus, Landwehr, beskryf Bolsec se werk as ‘n boek vol leuens en laster. Selfs Calvyn se teenstanders het die boek afstootlik gevind. Die Rooms-Katolieke Kerk het egter hierin genoeg skietgoed teen Calvyn gevind, en het die werk herhaaldelik laat herdruk, sodat die laster teen Calvyn voortgeleef het. Onder Bolsec se vele verdraaiings was die bewering dat Calvyn van Joodse afkoms was. Dit was ’n bewering waarvoor daar tot vandag geen historiese bewyse bestaan nie.
Die bewering dat Calvyn ’n Jood was, het later hier in Suid-Afrika nuwe lewe gekry toe Genl. Manie Maritz dit in sy boek My lewe en strewe (1938) herhaal het. Maritz verwys na ’n artikel uit die Catholic Gazette van 1936 waarin beweer word dat die Jode self die Kerkhervorming sou beplan het om die Rooms-Katolieke Kerk te vernietig. Volgens die artikel, was Calvyn glo “een van ons kinders”. Maritz meen dat die hervormingsplanne van Calvyn deur die Jode uitgedink was en dat Joodse geld vir die kerkhervorming betaal het. Hierdie uitsprake dra egter meer die stempel van politieke- en antisemitiese propaganda as van enige waarheid. As dit so was, sou Calvyn se liefde vir die Nuwe Testament, sy Christologiese fokus in sy werke, en sy stryd teen alle vorme van Sionisme, onverklaarbaar wees.
As gereformeerdes, kan ons die hoogste waardering vir Calvyn en sy werk hê. Calvyn se Institusie van die Christelike Godsdiens is een van die belangrikste gereformeerde teologiese werke ooit geskryf. Dit vorm steeds die ruggraat van die Gereformeerde teologie. Hy het ’n samelewing help vorm waarin Bybelse dissipline, Christelike onderwys en arbeid as ‘n roeping bevorder is. Gereformeerdes reken nie Johannes Calvyn was ’n sondelose man nie, maar hy was ’n getroue dienaar van Christus wat in ’n stormagtige eeu die Skrif bo die Roomse tradisie gestel het. Hy word beskou as een van die belangrikste persone van die sestiende-eeuse Reformasie.
Bronnelys
Dankbaar, W.F. Calvijn, zijn weg en werk. Kampen: Kok, 1982, 110–112.
De Jongh, Otto J. Geschiedenis der Kerk. 1980.
De Rover, P.A. sj. Calvijn, de reus uit Noyon.
Du Toit, S. Handleiding vir studie van die Kerkgeskiedenis. 1970.
Grosheide, F.W. (red.) Geschiedenis der Kerk, deel 2.
Kriel, L.M. & Gerdener, G.B.A. Kerkgeskiedenis vir ons volk, p. 63.
Landwehr, J.H. Handboek Kerkgeschiedenis, deel 3, 1924, p. 73.
Maritz, Manie. My lewe en strewe. 1938, p. 191.
Pont, A.D. Kerkgeskiedenis. 1968.
